Departement bevestig ingewandskoors in Gauteng

Argieffoto

Argieffoto

Die Gautengse departement van gesondheid het Sondag vier gevalle van ingewandskoors in Johannesburg bevestig.

Die vier gevalle is in Hillbrow, Yeoville, Edenvale en Palm Springs aangemeld. Twee van die sake is by die Charlotte Maxeke- Akademiese Hospitaal aangeteken en die ander twee by Edenvale-distrikshospitaal.

“Een van die persone, ʼn 27-jarige vrou van Malawi, is verlede week Sondag [17 Januarie] by die Charlotte Maxeke-hospitaal oorlede,” het die departement in ʼn verklaring gesê. “Sy het drie weke vantevore na Malawi gereis vir die vakansie en het Dinsdag, 12 Januarie, deur Mosambiek na Suid-Afrika teruggekeer.”

Die vrou het op 14 Januarie by die Hillbrow-gemeenskapgesondheidsentrum aangemeld weens koors, hoofpyn en vomering. “Sy is aanvanklik vir malaria getoets, maar omdat die uitslag negatief was en dit nie gelyk het of sy vreeslik siek is nie, is sy ontslaan en versoek om terug te keer indien die simptome voortduur.”

Volgens die departement is toetse vir ingewandskoors (buiktifus) nie gedoen nie, aangesien dit nie gereeld in die gemeenskap voorkom nie.”

Sy het die volgende dag teruggekeer na die kliniek, omdat sy sieker gevoel het en sy is verwys na die Charlotte Maxeke-hospitaal. Sy het die volgende dag [16 Januarie] by die hospitaal opgedaag en gekla van ʼn erge koors, hoofpyn en gewrigspyn. Sy is op 17 Januarie oorlede. “Toetse het bevestig sy is aan ingewandskoors oorlede,” het die departement gesê.

Nog ʼn pasiënt, ʼn 16-jarige Suid-Afrikaanse meisie, is op 19 Januarie by Charlotte Maxeke-hospitaal opgeneem. Sy het gekla van koors, hoofpyn en vomering. Sy is dadelik met ingewandskoors gediagnoseer. Sy ontvang tans behandeling en is in ʼn stabiele toestand. Sy sterk aan.

“Sy het nooit uit die land of buite Gauteng gereis nie,” het die departement gesê.

Twee meisies van Zimbabwe, onderskeidelik 11 en drie jaar oud, is onderskeidelik op 13 Januarie en 22 Januarie by die Edenvale-distrikshospitaal opgeneem. Albei het klagtes gehad van koors, hoofpyn, lyfpyn en algemene pyn. Hulle is albei ook gediagnoseer met ingewandskoors. Hulle is stabiel en sterk aan. “Die twee kinders het op 12 Januarie van Zimbabwe teruggekeer nadat hulle die land vlugtig besoek het.”

Ingewandskoors (buiktifus) is hoogs aansteeklik en word versprei deur besmette kos en water in te neem. Dit kom algemeen in gemeenskappe voor waar daar nie voldoende sanitasie is nie. Swak persoonlike higiëne bevorder ook die verspreiding van die siekte.

Dit is veral belangrik om hande te was voor kos voorberei word.

Simptome van ingewandskoors sluit hoë koors, hoofpyn, gewrigspyn, en abdominale ongemak en soms vomering in.

Qedani Mahlangu, LUR vir gesondheid in Gauteng, het gesê ʼn uitbrekingsreaksiespan is geaktiveer om die sake op te volg en te bepaal of daar ʼn gemeenskaplike bron was. “Ons wil die publiek gerus stel dat ons op hoë gereedheid is. Mense moet altyd hul hande was,” het hy gesê.

Die span sal ook spanne na die huise van die pasiënte stuur om te bepaal of enigiemand anders soortgelyke simptome toon. Drinkwater sal ook getoets word.

Jack Bloom, woordvoerder van die Demokratiese Alliansie, het intussen gesê hy is besorg oor die vier gevalle van ingewandskoors. “Dit is baie belangrik dat ons die oorsprong van hierdie vier gevalle moet opspoor,” het hy gesê. Hy het bygevoeg daar is ʼn bykomende kommer dat dit moontlik ʼn middelweerstandige vorm van tifoïed, genaamd H58, kan wees wat in Afrika en Asië ontstaan het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

GES ·

Dit is ook aan te beveel om ‘n goeie watersuiweringstelsel vir die huis te kry. Bly maar ook uit die riviere, sommige is erg besmet.

Berhalet Beukes ·

Ja, kom kuier gerus in ons pragtige land… Bring julle virusse, moordenaars, verkragters en so meer saam… Ons is ‘n reënboognasie… Ons sal jou ‘n paspoort gee solank jy ANC stem. As jy PR ongeluk ons landsburgers bestem, vermoor of verkrag sal ons rassisme en apartheid die skuld gee. Terloops, ons is die grootste kontinent ter wêreld en een rivier sny ons in die helfte nie, die xenofobiese aanvalle was ‘n leuen wat witmense vertel het omdat ons met st 1, slimmer as selfs Einstein was! Welkom, welkom in ons wêreld!

Grassie ·

Berhalet – jy is in ‘n verwoestende bui vanoggend. Ek stem saam met alles wat jy sê. Ek is al moeg daarvoor om die waarheid elke keer so ‘n bietjie te versag, om ‘n bietjie suiker by te gooi om dit aanvaarbaar te maak. Dit is lekker om dit ‘n slag reguit, kaalkop en op die man af te hoor.
Doet so voort.

Berhalet Beukes ·

Grassie… Die waarheid is dan tóg mos die waarheid… Mens kan allermins nie elke dag die koerant lees en voel jy moet jou kop in ‘n gat druk omdat daar net geen balans meer te vinde is nie! ;-)

Stan ·

Klink of ons belasting betalers baie geld opdok vir buitelanders!!

alida ·

Die water is dan besmet met rioolvuil!!!! Wat verwag die mense!!!!

m ·

Skitterend Berhalet. Ek het nou so lekker gelag, my dag is gemaak. So waar wat jy daar se…

Berhalet Beukes ·

Jong… Mens raak maar soms vies… Bly ek kon jou laat lag! ;-)

Justa ·

So sal die buitelanders allerhande siektes na ons versprei. Dis mos n “free for all” en die belastingbetaler ‘foot’ die ‘ bill’.

Theresa ·

Sies. Nie ‘n wonder ek spoel tot my gekoopte geblike verpakte kruideniers ook af voor wegpak nie. Wie bestry die plae wat so in die kampe inkom waar mense na hartelus bly sonder toestemming? Enige een ‘n idee??

Leon ·

Ek wonder of daar nie dalk ‘n verband is tussen die skielike uitbreek en die onlangse ophoping van vullis agv PikitUp se stakings nie? Ek meen vullis (en dink net wat alles in die “vullis” beland…) het in die son gelê en kook – nugter weet watse siektes daar kon uitbroei?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.