Departement bestee R11 m. aan matriek-studiekampe

Argieffoto

Die departement van onderwys in Noordwes het R11 miljoen betaal vir graad 12-studiekampe in Matlosana en sal ouers wat reeds vir dié kampe betaal het, vergoed.

LUR Mmaphefo Matsemela het Woensdag gesê die beheerliggame en ouers van matriekleerders in Kanana, Khuma en Jouberton het in aanloop tot die Nasionale Senior Sertifikaat- (NSS-)eksamen ooreengekom om studiekampe as ʼn veiligheidsmaatreël vir hul kinders te begin aangesien bendes in die omgewing gedreig het om hul eindeksamen te ontwrig.

Ouers het die onderskeie skoolhoofde van dié skole genader en aangebied om R1 500 per leerder te betaal om voorsiening te maak vir verblyf en maaltye vir die leerders gedurende dié studiekampe.

Volgens Matsemela het die departement egter besluit om die inisiatief te ondersteun en kampe aan leerders te voorsien wat goed toegerus is vir die voorbereiding van die eindeksamen.

Volgens Matsemela het die departement R11 miljoen betaal om voorsiening te maak vir 2 135 leerders wat geregistreer het vir een van drie studiekampe in die provinsie. Milner High School in Klerksdorp huisves geregistreerde leerders van vier skole terwyl Vaal Reef in Orkney die leerders van tien skole huisves. Camelot huisves op sy beurt die geregistreerde matrieks van vier skole in die provinsie.

Die kampe bied drie maaltye per dag aan leerders asook onderwysers om hulle te help met hul studies.

Die kampe het elkeen ʼn kliniek, voldoende eksamensale, ʼn kombuis en eetlokaal, asook sportgeriewe op die perseel. Daar is ook ʼn voltydse tegniese span en 300 veiligheidswagte by die kampe ontplooi om die leerders se veiligheid gedurende die eindeksamen te verseker.

Leerders sal 37 dae in die onderskeie kampe deurbring tot die skryf van die laaste vraestel op 28 November.

“Ek wil ons gemeenskappe aanmoedig om leerders die nodige ruimte te gee en nie leerders te steur wanneer hulle hulle voorberei op die eksamens nie,” het Matsemela gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Frm ·

Uitstekend. Net jammer nog R11m moet “gemors” word omdat die sapd nie beheer oor die bendes kan kry nie. Ai waar gaan dit tog eindig?

M ·

Moenie die SAPD die skuld gee nie. Dis die hele regering se skuld dat ons land in die gemors is.

Varkie ·

Klink vir my na nog n geld maak foefie, die tiepe goed spring deesdae soos paddastoele op.. en daai wagte beteken niks, want so lank as wat hul bewapen is met net n knuppeltjie kan enige iemand daar in wals met n paar pistole en studente beroof, hoop dis nie die geval..

Anita ·

Wat n uitstekende inisiatief van die department en ouers. Sterkte aan hierdie leerders

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.