Departement en skool in hof oor Engelse leerders

Steve Mabona, woordvoerder van die Gautengse departement van onderwys. Foto: ANA

Die Gautengse departement van onderwys en Hoërskool Overvaal in Vereeniging het mekaar Dinsdag kaalvuis in die hof gepak oor die toelating van Engelssprekende leerders vir die  akademiese jaar 2018.

Hoërskool Overvaal het die hooggeregshof in Pretoria genader nadat die departement opdrag gegee het dat 55 bykomende Engelssprekende leerders in 2018 by die skool toegelaat moet word. Die leerders is toegang geweier en die skool voer aan hy is vol en het nie die nodige hulpbronne om vir Engelse leerders voorsiening te maak nie.

Die departement voer egter aan dit is onwaar dat die skool vol is. Steve Mabona, woordvoerder van die Gautengse departement van onderwys, het gesê die departement het bewyse wat daarop dui dat die skool nog leerders kan inneem.

“Wat belangrik is, is toegang tot onderwys vir al ons leerders. Wat ons sê, is dat daar plek is by daardie skool; ons het bewyse daar is plek. En daarom moet die leerders daar toegelaat word,” het Mabona gesê.

Hy het gesê dit is vreemd dat die skool weier om Engelssprekende leerders toe te laat omdat die departement volgens hom ʼn onderwyser en leermateriaal vir die skool aangebied het. “Ons het hulle nie opdrag gegee om hul onderrigtaal te verander nie. Ons het net gesê ons moet tweetalige onderrig kies wat Engelssprekendes sal kan hanteer en ander mense toelaat om aansoek te doen by die skool.”

Mabona het gesê slegs die departement kan verklaar dat ʼn skool vol is.

Thloriso Mofokeng, een van die ouers van die Engelssprekende leerders, meen die probleem is eintlik ʼn rassekwessie. “Daar is baie rassisme in daardie gebied. Ons glo hulle doen dit om ons kinders van toegang tot die skool te ontneem,” het Mofokeng gesê.

“Ons baklei al sedert 1992 oor hierdie kwessie. Die rede hoekom ons op hierdie skool fokus, is omdat dit die enigste hoërskool in ons gebied is wat ses buurte kan dek. Die ander hoërskool is baie ver [van ons af]. Dit is tydrowend vir ʼn kind om 04:00 wakker te word vir skool wat 08:00 begin. Dit is nie regverdig vir ons of ons kinders nie. Dié skool is ʼn staatskool, nie privaat nie.”

Regter William Prinsloo het die saak tot Donderdag uitgestel nadat die departement die uitstel versoek het omdat hulle kans nodig het om op die aansoeker se beëdigde verklaring te reageer.

“Dit blyk dat daar ʼn kommunikasiegaping tussen die staatsprokureur en die respondente was wat daartoe gelei het dat die respondente nie hul beantwoordende verklaring betyds ingedien het nie. Dit sal regverdig wees om die saak tot Donderdag uit te stel om vooroordeel te voorkom. Hierdie saak moet op die een of ander manier tot ʼn einde kom,” het Prinsloo gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

33 Kommentare

Lizél ·

Die staat se plan met elke ander Afrikaans medium skool. Kyk maar na Ermelo Hoërskool….

Dries ·

Afrikaanse skole het dubbele standaarde en dit kelder hulle. As daar 400 Afrikaanse kinders was wat aansoek doen dan sal hulle almal inneem en hulle toelatingsbeleid ignoreer. In hierdie geval is dit reeds ‘n skool wat aan die leegloop is wat skielik nie plek vir 50 Engelse kinders het nie. Hierdie praktyk gebeur orals. Naburige Afrikaanse skole sal ver bo hul toelatingsbeleid se voorgeskrewe getalle kinders inneem, al beteken dit dat die ander Afrikaanse skool ly as gevolg daarvan.

Jacques venter ·

Jy sit met n catch ,22 situasie. Die onderrig in tradsionele swart skole is uiters swak.
Gaan die swart kinders na die trafisonele wit skool verswelg die getalle later die skool. n Alombekende onderwys unie sorg dan vir verdere verval.
Oplossing die regering moet ingryp en van ongeskikte onprofessionele onderwysers ontslae raak

Dafer ·

Die oplossing is om nog skole te bou! Dit is eintlik AL oplossing wat daar is. Ek het al die kwessie aangemeld by Afri Forum. Hulle is kwansuis te besig met hierdie tipe van gevegte om nog skole gebou te kry! Bou skole – dit los werkloosheid op EN verskaf ruimte vir kinders en onderwysers!

andrea van vuren ·

Die hartseer van die saak is, bou vir hulle nuwe skole dan beroof en plunder hulle dit of brand dit af.

Charlene Theron ·

Daar is 5 swart engelse skole in Vereeniging en net 2 Afrikaanse skole. Waarna toe moet ons kinders. Die registrasie bepalings laas jaar het jou nie tot die Hoërskool toegelaat as jy nie in die omgewing bly nie. Die het niks met rassisme uit te waai nie dis bloot ons taal, kultuur en Christenskap wat behoue moet bly. Sonder dit wat is ons dan?

