Departement monitor Beitbrug-situasie

Betogings by die Beitbrug-grenspos op 1 Julie 2016 (Foto: ANA)

Betogings by die Beitbrug-grenspos op 1 Julie 2016 (Foto: ANA)

Die departement van binnelandse sake monitor die situasie by die Beitburg-grenspos tussen Suid-Afrika en Zimbabwe ná betogings Vrydag die grenspos ontwrig het.

“Ons bevestig die grenspos is oop en daar is geen verdere voorvalle aangemeld nie,” het die departement in ʼn verklaring gesê. “Ons werk saam met die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) en die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) en sal die ontwikkelings fyn dophou om seker te maak reisigers kan gemaklik van die grenspos gebruik maak.”

Maroela Media het vroeër berig die Beitbrug-grenspos was Vrydagmiddag stil ná die gemeenskap in Messina en ʼn paar plaaslike winkeleienaars teen nuwe maatreëls deur die Zimbabwiese regering betoog het. Die Zimbabwiese regering beperk die invoer van goedere van Suid-Afrika.

Kol Ronel Otto, woordvoerder van die polisie, het gesê die betoging was vreedsaam. “Dit was ʼn vreedsame betoging. Daar is nie enige bande aan die brand gesteek of eiendom beskadig nie,” het sy gesê.

Otto het Saterdag aan Maroela Media bevestig foto’s en berigte van geboue wat aan die brand gesteek is, het aan die Zimbabwiese kant van die grens plaasgevind.

Die departement het ook bevestig die gewelddadige betogings was aan die Zimbabwiese kant van die grenspos en nie op die grens soos berig word nie.

Betogers het Vrydag ʼn gedeelte van ʼn skuur by die grenspos aan die brand gesteek en die grenspos moes vir ʼn wyle gesluit word.

Die situasie het daagliks vererger sedert die Zimbabwiese regering ongeveer ʼn week gelede ʼn verbod geplaas het op die invoer van goedere. Oorgrenshandelaars het verlede week by die grenspos betoog toe die Zimbabwiese inkomsteowerheid (Zimra) goedere begin konfiskeer het voor die amptelike verbod ingetree het.

ʼn Personeellid van Zimra het gesê twee pakhuise wat die inkomsteinvorderaar gebruik het, is aan die brand gesteek. ʼn Polisiebeampte se huis en ʼn polisievoertuig is ook met klippe bestook. “Hulle het die polisiebeampte se huis met klippe bestook omdat hy glo ‘moeilik’ was by die grens. Hulle voer aan hy het elke keer hul goedere gekonfiskeer wanneer hulle van Suid-Afrika af die grens oorgesteek het,” het die werknemer gesê.

Meer as 30 motors is ook aan die brand gesteek en die dorp se groot paaie is met klippe en bande, wat aan die brand gesteek is, versper.

Polisiebeamptes het traangas gebruik om die skare te laat verdaag. Volgens bronne in die grensdorp is swaar gewapende soldate ontplooi om die polisie by te staan.

Nog ʼn bron het gesê die toneel lyk soos ʼn oorlogsone, terwyl die betogers teen die polisie in opstand gekom het.

Die regering het verlede week ʼn statutêre instrument afgekondig wat ʼn verbod plaas op die invoer van meeste goedere en oorgrenshandelaars sit sonder werk.

Die Beitbrug-oorgrensvervoervereniging het in ʼn verklaring gesê die polisie het geweier om die betoging goed te keur.

“Die polisie in Beitbrug het geweier om ʼn betoging deur die inwoners goed te keur ná ʼn verbod geplaas is op ʼn reeks goedere waaronder kruideniersware en boumateriaal sonder permitte,” het Tapiwa Tabheni, woordvoerder van die vereniging, gesê. “Inwoners het twee dae gelede vergader en besluit om die strate in te vaar om hul woede te wys teen dié besluit deur die regering. Duisende gesinne sal waarskynlik sonder enige inkomste sit, aangesien oorlewing in die dorp afhang van oorgrensaktiwiteit. Die inwoners het besluit om die polisie teen te staan en met die betogings voort te gaan.”

Sandile Memela, woordvoerder van die SAID, het bevestig ʼn groep Suid-Afrikaanse handelaars het by die Beitbrug-grenspos betoog. “Daar was ʼn vyf uur lange blokkade tussen 09:00 en 13:00 wat die verkeer tot ʼn stilstand gedwing het,” het hy gesê.

Memela het ook bevestig die kwessie is opgelos toe die SAID, SAPD en die departement van binnelandse sake ingegryp het en met die leiers van die groep onderhandel het.

“Volgens dié vergadering sal die griewe van die Suid-Afrikaanse handelaars aan die departement van handel en nywerheid voorgehou word om die kwessie aan te roer met die Zimbabwiese owerhede,” het hy verduidelik.

Memela het gesê die SAID bedank die Suid-Afrikaanse beamptes dat die saak so vinnig opgelos is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Deon ·

Wat gaan die ANC doen want die jeug gaan hierdie land af brand.

Hendrik Havenga ·

Ek glo hier sit meer hier agter, handelaars in Musina gaan miljoene verloor oor die wetgewing Kom ons kyk bietjie wyd en nie tonnel wisie

Sputnik ·

‘n Blokkade vanaf 09:00 tot 13:00 is vier ure en nie vyf nie.

Nico van Jbay ·

“Die departement van binnelandse sake monitor die situasie” Wat ‘n grap. Wie monitor wat? Die regering sal hierdie situasie op sy ou manier hanteer… Stel ‘n kommissie van ondersoek in en hoop die probleem verdwyn saam met die bevindinge.

Attie ·

Ja tog, sosialiste en hul droom om n ekonomie reg te “wet”. As mense maar net wil leer, self sekere regses glo sterk in ekonomiese proteksionisme. Hierdie insident laat my dink aan Bastiat se woorde: “Waar goedere en dienste nie vrylik grense kan oorsteek nie sal soldate met gewere.”

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.