Departement gekap oor nóg ʼn hospitaal sonder water

Steve Biko-hospitaal Foto: pah.org.za

Die burgerregteorganisasie AfriForum eis antwoorde van die Gautengse departement van gesondheid oor die “lewensbedreigende waterkrisis” by die Steve Biko- akademiese hospitaal in Pretoria.

Die organisasie sê die hospitaal het tussen Sondag en Woensdag ʼn ernstige watertekort ondervind weens swak bestuur en swak instandhouding van waterpype. Daar was glo nie voldoende drinkwater nie en pasiënte moes brandslange gebruik om toiletbakke te spoel.

Jacques Broodryk, AfriForum se bestuurder van veldtogte, sê dit is skokkend dat die Gautengse departement van gesondheid drie dae geneem het om watertoevoer na die hospitaal te herstel.

“Dié soort wanbestuur is ʼn duidelike aanduiding van wat van die gesondheidsbedryf gaan word as die regering sou voortgaan met sy planne om nasionale gesondheidsversekering deur te voer. Die regering het met sy traak-my-nieagtige houding dit al telkemale duidelik gemaak dat hy eenvoudig nie ʼn duit oor Jan Alleman se welstand omgee nie,” sê Broodryk.

AfriForum sê hy het onlangs verneem dat die datums vir die mondelinge voorleggings oor nasionale gesondheidsversekering nog nie bevestig is nie.

Maroela Media het vroeër berig oor nog ʼn watertekort by ʼn hospitaal.

Johan Gerber van Gansbaai eis antwoorde nadat sy seun, Ivan Gerber (36), in die Robert Mangaliso Sobukwe-staatshospitaal in Kimberley dood is – glo omdat dié hospitaal ook vir drie dae sonder water was.

Ivan (36) moes op 15 April ’n opvolgoperasie ondergaan om sy buik skoon te maak nadat sy blindederm, wat glo heeltemal vrot was, op 14 April by dié hospitaal verwyder is. Die operasie moes egter vir drie dae uitgestel word omdat die hospitaal nie water gehad het nie.

Gerber glo dit is dié vertraging wat sy seun se lewe gekos het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Di ·

Wys my EEN plek wat in stand gehou word vanaf die ANC in bewind is. Als gaan net ten gronde. Skryende skande dat als in sak en as is.

Stof ·

Iets wat my hart breek, is dat ‘n instansie soos Afriforum wat werklik naby aan my hart is, in konflik kom met ‘n ander instasie wat net so na aan my hart is. Biko hospitaal: Daar waar ons bevoorreg is om te dien, hoop te sien, met dank kan sien dat ons arbeid vrug oplewer.
Ek wil nie en ek kan nie een bo die ander plaas nie. Ek kan nie. Maar ek treur.
Hartseer is nie goedkoop nie.

Anoniem ·

Dis presies waaroor ons in ‘n vorige berig ook gesels het. Ek verstaan die frustrasie, maar ons kan nie menselewens op die spel plaas as gevolg van ‘n eenvoudige dog lewensnoodsaaklike kommoditeit tekort soos water nie, veral nie in ‘n hospitaal waar higiëne van uiterste belang is nie. Jy hoef nie ‘n keuse te maak nie Stof, vra jouself net die eenvoudige vraag: Wat is die regte ding om te doen? Die lewe is vol moeilike besluite. Sterkte in ‘n moeilike omgewing.

tweeling ·

Wel Stof, ek kan jou sê daar is een van die instansies wat gaan vou en dit is nie Afriforum nie.

Stof ·

Ek deel die belewenis. En julle ploeter aanhoudend hier in met die sekulêre. Is die mensdom dan net vlees? Het ons nie emosie en en ervaringswaarde nie? Is ons roeping om te dien waar ons moet, dan benede die vooroordeel van sekululê vooroordeel.
As ‘n medemens dan veroordelend reageer as sy gelykgeskapene hom vertrou het met ‘n ervaring, maak dit ons multidimensionele bestaan soos Vader ons geskep het, fiktief?
As hartsdeel met ‘n medemens dan so verkeerd is, moet ons opbou om mekaar as mens te ondersteun in pyn-ervarings: Emosielose robotte word?
As die lesers my oorspronklike versugting mooi lees, sal hul sien dit gaan oor die belewenis van konflik tussen gelyke geliefde entiteite. Dit gaan nie oor die sekulêre redenasies wat ander daaroor voer nie.

Stof ·

Om ‘n af-duimpie te gebruik om ‘n dolk dieper in te druk, is wreed teenoor ‘n gelykgeskapene.
Als ik zecht: Hartseer is nie goedkoop nie.
Sela.

JohanR ·

Ek sou dink dat hierdie hospitaal eens op ‘n tyd ‘n lekker hospitaal was? Maar dit was seker in die dae voordat hy Steve Biko herdoop is!

Johann ·

ANC LEGACY! En die voorland van elke mediese diens, hoe suksesvol ook tans. Maar NASIONALISEER sal als gedoen word om die “revolusie” aan te vuur en voltooi. Weet net dat die “elite” kaders die wereld sal kan volvloeg vir donkerbrille en Panado.

Jakes ·

Hierdie sogenaamde bestuur van die hospitaal, was hulle ooit skool toe om opgevoed te word?

Jacobus ·

Een van Suid Afrika se top hospitale en akademiese opleidings hospitaal. Die verguising van standaarde is ‘n humanitêre skande. Intussen vind die magbeheptes tyd en energie om straatname te wil verander. Ek begin dink dinge kan nie beredder word nie. Oorverdowende moedeloosheid.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.