Departement, mineraleraad moet buite hof skik – Solidariteit

mynboubedryf-02

(Foto: Wilhei/Pixabay)

Die vakbond Solidariteit het vandag ʼn beroep op die mineraleraad van Suid-Afrika en die departement van minerale bronne en energie gedoen om eerder te onderhandel aangaande eienaarskap en die beginsel van een-maal-bemagtig-altyd-bemagtig en buite die hof te skik, as om met verdere hofoptrede voort te gaan.

Dit volg nadat die hooggeregshof onlangs in die regsgeding tussen die mineraleraad en die departement rakende eienaarskap, soos vervat in die derde mynbouhandves, en klousules oor een-maal-bemagtig-altyd-bemagtig beslis het dat vakbonde en myngemeenskappe as partye tot die hofgeding gevoeg moet word. In reaksie daarop het die mineraleraad aangevoer dat die uitspraak bloot regsekerheid oor die kwessies gaan vertraag.

Indien die raad in die aansoek suksesvol sal wees, beteken dit onder meer dat mynwerkers en myngemeenskappe hul toewysing van 5%-eienaarskap (in die vorm van ʼn draende belang) sal verloor. Die gevolg sal wees dat die regsdispuut vervang sal word met spanning en onrus op mynvlak.

Gideon du Plessis, hoofsekretaris van Solidariteit.

Gideon du Plessis, hoofsekretaris van Solidariteit, verduidelik: “Die huidige litigasieproses tussen die twee partye het verdelende gevolge en versteur die sosiale samehang in die mynbousektor. ʼn Hofuitspraak sal ʼn wen-verloor-situasie beteken wat verreikende gevolge vir die verloorder sal inhou, terwyl verhoudinge tussen alle mynbourolspelers verder geskaad sal word. Daarom doen Solidariteit ʼn beroep op die raad en die departement om na die onderhandelingstafel terug te keer en ʼn ooreenkoms te bereik waarvolgens albei partye iets sal moet prysgee.”

Volgens Solidariteit sal die onsekerheid wat gepaardgaan met ʼn uitgerekte regstryd wat by die konstitusionele hof kan draai, meer negatiewe gevolge vir mynboubeleggings inhou as ʼn skikking wat historiese bemagtigingstransaksies erken, terwyl verhoogde bemagtiging, soos in die hersiene handves vervat, steeds sal plaasvind wat veral mynwerkers en myngemeenskappe bevoordeel.

“Dit is bloot ʼn geval waar die departement se topleierskap en die raad se topleierskap midde ʼn algemene leierskapskrisis in die land nou leierskap moet toon,” sluit Du Plessis af.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.