Departement ‘ignoreer’ besware oor skoletoelatings

Melanie Buys (links) van die SOS en Werner Human (regs) van Solidariteit het sowat 15 000 kommentare aan twee verteenwoordigers van die Gautengse onderwysdepartement verlede jaar oorhandig. Die kommentare het beswaar gemaak teen die nuwe regulasies vir die toelating van leerders in die provinsie se skole. Foto: Reon Janse van Rensburg.

Die Gautengse departement van onderwys het die insette van duisende belanghebbendes blatant geïgnoreer deur nuwe regulasies vir die toelating van leerders in Gautengse skole te publiseer.

Só meen die Skoleondersteuningsentrum (SOS) nadat goedgekeurde wysigings aan toelatingsregulasies vir skole vandeesweek in die provinsiale staatskoerant gepubliseer is.

Die wysigings stem grotendeels ooreen met voorgestelde wysigings wat in Augustus verlede jaar gepubliseer is. Die SOS, Solidariteit en AfriForum het destyds teen dié wysigings beswaar gemaak omdat die regulasies skoolgemeenskappe magteloos laat en moedertaal onderrig ontken.

Volgens die wysigings sal die provinsiale onderwysdepartement totale beheer hê oor die administrasie van toelatings tot Gautengse skole. Die departement het die laaste sê oor watter leerders tot ’n skool toegelaat word en het die reg om leerders wat nié tydens die toelatingsproses geplaas word nie, in ’n skool te plaas, afgesien van die betrokke skool se toelatingsbeleid. Dit bepaal ook dat die departement kan sê wanneer ’n skool vol is en dat skole nie leerders mag weier op grond van hul taal nie.

Maroela Media het verlede week berig dat Panyaza Lesufi, die Gautengse LUR vir onderwys, die goedkeuring van hierdie verskeie nuwe toelatingsregulasies vir skole by ʼn mediakonferensie in Johannesburg aangekondig het.

In ’n poging om te verhoed dat voorgestelde wysigings aan toelatingsregulasies aanvaar word, het die SOS, Solidariteit en AfriForum verlede jaar sowat 15 000 kommentare van belanghebbendes aan die departement oorhandig, wat die wysigings teenstaan.

“Tog is die voorgestelde wysigings net so aanvaar. Hierdie wysigings perk skoolbeheerliggame se magte om skole te bestuur drasties in. Dit laat dus gemeenskappe totaal magteloos oor die opvoeding van hul kinders en sal nadelig wees vir alle skole,” sê Melanie Buys, hoof van ontwikkeling aan die SOS.

Buys wys daarop dat skole floreer in gevalle waar die gemeenskap betrokke is en ’n aktiewe rol speel in die bestuur van ’n skool.

“Uitnemende skole steun swaar op ondersteuning van die gemeenskap, aangesien hulle min hulpbronne van die departement ontvang. Lesufi se magsvergryp sal tot gevolg hê dat gemeenskappe hul geld, tyd en kundigheid aan skole onttrek.”

Carien Bloem, AfriForum se koördineerder van onderwys, sê dit is problematies indien die departement leerders in skole plaas, al is hulle nie die taal van onderrig magtig nie. “Dit sal net verdere druk op hoofde en onderwysers plaas om self die probleem op te los, aangesien die departement nie bykomende hulpbronne en onderwysers aan skole verskaf om in meer as een taal te onderrig nie.”

Volgens Buys het die organisasies reeds verlede jaar ’n regsmening ingewin in verband met die beplande wysigings. “Die publikasie van wysigings soos dit tans daaruit sien, laat ons geen ander keuse as om ons regsadviseurs weer te raadpleeg nie,” sê Buys. Die organisasies het onderneem om later verdere stappe hieroor aan te kondig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

25 Kommentare

Judge Dredd ·

Tyd dat Afrikaanse onderwysers weier om in ander taal klas te gee.

Charlie ·

Judge Dredd,
Enigste oplossing. As leerder die taal nie begryp nie moet hy en Lesufi plan maak, wat nie verdere druk op bestaande onderwysers plaas om in ‘n vreemde taal onderrig te gee nie.

Frans ·

Ons het geen ander opsie as om daadwerklik te begin beplan vir die daarstelling van n private Afrikaanse onderwys alternatief

Willehond ·

Tuis onderrig!! Dis al wat oorbly na lesufi se kruistog!

Gert van Wierdapark ·

Lesufi stook moeilikheid sonder kole. Verplaas hom na een van Eishkom se aanlegte wat lae graad steenkool gebruik. Met n gehoes en n geproes kan hy met sy aanmatigende houding dalk n paar kooltjies warm hou en so uit die onderwys oog verdwyn, want hy is n pyn

Ben Potgieter ·

Daar is niemand so blind soos hy wat nie wil sien nie.Alles stort in duie met hulle (ANC) wat met hul ras gedrewe agenda alles in hierdie mooi land van ons die afgrond in bestuur.Marilize hier kom die rugby pale.

