Departement besweer vrese oor varkgriep

(Argieffoto: Pixabay.com)

Die Gautengse departement van onderwys het Woensdag gesê berigte van ʼn varkgriepuitbreking in die provinsie is onwaar.

Dr. Bandile Masuku, LUR vir gesondheid in Gauteng, sê die departement het die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes (Nios) versoek om onbevestigde bewerings dat talle mense in die provinsie varkgriep opgedoen het, te ondersoek.

“Ek wil die publiek gerusstel dat daar geen uitbreking of verspreiding van die siekte is nie en bevestig weer die Nios se verslae oor Suid-Afrika se 2019‑griepseisoen. Die verslag stel dit dat die land hoë vlakke in die virus watch-program bereik het en daarom doen ons ʼn beroep op inwoners om by die naaste mediese fasiliteit aan te meld indien hulle simptome van varkgriep ervaar,” het Masuku gesê.

Dié simptome sluit in koors, hoes, seerkeel, loopneus, kortasem, uitermatige moegheid en swakheid, hoofpyn, spierpyn en liggaamspyne, kouekoors en sweterigheid.

Masuku het die publiek herinner dat elkeen kan help om die verspreiding van enige siektes te beperk deur jou mond en neus te bedek wanneer jy hoes of nies, dadelik ontslae te raak van gebruikte snesies en hande gereeld met seep te was.

“Die departement doen ook ʼn beroep op weerlose mense soos kinders, bejaardes, mense met chroniese siektes, asook MIV‑positiewe pasiënte, om by hul naaste gesondheidsfasiliteit aan te klop vir ʼn griepinenting.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

28 Kommentare

Tanel ·

Ek wonder net as daar geen uitbraak van Varkgriep is nie, hoekom le my dogterjie dan in die hospitaal daarmee. En hoekom het my ma dit dan 3 weke gelede gehad. En dan wonder ek ook hoekom daar tans ‘n tekort is aan Tamiflu as niemand nodig het om dit tw gebruik nie.

Jessica ·

My dogtertjie was laas maand vir 2 weke in die hospitaal. Sy het kinkhoes en moes ons hele huis antibiotika kry. Ons bly in Pretoria. En die gevalle styg. Dit word onder die mat ingevee. My vriendin het gorreroos en bly ook in die ooste. Ek gisteraand gehoor van n tannie in die moot wat nou gorrelroos het. Hier is verseker n uitbreking van n paar siektes wil dit my my voorkom.

Gert van Wierdapark ·

Dis darem goeie nuus vir Gauteng! Op n ander trant – Kan die LUR van Gesondheid nie hy Onderstepoort aanklop vir hulp sodat ons ‘n In-Entingsmiddel kan kry nie? Indien verkeers-polisie so ‘ n Ent-stof tot hul beskikking kan he om Pad-varke mee in te ent soos en wanneer nodig, sal dit ander padgebruikers se lewens baie aangenamer maak!!! (No-Bell prys vir pad-vrede in SA is op die spel!)

Lienkie ·

As julle weet hoeveel van die intentings wat van OP af faal, sal julle dit nie sommer so goedsmoeds voorstel nie. Die Bloutong en Afrika perde siekte is net 2 daarvan!

Sinies ·

Onderstepoort se entstowwe word nie op datum gehou nie dus is die werking uiters beperk.
Dit help glad nie vir die jongste mutasies van siektes nie.

John ·

Dis nie ‘n grap nie! Ons mediese dienste is in chaos en siekte floreer tydens ontkenning. Die nuwe minister van gesondheid is ‘n teleurstelling… een wat skaars Engels kan lees. Waarom is hy gekies Is hy Lesufi vir die ongesondheidsektor. Dit spel moeilikheid. Masels en ebola broei bo in Afrika. Al waarop die ANC nou hoop is dat die private mediese dienste nou gegryp sal kan word vir meer in die sak.

Sê maar net een ·

Hul gee nie meer eens om a die publiek weet hul lieg nie. Witbank 100km vanaf PTA en JHB het 2 skole (wat ek gesien het), omsendbriewe uitgestuur dat daar gevalle is met varkgriep.

ZAR ·

Ek is bewus van een persoon met varkgriep in Vanderbijlpark. As die LUR so openlik kan lieg, dan stel ek voor die mense pas hulleself mooi op en vis uit oor die stand van sake in hul dorp.

Brenda ·

O aarde ! As die regering ( veral die Gesondheids portefuelje se daar is NIE n probleem ni e, dan moet mens weet n PROBLEEM is reeds daar…

Kosie Kabeldief ·

Dan maak dit 6 waarvan ek weet…5 van ons 14 kantoor werkers is tuis weens Varkgriep,een is nog in Vdbp Kliniek opgeneem met Varkgriep wat Brongitis insluit…sterkte.

GM ·

Hy praat nonsens, ‘n dokter in Krugersdorp het bevestig dat varkgriep die rondte doen. Daar is glo al ‘n skoolkind in daardie omgewing dood daaraan.

Lienkie ·

Dit was bevestig as longontsteking en NIE varkgriep nie. Deur beide die seun se dokter en sy ma. Maar dit is die tipe goed wat onnodige massa histerie veroorsaak en dat almal na Tamiflu gryp en daar ‘n tekort is

Antie ·

En waarom was daar so 4 weke terug by ons laerskool 23 leerlinge van 37 siek van varkgriep???? Gr 2 klas was gesluit vir 2 en half weke, klas ontkiem en skool het leerders weer hervat vanaf Maandag.

