Departement gereed vir eindjaareksamen

Argieffoto

Die departement van basiese onderwys het Dinsdag gesê hy het nasionale veiligheidsdienste betrek om hom te help met die administrasie van vanjaar se matriekeindeksamen.

Altesaam 796 542 voltydse en deeltydse kandidate is geregistreer om die eksamen af te lê.

Die departement het gesê opleiding is gedoen om goeie diens te verseker en die vraestelle sal volgens gestandaardiseerde riglyne gemerk word.

“Die departement het alles in sy vermoë gedoen om ʼn geloofwaardige nasionale seniorsertifikaat-eksamen met integriteit te verseker. Die departement van basiese onderwys het ʼn intensiewe hersiening gedoen van al sy stelsels en prosesse en beperkings wat vorige jare moontlik ʼn probleem opgelewer het. Al dié kwessies is deeglik aangeroer,” het die departement in ʼn verklaring gesê.

Die logistieke is uitgesorteer en die vraestelle is gereed. Die punte waar die vraestelle gestoor word op pad na die skole, is ook nagesien en geoudit. Al dié punte sal gemonitor word deur die nasionale en provinsiale departemente van basiese onderwys.

“Die departement het ook veiligheidsagentskappe betrek om teenwoordig te wees waar nodig en kan op kort kennisgewing reageer. Eksamensentra wat in vorige jare geïmpliseer is in enige tipe wanpraktyk sal ook deeglik gemonitor word. Opleiding is ook in die verband gedoen.”

Vraestelle wat uitgelek het, het vorige jare die geloofwaardigheid van die eksamen in twyfel getrek. ʼn Wiskunde-vraestel het in 2016 in Limpopo op WhatsApp uitgelek. Die inligting is ook aan leerders in Mpumalanga en Gauteng versprei. ʼn Lewenswetenskappe-vraestel het in 2015 in die Vhembe-distrik in Limpopo uitgelek.

Die departement sal vir die eerste keer vanjaar ook ʼn gebaretaal-eksamen bied aan 58 gehoorgestremde leerders in 10 skole. Die antwoorde sal met behoorlike toerusting opgeneem word.

“Ons voorsien nie enige probleme nie,” lui die verklaring.

Die eksamen begin Maandag met 37 340 leerders wat praktiese eksamens sal aflê vir rekenaartegnologie. Inligtingstegnologie-eksamenvraestelle word Dinsdag deur 4 170 leerders voltooi.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

jaco ·

Dit lyk na ‘n monkey puzzle antwoordstel op die foto. Wag daardie woord is mos rassisties, maar ek ken nie die {polities) korrekte woord nie. Anyway, skool is darem maklik deesdae. Selfs sonder vraestelle wat uitlek is slaag steeds verspot maklik.
Daars ‘n DSTV kanaal waar hersiening gedoen word vir verskeie matriekvakke. Ek het onlangs na die een oor geografie gekyk. Dit was my moeilikste vak op skool. Ek kon meeste van die vrae op daardie hersieningsprogram uit my kop uit beantwoord – 33 jaar NA matriek.

Estelle ·

Soveel moeite vir die NSC se skryf… en dan word daai vlentertjie papier nêrens anders in die wêreld erken nie…

IK ·

Dit laat my dink aan die vraestel wat voortydig aan ‘n skool gestuur is. Op navraag van die onderwyser antwoord die onderwysdepartement: ‘Ja, dis ‘n groot fout. Vir sekuriteitsredes, faks asb. die vraestel terug aan ons sodat dit nie kan uitlek . . .’

jaco ·

En dan juig almal op maroela wanneer die top presteerders aangekondig word. Ek wonder maar net, is hulle regtig so slim met skoolstandaarde wat so laag is?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.