Die Stem ·

Absoluut belaglik!
Iemand sal moet help om te keer. Dis die begin van die einde van goeie skole. Wie sal nog wil onderwys gee as die stelsel so manipuleer word om een persoon se agenda te pas.
Ai. Hartseer.

willem Botha ·

Lezufi sal nie ophou voor hy alle afrikaanse skole afgebreek het in gauteng nie ,die ouers moet hulle skoolfonds terughou om te betoog teen sy onredelike reëls.Die boikot sal nie vir 6 maande duur nie dan sal hy sy aanvalle op afrikaanse skole laat vaar toets dit.

pinkie ·

SAUK, Eskom en kort op hulle hakke: alle skole in SA. Baie geluk PL.

Andre ·

Dis nou waar ons afrikaanse kinders soos die ander moet saamstaan en ie alles afbrand en vernietig nie maar, aandring in hulle eie kapasiteit om onderrig in hul eie taal te ontvang andersins die skool klasse boikott en die hele sisteem ontwrig in n ordelike manier.
Dis mos hoe “hulle” dit doen.
Maar vandag se kinders loop eerder hand om die nek met hulle maats saam as om te rebelleer teen dit wat verkeerd is.
Die Afrikaner is te blameer vir sy eie ondergang.

John ·

Lesufi werk vir Cyril, reg? Die prez steun dus sy doen en late en besluite. Dit is die denkrigting van die regering. Wie hoop nog dat CR gaan verander? Aanstaande jaar sal ouers wat langs ‘n skool bly hul kinders kilometers verder moet ry sodat ander ouers van ver weg hul kinders kan aanry om die skool onbeheerbaar te maak. Slim nè?

Gys ·

Privaat Afrikaanse skole. Nee dis nie duur nie. As Orania slegs privaatskole het, kan almal dit hê. Oraniërs is nie ryk nie, net gemiddeld. Oraniërs het egter die wil, wat blykbaar by baie ander gemeenskappe ontbreek. Die “wil wat ontbreek” is maar net my eufemisme vir slapgatgeit.

Gert ·

Ek stem saam. Die laaste storie wat ek gehoor het, was dat die staat se bydrae aan voormalige wit (model C) skole binne die eerste week van die skooljaar opgebruik is, so dit behoort maklik te wees om sonder hulle hulp aan te gaan. Al probleem is die perseel, hierdie skole was deur wittes gebou maar ek glo hulle gaan aanvoer dis nou hulle s’n.

Manie ·

Moet nie weghardloop van die rassis Lesufi. Vat hom aan. Anders dink hy almal lag saam vir sy rassistiese optrede. Of kry Steve om weer iewers te sing dan haal hy tenminste sy aandag af van die skole

Koos de Meyer. ·

Hy moet hom liewer bepaal by die onopgevoede klomp wat moor, onderwysers aanval en staak ens. Hy meng orals in waar hy nie moet nie. Minderwaardigheids kompleks verseker.

Mari ·

Daar is nie ‘n manier wat ek in die onderwys bly as die’ chaos toegepas word nie. Dinge is klaar amper onuithoudbaar moeilik…miskien moet Lesufi vir ‘n week kom skoolgee sodat hy kan sien waaroor dit werklik gaan.

Juffrou ·

Jammer hieroor SOS, maar het julle werklik gedink jul voorstelle sal in ag geneem word? Regtig?

Von ·

Hoe lyk dit vir my mnr Lesufi is ooral betrokke , tot waar hy nie hoort nie….groot kop gekry en dink hy is onaantasbaar….

Koos Kotze ·

Watter land kom die slegste daarvan af; die een wat elke jaar deur ‘n sikloon getref word, of een met ‘n ANC regering?

Koos Kotze ·

Lesufi is vir my die verpersoonliking van die ANC se onkunde, onvermoë (incompetence) en arrogansie.

waco ·

stig CVO skole en kry gehalte onderwys wat op Bybelse beginsels berus, en sit terug en kyk hoe die staat se onderwys stelsel in duie stort. Hou op kla en begin om eie CVO skole te stig.

Attie. ·

Die Afrikaanssprekende kinders is aan die verloor omdathul ouers oor die jare heen nog nooit ‘n regering suksesvol kon aanpak nie. Ons volg die weg van die minste weerstand. Mas moet werk en wie gaan die kinders onderrig. CVO skole het reeds misluk omdat hulle nie ondersteun was nie. Die Groot Trek Australie toe het lankal begin. Kyk hoeveel goeie Afrikaners stem vir ‘n groot party. Stem liewers vir een wat ‘n goeie koalisievenoot is wat teen Aborsies op aanvraag gekant is. Word wakker

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.