Feite ·

Aangesien my kind een van daai klas was wat siek geword het dink ek net my en jou se feite verskil.
Volgens wat ek kennis dra was die klas vir n week gesluit (vanaf Woensdag tot woensdag)
Dit was presies 3 weke terug vandag
Ons moet maar vesigtig wees wie op watse wa ons spring aangesien ñ paar ouers op daardie wa gespring het van histerie gespring het
Ons almal se kinders is ons pot goud

Feite ·

Ek is een van daai wat wel siek was / weer wil word…
Ongelukkig is daar Dr’s wat op die wa klim saam met pasiente wat dit wil hoor.
Jy beleef al die simptome en dan gaan jy vir toetse met lekker mediese onkostes en dan nee jy het nie H1N1 / varkgriep nie.
Daar was selfs ñ werkswinkels oor higiëne en gesondheid wat ek bygewoon het het hul oor winter siektes gepraat met n waarskuwing…
Die man het niks genoem watse siekte nie. Ons was net mooi vertel dat die winter se siekte baie erg gaan wees en mense moet hul laat inent.
Ek weet jy kry pos toetse maar almal spring op die wa en daar is nie plek vir almal nie so mense moet rustig word oor dit
ñ Goeie kursus antibiotika met kortisoon en sommer andolex c met koors medikasie sal die ding doen onder jou dr se hand MAAR jy gaan nie so gou dood nie al voel dit so met al die selfbejammering wat saam by die voordeur ingekom het.
????

Nommer Sewe ·

Die probleem vererger omdat dit die Departement van ONDERWYS is wat kommentaar lewer op GESONDHEIDskwessies – Maroela, is it reg? :-)

Kalahari ·

Ek vertrou glad nie die regering nie. Kyk wat het gebeur met listeriosis wat uit gebreek het… Eers nadat hoeveel mense oorlede is daarvan toe maak hulle dit bekend….

jakes ·

Die vraag is eintlik of dokters weet wanneer dit varkgriep is of gewone griep? Die antwoord is voor die hand liggend, meeste van hulle weet nie.

Jan ·

Ek is bewus van twee kinders wat in Pretoria omgewing behandel is vir varkgriep?????

Wielspore ·

Dit is heeltemal waar dat ‘n persoon, indien enige hierdie jaar varkgriep kan opdoen. Die oorsprong van hierdie virus (en ander seisonale virusse) kom uit Europa se winter seisoen wat tans alreeds verby is. Daar word die in-enting gemaak en versprei, hierdie jaar was dit nie nodig om enige nuwe varkgriep teenmiddel te ontwikkel.
Indien iemand in SA nou ernstige griep ontwikkel is dit agv komplikasies.
Gebruik gerus 1000mg vitamien C bruis tablette, dit gee jou liggaam goeie soldate.

GM ·

Lienkie, ek sien nou die berig dat die spesifieke kind aan longontsteking dood is. Maar ‘n Dr. in Krugersdorp het wel bevestig dat daar gevalle van varkgriep in die omgewing is (Hy was nie die een wat ons van die kind vertel het nie, bygesê).

Mens moenie histeries raak nie, maar mens kan ook nie altyd glo wat uit die LUR of onderwysdepartement se monde kom nie. Met hoeveel goed maak hul of dit nie so erg is nie, of hul ontken dit, dan is die teendeel eintlik waar?

Ek glo dis beter om op jou hoede te wees, as om net goedsmoeds te aanvaar wat hul sê – al die dokters oraloor kan nie al hul pasiënte verkeerdelik diagnoseer nie. Dit is my beskeie mening.

Mag jul almal gesond bly die komende winter :-)

lynnette ·

Ag asseblief, my seuntjie van 6 was verlede week opgeneem by die hospitaal vir bloedtelling te hoog en asemhaling baie laag, hy was op oxygen gewees vir 5 dae, Dokter het gese hy het swine flue. Dit is nie GRIEP nie, dit is varkgriep.

Topster ·

Wat het die departement van onderwys met varkgriep te doen ek sou sê die dept van gesondheid sou so uitlating kon maak of staaf
Of lees ek die eerste sin verkeerd

Josua Keys ·

My vrou is ‘n sister in ‘n private hospitaal en sy werk die afgelope paar weke daagliks met die gevalle, waarom die departement dit wil ontken weet ek nie dit is beslis ‘n probleem. Al word net een kind daarmee gediagnoseer is dit dadelik ‘n probleem, een of twee gevalle kan in duisende omskep word in minder as ‘n week as dit nie vroegtydig behandel word of voorsiening in plek gestel word om dit te keer nie, somige gevalle is minder ernstig ander weer ermstig. Erken eerder dat daar n probleem is en lig mense vroegtydig in hoe om dit te voorkom voordat jy dit ontken en oor n maand met n groot krisis sit wat die staat duisende rande gaan kos.

Gert van Wierdapark ·

Hoe moet die arme varke nou voel wat vir die griep verantwoordelik is? =soos Varke!

Jax ·

Die Wes-Kaap loop ook deur. Twee vriendinne by die dood omgedraai. Nog vier wat ek ken, lê met varkgriep. By ons werk ook heelwat mense wat tekens toon.

Wens mense wil tuis bly tot hulle gesond is en base moet besef dat die gesondheid van hul werkers belangriker is as geld!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.