Departement besorg oor ontwrigtings by skole in Gauteng

Panyaza Lesufi, LUR vir onderwys in Gauteng (Foto: Oupa Mokoena/African News Agency (ANA)

Die Gautengse departement van onderwys het Dinsdag gesê hulle neem met kommer kennis van ontwrigtings by skole in Eldorado Park en Noordgesig.

“Die South African Democratic Teachers Union (Sadtu) van Gauteng-Sentraal het Maandag ʼn staking versoek teen beweerde rassisme by Eldorado Secondary School ná sewe onderwysers deur die skoolbeheerliggaam verhoed is om na die skool terug te keer,” het die departement in ʼn verklaring gesê.

“Die staking is gelukkig afgelas ná die nasionale kantoor van Sadtu ingegryp het en sy lede versoek het om nie aan die staking deel te neem nie.

Opleiding en klasse is egter reeds by die skole ontwrig.

“Ons loof die nasionale leierskap van Sadtu dat hulle vinnig ingegryp het en bevestig dat onderrig by die skole intussen hervat het.”

Die departement het gesê dit is baie belangrik dat enige verlore kurrikulumtyd so vinnig as moontlik ingehaal moet word en soortgelyke ontwrigtings word ontmoedig.

“Ons doen ʼn beroep op die skoolbeheerliggaam en die gemeenskap van Eldorado Park om die sewe onderwysers te aanvaar sodat die nodige integrasieproses afgehandel kan word.”

Panyaza Lesufi, LUR van onderwys in Gauteng, het gesê hy is beïndruk deur die beheerliggaam van Bryanston High School dat hulle vinnig reageer het op bewerings van seksuele aanranding. “Die beheerliggaam het die onderwyser geskors hangende die afhandeling van die ondersoek oor die mishandeling wat na bewering tussen 2017 en 2018 plaasgevind het.”

Die onderwyser se verhoor sal vroeg in Februarie plaasvind.

Die saak word ook deur die Suid-Afrikaanse Polisiediens ondersoek.

In nog ʼn voorval het die departement gesê hy is geskok en neem met hartseer kennis van ʼn motorongeluk waarby skoliere van Jabulani Tech Secondary School in Soweto betrokke was. Die bestuurder van ʼn Subaru het glo beheer verloor oor sy motor en in ongeveer 20 leerders ingeploeg wat Maandag langs ʼn besige pad gestap het. “Die leerders is na Chris Hani Baragwanath-hospitaal en ander klinieke geneem vir verdere behandeling. Een van die skoliere is kritiek beseer.”

Die departement veroordeel die bestuurder vir roekelose gedrag naby ʼn skoolomgewing.

Aan die Oos-Rand is daar by die departement se Gauteng-Oos-distrikskantoor in Springs ingebreek. Diewe het ongeveer 29 rekenaars en 6 rekenaarskerms gesteel. Geen skietery of beserings is aangemeld nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Wessel ·

Nou ja vat dan die “die ontwrigters” vas, hulle is nie skoliere nie, ook nie ouers nie, so wat soek hulle daar? Terloops ek hou van die nuwe sagte woord “ontwrigters”, die ander woorde soos oproeriges ens was darem so kru.

Paul ·

Lesufie, agteraf stook jy, maar as jy aan die voorkant staan het jy ‘n brandweeremmer in die hand. Nou nie dat dit ‘n vaal kol sal maak nie.

John ·

Gaan dit al beter in die land? Baie skole het nog nie eens met onderrig begin nie. Barbarisme, aggressie, swak dissipline, rassisme, disorganisasie, seksuele vergrype, skelmstreke, onbeheersdheid, wanorde, vervallenheid, diefstal, onvergenoegdheid, morsigheid… SA gaan nooit ooit weer ‘n eersteklas-land wees nie.

Cherokee ·

Die titel van die berig wat praat van ontwrigtings by skole met ‘n foto van die ontwrigter is heel van pas.

Hennie ·

Lesufi bedank asb dat iemand met meer wysheid en insig kan aangaan

Johan ·

Sommige BL’s dink hulle rol is om te “hire and fire”. Hulle taak is nie om die Onderwys program by ‘n skool te reguleer en van ongewilde onnies ontslae te raak nie. Baie van hierdie BL’ s besef nie wat is hulle werklike taak nie. Gee hulle die nodige informasie dat hulle hul taak reg aanpak.
Die ontwrigtings by skole is ‘n baie groot “no no”. Daaroor het almal by verskeie kere op die gevare daaraan verbonde uitgewys.

Manie ·

Hierdie lesufi is soos die anc soos die skole eenvoudig treurig. Gaan sit liewer en beplan die bou van skole dat jy nie die einde van die jaar weer Afrikaanse skole wil dwing om die taal van die onderdrukker te gebruik

Alida ·

Ek is nie seker of hier ras ter sprake is nie maar afsonderlike ontwikkeling het vir my in die verledr nogal so reg geklink. Geen rasse probleme nie.

ZET ·

Dit is n skool met meestal bruin leerlinge en nou wil die department swart onderwysers
daar plaas.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.