Departement gekap oor moordbeskuldigde se uitlewering

Argieffoto

Argieffoto

Beamptes van die departement van binnelandse sake het Edwin Samotse se menseregte skreiend verontagsaam toe hulle hom aan Botswana uitgelewer het, het die hooggeregshof in Pretoria Dinsdag gelas.

“Dit is duidelik dat die drie beamptes van Polokwane prima facie daaraan skuldig is dat hulle die aansoeker se basiese regte tot lewe en waardigheid geskend het,” het regter Eberhard Bertelsmann gesê. “Hulle het ook sy reg geskend om ʼn moordverhoor te hê sonder die skaduwee van die galg.”

Bertelsmann het gelas dat Samotse se uitlewering onwettig en ongrondwetlik was. “Hulle [die beamptes] gaan dalk prima facie van poging tot moord aangekla moet word, aangesien hulle die aansoeker onregmatig blootgestel het aan die doodstraf.”

Regslui vir Menseregte en Regshulp Suid-Afrika het die hof genader in ʼn poging om die departement te dwing om Samotse in Botswana op te spoor en die versekering te kry dat hy nie die doodstraf opgelê sal word indien hy skuldig bevind word nie.

Samotse, ʼn gesoekte moordbeskuldigde in sy tuisland, is uitgelewer ondanks die feit dat ʼn Suid-Afrikaanse hof die uitlewering verbied het.

Bertelsmann het in sy uitspraak gesê Samotse het nie die geleentheid gekry om om met sy regsverteenwoordiger te konsulteer nie en is inderhaas uitgelewer. Hy het gesê die departement moes geweet het dat die uitlewering onwettig verklaar gaan word nadat Regshulp Suid-Afrika om ʼn interdik aansoek gedoen het.

“Om onder dié omstandighede die uitlewering te bespoedig kan prima facie beskou word as ʼn onwettige verdraaiing van geregtigheid, om nie eers te praat van minagting van die hof nie,” het Bertelsmann gesê.

Hy het die departement beveel om seker te maak dat kwesbare gedeporteerdes toegelaat word om met hul regsverteenwoordigers te konsulteer voor hulle uitgelewer word. Die departement het intussen gesê hy sal met sy eweknieë in Botswana kontak maak oor Samotse en teen 15 Oktober terugvoering gee aan die hof.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.