Departement ‘maak vordering’ met gekraakte IT-stelsel

Argieffoto (Foto: Pexels, Pixabay)

Sommige begunstigdes wat vandeesmaand vertragings met die betaling van kinderonderhoud ervaar het, kan dié geld eersdaags in hul bankrekenings verwag.

Die departement van justisie en grondwetlike ontwikkeling het Vrydag gesê die MojaPay-stelsel is weer gedeeltelik in werking en dat die meeste betalings reeds gedoen is.

“Die betalings is op 15 September gemaak en behoort binne die volgende paar dae in begunstigdes se rekeninge te wys.”

Maroela Media het vroeër berig dat dié betalings nie gemaak kon word nie weens ʼn kuberaanval op die departement se inligtingstelsels (IT) sowat twee weke gelede.

Die aanval het tot gevolg gehad dat MojaPay, die stelsel wat die departement gebruik om hierdie betalings te maak, ontoeganklik was.

Die departement kon egter nie aandui wanneer alle IT-stelsels weer funksionerend sal wees nie.

Volgens die departement werk IT-kundiges, bedryfsvennote en bepaalde staatsorgane saam om die stelsels wat deur die aanval beïnvloed te herstel.

“Gefokusde ondersteuning word ook aan howe gebied om te verseker dat hofverrigtinge nie negatief deur die IT-probleme beïnvloed word nie.

“Standaardprosedures vir die handmatige hantering van die hofopname-tegnologiestelsel (CRT) is ook uiteengesit om die veiligheid van hofrekords te verseker.”

Volgens die departement behoort alle howe normaal te funksioneer.

Die departement het onderneem om die publiek deurlopend van verwikkelinge op die hoogte te hou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Friedrich ·

Waar is julle servers? Wat se sekuriteit gebruik julle? Hoe gereeld word geskandeer teen ‘malware’ of doen julle nie sulke goed nie? ????????

koos10 ·

Friedrich. Solank dit werk is dit reg. Onderhoud is nie ‘n woord wat in die regering se woordeboek voorkom nie!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.