Departement maak kapsie oor ‘misleidende inligting’ oor Bela

Minister Angie Motshekga (Foto: @GovernmentZA/X/Twitter)

Taal- en toelatingsbeleid by skole word “polities gebruik” om die meerderheid van leerders uit te sluit.

Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, se departement het in ʼn sterk bewoorde verklaring uitgevaar oor “misleidende inligting” wat oor die Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwyswette (Bela) versprei word.

Volgens die departement word die meerderheid van leerders nie net op grond van taal en ras nie, maar ook weens akademiese prestasie, vermoë om skoolgelde te betaal en sportvermoëns uitgesluit.

Bewerings dat die meeste ouers die Bela-wetsontwerp verwerp, kan volgens die departement nie verder van die waarheid wees nie. Dit is niks anders nie as ʼn desperate poging om broodnodige transformasie van die administratiewe aspekte van die basiese onderwyssektor te vertraag.

“Daardie paar mense wat beswaar gemaak het teen sekere aspekte van die wetsontwerp wat oor toelatings- en taalbeleid handel, is diegene wat die status quo wil behou in soverre dit diversiteit in skole betref.”

Die Bela-wetsontwerp poog eerder om te reageer op administratiewe uitdagings wat skole in die gesig staar en om voort te gaan met die transformasie-agenda van die onderwysstelsel, sê die departement.

“Die wetsontwerp het 56 klousules wat wissel van die instelling van gr. R tot leerderbywoning, gedragskode vir leerders, tuisonderwys, rasionalisering van skole, afskaffing van lyfstraf en inisiasies, taalbeleid, toelatingsbeleid en kriminalisering van ontwrigtings van skole.

Volgens die departement het die voorneme om elke kind wat tuisonderrig ontvang te registreer, nie ten doel om die vryheid van kurrikulumkeuse van ouers weg te neem nie. Net so wil die departement ook nie die magte van skoolbeheerliggame om die beleid oor taal en toelating te bepaal wegneem nie, “maar nakoming van die land se wetgewing verseker”.

“Dit kan nie korrek wees dat skoolbeheerliggame onbeperkte en ongekontroleerde magte kry en ʼn finale sê het in ʼn skoolaangeleentheid van ʼn openbare skool nie. Geen groepering kan absolute mag hê en geen rekenskap teenoor niemand in ʼn demokratiese en soewereine staat hê nie,” sê James Ndlebe, hoofdirekteur vir beplanning en inwerkingstellingsondersteuning by die departement.

Die wetsontwerp maak volgens Ndlebe ook voorsiening vir ingrypings wat departementshoofde moet doen wanneer taal- of toelatingsbeleid diskriminerend is, sonder om hul gesag onregmatig af te dwing.

“Daar moet kennis geneem word dat dit nie ʼn stryd teen ʼn bepaalde taalgroepering is nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

Nie Verbaas ·

Motshekga. Daar is absoluut niks wat die ANC tot dusver kon maak werk nie. Die ANC doen ook niks sonder bybedoelings nie.

Kaptein ·

Bla bla bla, nog n laaste stuiptrekking van n verotte,gevrekte groep. Enige iets om hulle te probeer goed lyk.

Hannes ·

Ek word naar as ek lees “broodnodige transformasie” byna 30jaar later sing die ANC steeds dieselfde snert. Die dag wanneer blanke kinders skool verlaat begin diskriminasie teen hulle, universiteite, werksmag ens. Nou wil die ANC op skool vlak reeds begin met diskriminasie teen ons kinders.

Byekonfyt ·

Miskien verstaan die department nou eers wat die voorgestelde wet behels. Miskien raak hulle ontslae van hulle tonnelvisie.

Pieter ·

As julle skole gebou het, en nie Mercedes en BMW ryk gemaak het nie (dis nou ‘n klein druppel), dan sou ons nie nou weereens moes buig…

Nommer 7 ·

Skoolgelde betaal beheerliggaam onderwysers. Met die Bela Wet gaan minder skoolgelde ingevorder word, wat BL onderwysers se poste in gevaar gaan stel. Die staat sal moet pa staan vir hierdie skoopgelde.

Otto ·

@Nommer7 – ek stem saam maar minder onderwysers of onderwyseresse gaan beteken 50+ kinders per klaskamer en raai wat gebeur met gehalte? Leerkragte gaan so “gestretch” wees dat daar nie tyd sal om seker te maak elke leerder bly by nie en ouers is nou bereid om skoolgeld te betaal sodat hulle kinders die beste moontlike onderrig kry.

Republikein in die Wes Kaap ·

Kaptein, dink net hoe gaan ‘n ANC/EFF/MK/GOOD/PAC koalisie lyk.

DJ ·

Bela is net nog ‘n stap om onderwys verder te benadeel. Die ANC het nie die vermoeë om van enige iets ‘n sukses te maak nie.

Adrio ·

Dit moet moeilk wees as jy jouself glo en iets soos “Bewerings dat die meeste ouers die Bela-wetsontwerp verwerp” vir jouself kan eien as ‘n “bewering”, en dit nadat duisende werklike bekommerde onderwysers, ouers en skole – DIREK aan die publieke geleentheid – wat die staat voorgesit het, deelgeneem het, en hard en duidelik dit gestaaf het, dat die Bela veranderinge nie aanvaarbaar is nie. Instede van terug tafel toe, om die probleme daarmee met die relevante persone te probeer uitsorteer, word dit net summier as ” bewerings” afgemaak – alhoewel die minister – wat duidelik goeie leesbrille kort – kan sien – op wit en swart – dat MEESTE daarteen is – ongeag van kleur, ras of taalgroep…

Amelia ·

Transformeer is vir my al sinoniem met ruïneer – iemand moet die H.A.T. verwittig om die nodige aanpassings te maak. Ons koop in elk geval nie in op julle geïdeologiseerde leerplannetjies nie en voed ons kind maar self behoorlik op. Ek voel net jammer vir diegene wat nie hierdie opsie het nie.

HerculesJvV ·

“Bela-wetsontwerp poog eerder om te reageer op administratiewe uitdagings wat skole in die gesig”

Wat ‘n grap. Die meerderheid van die administratiewe uitdagings vloei voort vanuit die onderwys departement!

En ek weet nie watse Feë-verhaal die uwe minister gelees het nie, maar BELAB het slegs een doel voor oë…..

Gert ·

Transformasie was in ons kele afgedruk gewees as weermaglid in die 90`s. Waar is ons SANW nou? Jul het gepeuter met ons land, waar is hy nou. Nou will julle peuter met ons kinders?

skurweberg ·

Tog jammer. Die geskiedenis het ons agterdogtig gemaak en vertroue geskend. In 1994 was ons vol vertroue . Al was daar baie wat gewaarsku het oor ‘n onsigbare agenda’s

Fran ·

‘Die vyand kom om uit te roei, te vernietig en dood te maak’ – Die Bybel.

Nici ·

Eks nie oortuig dat die meerderheid skole slegs Afrikaans is en Engelsprekendes uithou nie. Wat die minister se is dat net die meerderheid mense het regte en minderhede en hul behoeftes tel nie.

Sê maar net ·

Fran, ek sê Amen daarop! 100% waarheid. Ons moet bid soos nooit tevore nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.