Boeremeisie ·

Impliseer jy dus dat swart mense nie Christenskap toepas in hulle skole nie? 5 Swart skole sê jy? Rerig van wanneer af is skole dan nou weer geklasifiseer as wit en swart. Moenie agter ons taal en tradisie wegkruip. Daar is baie skole wat tweetalig is waar die tradisies steeds vasstaan en die “Christenskap” steeds beoefen word.

Ronel ·

Dis presies my redenasie ook. Daar is hoeveel ander Engelse skole nie so ver van Overvaal af nie en selfs Drieriviere Hoër war Parallel medium is! Hoekom nou die hoërskool aanvat wat spog met ‘n baie goeie rekord wat matriekslaagsyfer aanbetref. Die is beslis nie ‘n rassistiese ding soos die een ouer beweer nie. Ek het 1997 matriek geskryf in Overvaal en toe WAS daar al anderskleuriges in die skool!?

Chrisjan ·

Een onderwyser addisioneel deur die Dept voorsien vir 55 leerders? Rêgtigwaar??? Watter deel van hierdie Wiskunde-som verstaan die Dept nie?

christiaan ·

Dit gaan nie hier oor rasisme nie alhoewel hulle dit sien as rasisme laat daai 55 in oky volgende nou gebeur daar n voorval dit raak hoofnuus alle koerante voorblad gee die skool n slegte naam en dan wer 200hofsake geen skool wil so nagmerie beleef nie jare terug dit kom al meer as 10jaar terug jy gaan na die skool die naaste aan jou huis nie net omdat jy wil na daai skool toe gan ni as dit skool naaste aan jou is sjap

Andre ·

Waar is de Klerk se eie skole, eie woonbuurte, ens nou?????

Petro ·

So ek lees ook iewers anders Mnr Lesufi se engelse materiaal sal afgelewer word voor 17 Jan en daar SAL ‘n engelse onderwyser aangestel word…nou wil ek maar net weet ..kan een omderwyser al wat ‘n vak is aanbied?? So verstaan mens beter hoekom die standaarde so pateties is….

Skole in huistaal ·

Wat ek graag wil weet is hkm die ANC nog nie in 20 jaar wat hulle die land regeer skole gebou het wat Zulu taal onderrig en Xhosa taal onderrig ens gee nie? Hkm is alle swart skole engels?

Frikkie Geld en huis ·

Mofokeng is dus ‘n Engelse van !! Ek glo van die Britte kan aanstoot neem.

Piet ·

Is maar net n totale aanslag op Afrikaans om dit heeltemal te laat verdwyn .Patroon is duidelik begin met paar Engelse wat geleidelik meer word en dan later onbeheerbaar met getalle meer as Afrikaans en dan word Afrikaans afgeskaf.

Jacques venter ·

Dafer
Jou voorstel maak sin.

Andre
Wanneer het De Klerk vir jou ” eie skole en woonbuirte” belowe?

Duitser ·

de klerk het die maan en sterre belowe om seker te maak hy verkoop die minderheid uit tipies afrikaner manier.

Tokkie ·

Ek persoonlik het destyds (1992) ‘n brief aan Dawie de Villiers geskryf en gewaarsku dat dit wat vandag in skole gebeur ons uiteinde gaan wees. Sy sekretaris Mnr Raubeheimer het my 11 in die aand gebel en die versekering gegee dat dit nooit met ons Afrikaanse skole sal gebeur nie – was hulle net kortsigtig of het hulle doelbewus gelieg?

Andre ·

@Jacques Venter: voor die oorgawe. Weet jy nie daarvan nie?

PJC ·

Hierdie is niks anders as opsetlike en stelselmatige verengelsing van afrikaanse skole nie en die absolute arrogansie waarmee dit gepaard gaan is genoeg om enige mens se bloed te laat kook.

M A ·

Mag ek dan net vra: is Engels die swart bevolking se moedertaal? Ek is in Engels opgevoed, al was ons huistaal Afrikaans en is glad nie spyt daaroor nie. Sover ek weet, het swart leerders nie n moedertaal keuse nie. Hierdie is eerder n kwessie van standaarde en kwaliteit opvoeding. Bygesê, you can’t make a silk purse from a sow’s ear (die Afrikaanse ekwivalent is hiervan is darem net te naby aan rassisme).

