Departement maak plan met Voëlklip

‘n Helikopter vlieg Woensdagoggend by die Voëlklipkrans waar nog ‘n motoris gesterf het. (Foto: ER24)

Die departement van vervoer en openbare werke in die Wes-Kaap beraam tans planne om moontlik veiligheidsmaatreëls by die berugte Voëlklipkrans naby Heroldsbaai aan te bring. Dít nadat nóg ʼn motoris vandeesweek by die krans af gery het.

Chantel Edwards-Klose, kommunikasiebestuurder van die George-munisipaliteit, het aan Maroela Media bevestig die departement het reeds begin beraadslaag met belanghebbendes, onder wie die eienaar van die eiendom waarop Voëlklipkrans geleë is.

Volgens Klose is die grond in privaat besit, maar die grondpad wat lei na die uitkykpunt, is wel ʼn provinsiale pad.

Voëlklipkrans het binne die bestek van vier maande die lewe van vyf mense geëis.

In die mees onlangse geval is ʼn man dood toe ʼn gehuurde wit Eco Sport met ʼn CA-nommerplaat Woensdagoggend oor die krans gestort het.

Polisiebeamptes by Voëlklipkrans in Desember nadat ‘n rooi Chevrolet Spark oor die krans gery het.(Foto: Twitter)

Maroela Media het vroeër berig die liggaam van ʼn vrou is in Desember uit die water gebring nadat ʼn rooi Chevrolet Spark, met die ligte aangeskakel, oor die krans gery en in die water beland het. Die vrou was die enigste insittende in die motor.

Heidi Scheepers en haar twee kinders is dood toe hul grys Volkswagen Caravelle in Oktober in die see by Voëlklip beland het. Die motor is langs die rotse aangetref, waarna ʼn grootskaalse soektog na Heidi, haar tweejarige seuntjie, Hugo, en haar sesjarige dogtertjie, Cozette, begin is.

Heidi en Hugo se liggame is in die see gevind waarna ʼn nadoodse ondersoek getoon het dat Heidi en Hugo verdrink het. Cozette se liggaam is nooit gevind nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Leon ·

Nognie genoeg mense het gesterf nie. Hulle wag gewoonlik vir ‘n drie sysfer getal.

Die Hekwag ·

Maklik. Sluit die plek vir voertuie. Slegs voetgangers.

Hannahoekom ·

Absoluut tragies dat soveel mense eers hulle lewens moes verloor voordat daar plan gemaak is om die area te beveilig. Ek kan ook nie help om te wonder nie, kon van die sterftes dalk selfmoord gewees het? Mens sal seker nooit weet nie. Nietemin, al die families van die oorledenes bly in ons gedagtes en gebede.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.