Departement het waarskuwing oor Esidimeni-oorplasings geïgnoreer, sê dokter

Spesialis psigiater dr. Mavuso Talatala (Foto: Brenda Masilela/ANA)

ʼn Kenner het Dinsdag aan die Life Esidimeni-arbitrasieverhoor gesê die departement van gesondheid in Gauteng het professionele raad geïgnoreer wat gewaarsku het teen die oorhaastige oorplasing van psigiatriese pasiënte.

Dr. Mavuso Talatala, spesialis psigiater, die president van die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Psigiaters (Sasop) ten tye van die oorplasings, het gesê hy het twee briewe geskryf en twee keer die Gautengse departement van gesondheid hof toe gesleep oor die saak.

Hy het gesê hy het selfs vergader met beamptes van die departement, maar hulle het sy waarskuwings geïgnoreer.

Minstens 143 pasiënte, wat van Esidimeni na ongelisensieerde NRO’s oorgeplaas is, het gesterf, meeste van hulle as gevolg van verhongering en verwaarlosing. Daar kan nog nie rekenskap gegee word vir 59 van die pasiënte nie.

Talatala het gesê politici moet nie opdragte gee oor gesondheidsorgkwessies nie. “Ek dink politici moet net ʼn oorsigtelike rol speel en mense, wat as dokters of kenners aangestel is om die werk te doen, toelaat om hul werk te doen.

Adv. Dirk Groenewald, ʼn regsverteenwoordiger vir die families van die oorlede pasiënte, het Talatala gevra of hy voel hulle het ʼn “diktator” gehad wat nie na die organisasies wou luister nie.

“Die senior persone by die departement wou nie eens na die junior personeellede luister nie. Die junior lede het uit vrees opgetree en hul werk gedoen.”

Talatala hou vol die departement het vir die hof gelieg toe die organisasie probeer het om ʼn interdik te bekom teen die oorplasing van psigiatriese pasiënte van Life Esidimeni na die Takalani Home for the Mentally Handicapped in Diepkloof, Soweto.

Hy het aan die verhoor, onder leiding van afgetrede adjunkhoofregter Dikgang Moseneke, gesê Takalani, waar verskeie pasiënte gesterf het, was nie toegerus om na die volwasse pasiënte om te sien nie.

Talatala het gesê ʼn salmonella tifus-uitbreking by Takalani voor die sterftes aangemeld is, moes as ʼn waarskuwing gedien het vir die departement.

Hy het gesê die pasiënte is onwettig oorgeplaas. “Die families moes in kennis gestel gewees het, sodat hulle toestemmingsbriewe kon onderteken. Die pasiënte moes ook in kennis gestel gewees het sodat hulle hulself kon voorberei op die skuif. Dit was verkeerd om hulle nie te laat weet nie.

“Dis belangrik om met pasiënte te kommunikeer, selfs al dink jy dat hulle nie verstaan nie. Jy doen nie alles in een sessie nie, tensy dit ʼn noodgeval is. Pasiënte word geraak deur ʼn oorplasing, veral as hulle al lank by die betrokke gesondheidsfasiliteit is.”

Die pasiënte is van Life Esidimeni, deel van ʼn privaat gesondheidsgroep, oorgeplaas na verskeie ongelisensieerde NRO’s oor die provinsie heen. Sommige pasiënte is in oop vragmotors vervoer tydens die chaotiese oorplasing.

Qedani Mahlangu, voormalige LUR vir gesondheid, word daarvan beskuldig dat sy verantwoordelik is vir die oorplasing van meer as 3 000 pasiënte. Sy het bedank toe die verdoemende verslag deur die gesondheidsombudsman Malegapuru Makgoba in Februarie vanjaar vrygestel is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.