Departement bevestig twee varkkoors-gevalle

Argieffoto (Foto: skeeze, Pixabay)

Argieffoto (Foto: skeeze, Pixabay)

Die departement van landbou, bosbou en visserye het Vrydag twee afsonderlike gevalle van Afrika-varkkoors (African swine fever) in Suid-Afrika bevestig.

Die departement het gesê die Landbounavorsingsraad (LNR) by Onderstepoort- veeartseny-instituut (OVI) het Donderdag die twee gevalle bevestig.

Makenosi Maroo, woordvoerder van die departement, het gesê die twee gevalle is onderskeidelik in Ipelegeng- informele nedersetting naby Schweizer-Reneke in Noordwes en op ʼn plaas naby Koffiefontein in die Vrystaat aangemeld.

Volgens Maroo het “ʼn groot aantal varke tekens van die siekte getoon en veeartse is ontbied om ondersoek in te stel”. Hulle het monsters geneem wat na die LNR-OVI gestuur is vir ondersoek.

“Die twee gevalle blyk nie verwant te wees nie,” het Maroo bygevoeg.

Die departement maan varkeienaars, veral diegene in die omgewing van die uitbreking, om bedag te wees. “Kontak moet met wilde varke vermy word, aangesien die siekte vinnig tussen besmette varke oorgedra word.”

Sy het gesê varke by varkboerderye is hoogs vatbaar en meeste sal vrek kort ná hulle besmet is. ʼn Klein aantal van die varke kan dalk oorleef en vir ʼn paar maande lank steeds die virus dra sonder enige simptome, maar sal dan ander varke besmet waarmee hulle in kontak kom.

Maroo het gesê die Wet op Dieresiektes het ʼn verbod daarop geplaas dat afval aan varke gevoer word, tensy dit gekook word om alle bakterie en virusse dood te maak wat aan die varke oorgedra kan word.

Sy het gesê daar is ook beheermaatreëls in die varkgriep-sone om te verhoed dat varke by varkboerderye in kontak kom met wilde varke. Maroo het gewaarsku ʼn epidemie kan ontstaan indien die virus onder wilde varke versprei wat tot uitbrekings kan lei wat handeldryf met varkprodukte in die land kan beïnvloed.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Joann ·

Wat is die tekens en simptome? Ek dink ek het dit,moeg,vaak,koud en wil net iets he om te eet. Lmga

John ·

Hoe affekteer dit mense? Wat is die kans dat besmette varkvleis op winkelrakke beland? Varke is hoeka daarvoor bekend dat hulle siektes dra, vandaar dat die Bybel die Jode gewaarsku het daarteen. Ons land se gesondheidstelsels stort ineen. Ons moet oppas!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.