Departement betaal 21% meer as markprys vir tenderdiesel

Foto: Pieter Cloete/Maroela Media

Die VF Plus meen dit is skokkend dat die departement van landbou in Noordwes vandag ruiterlik erken het dat hy 21% meer as markprys vir diesel betaal wat by tenderpreneurs aangekoop word.

Hierdie feit het aan die lig gekom tydens ʼn oorsigbesoek van die parlementêre ad-hoc komitee oor ramp- en vloedeverligting aan Deelpan in Noordwes.

ʼn Woordvoerder van die departement, assistent-direkteur Sebo Kolodi, het in antwoord op ʼn vraag van die VF Plus erken dat die departement bykans R1,76 miljoen betaal het vir 67 000 liter diesel (R26,26 p/l), in stede van die markprys van sowat R1,43 miljoen (R21,33 p/l) ten tyde van die aankope.

“Die oorbesteding op tenderpreneurs het daartoe gelei dat 15 000 liter minder diesel aangekoop is weens die opgeblase tenderprys,” sê Fanie du Toit, VF Plus-LP. “Die diesel was bestem vir ‘opkomende’ en bestaansboere wat baat vind by die departement se rampverligtingprogram nadat die Deelpan-gebied vroeër oorstroom is.”

Dit het uit verdere vrae geblyk dat hierdie onaanvaarbare tenderpraktyke in Noordwes se landboudepartement eerder die reël as die uitsondering is.

Die ad-hoc komitee oor ramp- en vloedeverligting sal die ouditeur-generaal (OG) versoek om die tenderpraktyke in die departement te ondersoek met die oog op verdere stappe.

“Hierdie vermorsing van belastinggeld op ANC-kaders en tenderpreneurs ten koste van die inwoners van Noordwes is ʼn skande. Die VF Plus sal voortgaan om te stry vir goeie regering in ʼn korrupsievrye omgewing. Die inwoners van Noordwes verdien beter as die ANC.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

annie ·

Gaap! Wat vertel julle ons? Kan dit waar wees? Nooit gesien nie! En wat meer is dit gaan nooit ophou nie. Dit is ‘n genetikale entstof ontgin iewers bo in Afrika.

Martie Smartie ·

Dit gaan al donkiejare so aan, waarom is hulle nou geskok?

Blom ·

Die hemel weet, niks verbaas my meer in die land nie. Skokkend, berig op berig.

Eugene ·

Ek hoop maar dat hul met die volgende verkiesing die tender prossesse skraap. Dit raak nou belaglik.

ES ·

Hierdie vlak van korrupsie is al amper algemeen. Die probleem is dit “skok” almal vreeslik elke liewe keer wanneer dit oopgevlek word en daarna gaan almal maar net weer aan met hul lewens. Daar word niks daaraan gedoen nie.

Misky ·

Ek is ‘n boekhouer en waar ek vandaan kom, het jy koopkrag in groot maat. Pryse is veronderstel om minder te wees as aan die gewone publiek. Nie die klomp narre nie, nee!!!!

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.