Departement hof toe gesleep oor omstrede NGV-poste

Argieffoto (Foto: StockSnap, Pixabay)

Solidariteit het vandag sy hofstukke aan die departement van gesondheid beteken waarin hy versoek dat daar ʼn interdik op dié departement se onwettige advertering van poste vir die Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) geplaas word.

Dit volg nadat Solidariteit vroeër in ʼn aanmaningskrywe aan die departement met regsaksie gedreig het indien die departement nie die advertering van 44 poste vir die NGV waarmee hy in Augustus vanjaar begin het, terugtrek nie. Solidariteit voer aan dat sodanige advertensies, terwyl die wetsontwerp steeds deur parlementêre prosesse moet gaan, onwettig is.

“Die advertensie van die departement dui duidelik aan dat hy die werwing van ‘bekwame spesialiste soek om te help met voorbereidings vir die funksies van die NGV-fonds’,” verduidelik Connie Mulder, hoof van die Solidariteit Navorsingsinstituut. “Dit blyk dus dat die regering die aanvaarding van die NGV-wetsontwerp as ʼn uitgemaakte saak beskou en stappe doen vóór die aanneming van die wetsontwerp om die NGV te operasionaliseer. So ʼn benadering is irrasioneel, ongrondwetlik en onwettig.”

Volgens Solidariteit het die nasionale tesourie reeds R30 miljoen beskikbaar gestel vir salarisse ten opsigte van die 44 vakante poste vir die 2022/2023 finansiële jaar, en is die departement van gesondheid van plan om in Desember 2022 aanstellings in die vakante poste maak.

“Hierdie posadvertensies skep ʼn duidelike indruk dat die regering vasbeslote is om sy planne deur te voer sonder om daargestelde demokratiese prosesse te respekteer.

Die feit dat fondse bestee word aan poste vir ʼn stelsel wat nog nie geïmplementeer mag word nie, eerder as om die bestaande gapings in die gesondheidsektor te vul, dui daarop dat die regering vasbeslote is om alles te sloop eerder as om die bestaande stelsel te probeer herstel, ten koste van alle Suid-Afrikaanse burgers se gesondheid.”

Mulder sê Solidariteit en ander belanghebbendes probeer deurgaans om aan formele prosesse deel te neem en om ʼn stem vir rasionaliteit en redelikheid te midde van die ideologiese beheptheid van die regering te wees, maar dit blyk onmoontlik te wees. “Dit blyk dat die regering vasbeslote is om geen ag te slaan op die kommer van die mense wat deur die NGV geraak gaan word nie. Soos met die ramptoestand, blyk dit ongelukkig dat die howe weereens die enigste manier gaan wees om die regering so ver te kry om die rasionele besluit te neem.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Herman L ·

Hulle is desperaat en sal alles moontlik doen om die massas se stem te kry in die volgende verkiesing. Wat daarna gebeur gee hulle nie ‘n flenter om nie. Hopelik begin genoeg mense verstaan dat die kamerade net vir hulleself omgee en nie vir die mense van Suid-Afrika nie. Kom ons hoop die tyd is verby om stemme met beloftes te koop.

Moedeloos ·

Dit sal regtig n ramp wees as hierdie NGV die dag goedgekeur word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.