Departement ontken bewerings oor staking by landbouskool

skool

Argieffoto

Bewerings dat onderwysers by die Hoër Landbouskool in Jan Kempdorp van Maandag af sal staak, “is onwaar en daarop gemik om die publiek te mislei”.

Só het die Noord-Kaapse departement van onderwys Maandag gesê. Sydney Stander, woordvoerder van die departement, het gesê die bewerings is deur ʼn streekskoerant in die provinsie versprei, maar daar steek geen waarheid in nie. “Dit is onaanvaarbaar dat sekere nuusblaaie staat maak op telefoniese joernalistiek sonder om stories te bevestig,” het hy gesê.

Volgens die bewerings sou onderwysers by die skool van Maandag af staak omdat hulle nie hul Augustus-salarisse ontvang het nie. Die Demokratiese Alliansie (DA) het in ʼn verklaring beweer dat hulle klagtes van “ernstige wanbestuur” by die skool ontvang het en dat die skool nie die onderwysers se salarisse kan bekostig nie.

“Daar is wel onderwysers wat deur die beheerliggaam aangestel is wat nie hul salarisse vir Augustus ontvang nie,” het Stander gesê. “Die skoolbeheerliggaam het met hierdie kategorie van onderwysers vergader en die situasie aan hulle voorgelê. Die beheerliggaam het sy woord gegee dat die onderwysers hul salarisse op 8 September sal ontvang.” Hy het nie gereageer op ʼn vraag waarom die salarisse laat betaal word nie.

Stander het gesê onderrig by die skool gaan normaalweg voort “soos by alle ander skole in die provinsie”.

Safiyia Stanfley, die DA se provinsiale woordvoerder oor onderwys, het gesê die party sal ʼn oorsigbesoek aan die skool bring om die saak te ondersoek. “Aangesien die Hoër Landbouskool die enigste landbouskool in die provinsie is, behoort ons dit as ʼn provinsiale bate te beskerm en die nodige steun te bied. Die provinsiale regering lyk eerder tevrede daarmee om te sit en kyk hoe dit uitmekaar val,” het Stanfley gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.