Jacques venter ·

Duitser
Andre het gesê dat De Klerk het eie woonbuurte en eie skole belowe.
Nou kom jy met maan en sterre. Duidelik simboliseer die “maan en sterre” vir jou iets anders.
Wees asseblief spesifiek en sê waarna jy verwys. Dankie

bgj van der westhuizen ·

wel hulle wil almal n die ou wit skole wees wand dit is in n goeie toe stand en nie af gebreuk en verniel soos hulle skole is by hulle woon areas nie

jaco ·

waarom die bohaai teen engels? verstaan afrikaanssprekende kinders dit dan nie? TV, facebook ens ens is alles engels. ek sien nie dat hulle daar met engels sukkel nie.
wees eerder bly die algemene onderrigtaal raak engels. dis darem n algemeen verstaanbare taal en oorspronklik n wit taal van onderdrukking wat deur wit europeërs op die inheemse mense van die ou british empire afgedwing is. Lag eerder vir die ANC wat maar net een “wit” taal van sogenaamde onderdrukking nou met ‘n ander “wit” taal van meel meer sogaamde onderdrukking vervang.
En wees sommer ook uiters dankbaar dat die onderrigtaal darem Engels is en nie Zulu of Tswana nie.
terloops ek sien nêrens dat sprekers van swart tale kla oor alles Engels word nie. ek sien ook nêrens dat afrikaanssprekende kleurlinge oor toenemende verengelsing kla nie. wit afrikaanssprekendes moet oppas: uiteindelik raak die onderdrukking op ons veel erger as tans omdat ons gebrandmerk gaan word as die enigste mense in SA wat reaksionêr is en wat teen “transformasie” is.

@ JACO ·

EK dink nie dit gaan soseer oor Engels nie aangesien alle AFrikaanssprekende kinders slim genoeg is om ENGELS te verstaan. Dit gaan eerstens oor die PRAKTIESE uitwerking daarvan. Jy besef as al die boeke tans in Afrikaans is dit in ENGELS aangekoop gaan moet word (waarvoor die Dept nie geld het nie) tweedens moet die ONDERWYSERS almal ENGELS gee .. so daar moet ENGELSE onderwysers aangestel word. Watter gedeelte daarvan VERStAAN JY NIE??? Neewat jy is ook maar net ‘n kleur in die REENBOOG wat later net swart gaan wees, geniet nog jou wit strepie vir solank jy kan. Glo my ENGELSE en AFRIKAANSE boere word vermoor .. gaan nie hier oor TAAL nie!

Jerry ·

Skole het geen keuse nie. Hulle moet instruksies vanaf die departement uitvoer, veral wanneer dit n onaanvegbare versoek is. Dit is beter om in situasies soos die saam te speel en die probleem te bestuur. Hoe meer jy jou teesit, hoe meer wys die vingers na jou dat jy die departement probeer mislei deur te se die bus is vol wanneer dit nie die geval is nie en dit wys weer op diskriminasie en dit weer op rassisme en so kan dit aangaan en aangaan. Dat Afrikaans en meerendeels die Afrikaner geteiken word is n gegewe. Die Afrikaner se teenstanders stel al hoe meer lokvalle en Afri-Forum hou aan om hoek en sinker daarvoor te val deur nie regdenkend te reageer tov die realiteite van die tyd waarin ons leef.

Vra maar net ·

Ek bly al vir jare in Falcon Ridge by Overvaal hoer en alby my kinders was daar op skool,. Dit steek my dwars in die krop dat Thloriso Mofokeng sê dit is n rassistiese area. Asb kry jou feite reg. Hoekom dan jou kind daaraan wil blootstel. Ons het nog nooit enige probleme gehad.. En 5minute verder is die ander Top skool Gimmies in Vereeniging. Nie nodig om ure te ry.. Prop te veel leerders in ‘n Top skool soos Overvaal en die standaarde sak na 33% .

Lolla ·

So ek wil nou byvoorbeeld in Orangefarm gaan bly, nou beter hulle n afrikaanse skool daar vir my bou, of hulle beter in afrikaans daar onderrig! Waar in jou lewe het jy gesien, when you go to Rome, THEY do as You wish from them… Trek terug Soweto toe man!

Jacques venter ·

Hallo Jaco
Wat jy sê maak deeglik sin. Hoe meer mense tekere gaan, hoe groter is die reaksie.
Dat Afrikaans en ander inheems tale gaan verdwyn is bitterlik jammer. Maar dis n gegewe waarmee ons moet saamleef

PsJakes ·

Ek bid dat Overvaal suksesvol sal wees. Agv so baie Afrikaans sprekendes wat NIE opstaan vir hulle taal nie, sit ons met al hoe meer instansies, skole en universiteite wat ver-Engels het. My taal is my taal en dit maak nie van my ‘n rassis nie. Gaan kyk na die sogenaamde Engelse skole in Vereeniging, hoeveel is werklik suksesvol. Meeste se dissipline is maar swak. Overvaal is en bly DIE Beste Afrikaanse skool. Bou so voort Valies, vat hulle tot by die hoogste hof. Departement kan duidelik nie tel nie. Valies Bo!

Trots Afrikaans ·

Die groter prentjie is om alle afrikaanse skole binne te dring met engels. Want so gaan die engelse kinders kla hul verstaan nie in die klas nie, dan beveel die departrment om n engelse klas te maak wat die skool in n dubbel of parallel medium rigting druk en sodoende meer engelse kinders lok.

Ek weet van soveel engelse ouers wat hul kinders in afrikaanse skole wil sit, omdat daar beter dissipline, toesig en waardes gehandhaaf word, maar dan moet daardie kinders bereid wees om in Afrikaans onderrig te ontvang, want dis juis die afrikaanse kultuur en dissipline wat die lokaas was.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.