Departement herbesin oor lae huurtariewe vir ministers

Argieffoto

Die departement van openbare werke het onderneem om te herbesin oor die lae huurgeld wat ministers, adjunkministers en direkteurs-generaal vir luukse huisvesting betaal.

Die direkteur-generaal van openbare werke, adv. Sam Vukela, het vanoggend voor die parlement se staande komitee oor openbare rekeninge (Skoor) erken dat die bedrae wat gehef word buitensporig klein is, en dat dit tans hersien word.

Direkteurs-generaal betaal so min as R75 per maand vir staatsbehuising, adjunkministers sowat R900 per maand en ministers sowat R1 200 per maand. Heelwat van die eiendomme is in peperduur woonbuurte in Kaapstad geleë en is baie luuks.

Mkhuleko Hlengwa, IVP-LP, het Vukela onder kruisverhoor geneem en gepeper met vrae oor hoe dit aanvaarbaar is dat die belastingbetaler moet opdok vir die res van die dikwels astronomiese koste verbonde aan die eiendomme, veral in die hedendaagse ekonomiese klimaat en met armoedevlakke onder die algemene bevolking so hoog as wat dit tans is.

Hlengwa wou veral weet hoe die R75 per maand huurgeld vir direkteurs-generaal bereken word, en het ʼn voorbeeld uit die dokumente voor die komitee aangehaal waarvolgens die instandhouding van ʼn enkele eiendom tot R23 000 per maand kos.

Vukela het aangevoer dat die staat dit aanloklik moet maak vir goed gekwalifiseerde mense om staatsdiensposte te vul, maar toegegee dat daar geen logika daarin steek om R75 per maand huurgeld te vra nie.

“Dit is miskien onregverdigbaar,” het die direkteur-generaal gesê.

Die DA-LP’s Tim Brauteseth en David Ross het benadruk dat dit onaanvaarbaar is dat eiendomme van die departement van openbare werke leeg staan terwyl ander woonplek ten duurste gehuur of aangeskaf en onderhou word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Tammy ·

Skande! Uiterste skande dis niks anders as rampokkery nie. Hoe belaglik, die besluitnemer hieroor lieg vir homself om te dink dis n eerlike en billike besluit. Ag nee, sies man dis n vieslike skande.

Nakkie ·

Geen wonder hulle ry almal karre wat miljoene kos nie. En hul salarisse is honderde duisende per maand

GM ·

My liewe magtig. Hul kry groot salarisse en betaal minder as die minimum. Sekere ander groepies kry als verniet. Hoe moet die belastingbetaler hulself, die armes, EN dan nog van die rykstes onderhou? Ek is seker daar is mense wat ‘shacks’ uitverhuur vir meer as dít.

Alida ·

Ek weet van gesinne van 4 of 5 wat tot R1300 betaal vir n Wendy. Skande. Almal kon gedienste huise gehad het as daar nie so geplunder was nie. Gooi op.

Philippus ·

Dit strook heeltemaal met die ANC se voorneme om soveel moontlik in hul eie sakke te steek! Daar is geen wyse waarop hierdie sieklike spel beëindig kan word nie, behalwe die totale verwydering van die hele spul nie. Dit is Afrika se manier van regeer, as jy bo is, skep, daar is ander wat ook met gierige oë kyk op ‘n geleentheid.

Anita ·

Gewetenlose plundering. ‘n Bodemlose put waarin miljarde rande verdwyn wat deur ‘n rowersnes verspil word.
Skandalige gewetenloosheid.

riaan ·

En wat van hulle duur verniet karre (2 – een in kaapstad en een in Pretoria) en astronomiese tolhek en petrol rekeninge wat die belastingbetaler betaal?????

G’n wonder dat hulle nie bekommerd is oor e-tol en duur petrol nie, want hulle betaal dit nie!

Ek dog hulle is daar om die kieser te DIEN, nie op ons rekening ryk te word nie!!!!

vissie ·

Ag shame hulle sukkel seker verskriklik om die R75.00 per maand by te bring…miskien moet hulle tog maar n stewige salaris aanpassing kry.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.