Departement gelooi oor blaps met brandstofprys

(Argieffoto bloot ter illustrasie: Pixabay)

Die departement van minerale hulpbronne en energiesake se brandstofprysflater het Suid-Afrikaners reeds meer uit die sak gejaag as wat nodig is en dit noodsaak die algehele hersiening van brandstofpryse, het die Automobiel-Assosiasie (AA) gesê.

Maroela Media het vroeër berig die departement het aanvanklik aangekondig dat die prys van petrol met 81c per liter styg, terwyl die styging eintlik net 75c per liter moet wees. Die styging het om middernag in werking getree.

Volgens die departement is die 6c-verskil toe te skryf aan die aanpassing van lone vir werkers by vulstasies wat reeds in September vanjaar in werking gestel is.

Talle motoriste het woedend op die fout gereageer en wou onder meer weet of hulle hul geld gaan terugkry.

Hoewel die flater intussen reggestel is, meen die AA dat ’n hersiening van die brandstofprys en beter deursigtigheid nou nodig is.

“Die fout deur die departement onderstreep die AA se oproep dat ’n algehele hersiening van die brandstofprys en ’n oudit van alle prosesse en komponente waaruit die brandstofprys bestaan, nodig is.

“Hoewel ons besef dat foute gebeur, moet die uitwerking van die brandstofprys op miljoene Suid-Afrikaners nie onderskat word nie. Hierdie fout moet trouens die katalisator vir so ’n hersiening wees.”

Die AA sê die feit dat daaglikse brandstofprysaanpassings van lede van die publiek weerhou word, beteken boonop dat daar geen deursigtigheid in die proses van brandstofprysbepaling is nie. Slegs die maandelikse prysaanpassing word tans vrygestel.

“Vantevore het die daaglikse aanpassings aan lede van die publiek ’n aanduiding van brandstofprysbeweging gegee, maar dit is nie meer die geval nie. Dít, tesame met hierdie fout deur die departement, ondersteun ons siening dat ’n hersiening van die brandstofprys lankal nodig is.”

Boonop het nie een van die vele mense wat die prysaanpassing moes hersien die fout raakgesien voordat dit amptelik aangekondig is nie, sê die AA.

“Ons sal voortgaan om die regering te druk om met só ’n hersiening te begin sodat alle verbruikers kan vertrou dat die pryse wat die departement deurgee wel akkuraat en regverdig is.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

22 Kommentare

jongste oudste gewildste
Tokkel

Blapse met petrolprys en blapse met elektrisiteit ook. Als gaan gedurig op enop, maar hierdie twee kom nooit af nie. Regering kry te veel geld uit petrol. R6 uit elke liter.

Pieter

Vat die skelm anc kommuniste hof toe hulle steur hulle aan nie mand nie

Pieter

Nee’ Tokkel, die regering kry R7,50 van elke liter petrol – nie R6,00 nie!

Baardman

Blapse met alles wat hulle doen

Nie Verbaas

Brandstof in Suid Afrika is tweede op die lys van Afrika lande. Net Zimbabwe is duurder en ons weet die land se ekonomie is in die grond. Duidelike aanduiding waarheen Suid Afrika onder ANC beheer op pad is. Swak Rand, heffings en belasting. Pragtig ANC.