Departement gryp in by Potch Boys High

(Foto: Potchefstroom Boys High School/Facebook)

Die Demokratiese Alliansie in Noordwes verwelkom die departement van onderwys se optrede teen die skoolbeheerliggaam van Potchefstroom Boys High School vandeesweek.

Gavin Edwards, die DA se provinsiale woordvoerder oor onderwys, het gesê die beheerliggaam is ontbind ná ʼn ondersoek ʼn rits ernstige onreëlmatighede onthul het, insluitend dat sekere lede van die beheerliggaam ingemeng het in die dag-tot-dag bedrywighede by die skool.

“Die beheerliggaam en ouers het Maandag by die skool betoog en geëis dat die waarnemende skoolhoof, mnr. Carel Meyer, uit sy amp verwyder moet word,” het Edwards gesê. “Die voormalige adjunkvoorsitter van die beheerliggaam, het op sosiale media ʼn beroep op ouers gedoen om seker te maak dat onderrig en leer nie op dié dag by die skool kan plaasvind nie. Dit is ondanks die feit dat die beheerliggaam reeds verlede week ontbind is.”

Die betoging het gevolg ná ʼn onderonsie Saterdag tussen voormalige beheerliggaamlede en die skoolhoof toe hulle geëis het om die skool te betree sonder om aan Covid-19-regulasies te voldoen. ʼn Saak van aanranding is aanhangig gemaak deur die waarnemende skoolhoof.

“Die DA doen ʼn beroep op die departement om verdere ondersoek oor die spesifieke bewerings van finansiële wanbestuur deur die beheerliggaam te bespoedig en verwag dat enige persoon wat skuldig bevind word aan misdadige optrede, vervolg sal word,” het Edwards bygevoeg.

Die departement het weer die waarnemende skoolhoof in sy amp as adjunkhoof aangestel en het intussen ook ʼn versorger-skoolhoof by die skool aangestel totdat die saak opgelos is.

“Ons het vroeër beswaar aangeteken oor beheerliggaamlede wat hul wettige mandaat oortree wat daartoe gelei het dat die skool laat oopgemaak het aan die begin van die akademiese jaar.” Maroela Media het vroeër berig dit sluit ook in veranderings aan die akademiese kalender, die onregverdige skorsing van personeel en die onverskillige uitreik en opskort van personeelkontrakte.

“Die DA is dankbaar dat die saak aandag geniet by die departement en ons hoop dat stabiliteit binnekort herstel sal word sodat leer kan voortgaan. Die DA plaas altyd die belange van leerders eerste. Wat by Potchefstroom Boys High gebeur moet vinnig opgelos word, sodat leerders onderrig kan word in ʼn omgewing wat vry is van konflik en wanbestuur.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Baardman ·

DA het altyd die mooiste intensies maar kan niks uitrig nie. Wag altyd vir iemand anders om die saak te beredder en verwelkom dan na die tyd die uitslag.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.