Departement ontken talle Gauteng-onnies word afgelê

panyaza lesufi

Panyaza Lesufi, Gautengse LUR vir onderwys. Foto: ANA.

Die Gautengse departement van onderwys het Maandag gesê hy verwerp die aantygings van sommige skoolhoofde dat talle onderwysers hulle werk in 2018 gaan verloor.

Maroela Media het verlede week berig dat talle hoofde van hoërskole in Gauteng nou inderhaas moet rondskarrel om te verseker dat hulle al hulle onderwysers vir 2018 kan behou en bekostig. Sowat 90% van die openbare hoërskole in die provinsie het ʼn week voor die skole vir die jaar sluit kennis van die departement ontvang dat hulle nie al die posvoorsienings sal kry waarvoor hulle aansoek gedoen het nie.

Een skoolhoof wat met Rapport gesels het, sê sy skool het met die jongste postoedeling sewe minder poste en dit kan tot R1,8 miljoen per jaar ekstra kos om dié poste deur die beheerliggaam te finansier. Vyf skole in Pretoria het tussen hulle altesaam 28 poste verloor, terwyl die vakbond Solidariteit sê daar is skole wat tot 13 poste verloor het.

Dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, het Sondag gesê die vakbond gaan ʼn dringende hersieningsaansoek by die Noord-Gautengse hooggeregshof indien om die departement se planne stop te sit. Hy het gesê die vakbond is geskok oor die departement se besluit om sy finansiële verknorsing te verlig deur poste te verminder, veral in die lig van die groot behoefte aan gehalte-onderwys.

Volgens Steve Mabona, woordvoerder vir dié departement, word daar jaarliks postoewysings gedoen om te verseker skole wat gekrimp en gegroei het, het ʼn regverdige getal onderwysers.

“Onderwysers sal nie afgelê word nie, maar na ander skole herontplooi word. Die departement het ook 500 poste goedgekeur om die groei in leerdergetalle in die akademiese jaar 2018 aan te pak,” het hy gesê.

Volgens Mabona het die departement reeds meer as 100 appèlaansoeke oor die postoewysings vir 2018 ontvang. Elke skool wat geappelleer het, het reeds terugvoer van die disktrikskantoor op 8 Desember hieroor ontvang.

“Dit is oneerlik van sommige hoofde om te beweer hulle het nog nie terugvoer van die departement ontvang nie. Ons is eintlik verstom dat hulle hul tot Solidariteit en die media gewend het, terwyl die departement duidelike kanale verskaf van waar hulle kan appelleer,” het Panyaza Lesufi, LUR van die Gautengse onderwysdepartement, gesê. Lesufi het Solidariteit voorts van kwaadwillige bewering en verdagmakery beskuldig.

“Dit is hartseer dat Solidariteit eis dat die departement aan die oorspronklike toekenning van onderwysersposte voldoen, ongeag veranderinge van die leerdergetalle by verskillende skole. Ons is gereed vir hierdie saak om sy loop in die hof te neem,” het Mabona bygevoeg.

Fedsas beskuldig swak beplanning

Dr. Jaco Deacon, adjunkhoof van die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas), het gesê hoewel dit ontstellend vir skoolhoofde en personeel is om in hierdie laat stadium planne te moet beraam oor poste vir 2018, is dit onwaarskynlik dat daar enige klasse is wat sonder onderwysers sal wees.

“Dat die Gautengse onderwysdepartement nou nog sukkel om posvoorsienings vir die komende akademiese jaar af te handel, kan egter net aan swak leierskap en swak beplanning toegeskryf word,” het Deacon gesê.

Hy het gesê Gauteng se uitdaging met posvoorsiening vind reeds in talle ander provinsies plaas. Die Vrystaat sukkel al die afgelope vier jaar met ʼn soortgelyke probleem.

“Skole moenie nou paniekerig raak nie. Hulle moet die appèlproses sy loop laat neem en op ʼn rasionele basis motiveer hoekom hulle elke onderwyser benodig. Die enigste plek waar skole wel ʼn pos sal verloor, is waar ʼn vakature ontstaan omdat ʼn onderwyser aftree,” het Deacon bygevoeg.

Is Gautengse onderwys bankrot?

Etresia Raubenheimer, provinsiale verteenwoordiger vir die Suid-Afrikaanse onderwysunie (SAOU), het verlede week aan Maroela Media gesê die posvoorsiening vir Gauteng hou nie tred met groeiende leerdergetalle by skole nie.

Sy reken die departement is finansieel in die knyp en vandaar die drastiese besnoeiing aan toewysings van personeel by die skole. “Dit plaas die skole in ʼn baie moeilike posisie, want hulle begrotingsvergaderings is klaar afgehandel en nou moet hulle skielik vir nuwe poste beplan.”

Raubenheimer het ook gesê die Skolewet vereis dat posvoorsienings reeds op 30 September aan skole voorsien moet word, maar die vakbonde het die eerste posvoorsiening van die departement afgekeur, “want daar was toe nog minder poste vir die skole begroot”.

Hugo Vermeulen, hoof van Helpende Hand se Skoleondersteuningsentrum (SOS), het gesê die departement het die skoolhoofde vir die wolwe gegooi omdat beheerliggame se begrotings reeds lankal klaar en gereed vir 2018 is.

“’n Vis vrot van sy kop af. Dit dui op uiters swak beplanning en wanbesteding elders. Ons eis Lesufi se kop,” het Vermeulen gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Theresa B ·

Ja en ek is (hierdie keer) Pinnocio. Waar daar ‘n rokie trek nê? Moenie dink ons is SO dom nie!!

SJ ·

Panyaza Lesufi jy ontken dit, ek moes Januarie 2018 permanente aanstelling gekry het in my pos, snaaks 7 Desember 2017 is ek ingelig deur die skoolhoof dat dit uitgestel word na Maart 2018.

Bbbb ·

Privaat onderrig IEB leerplan is nie so duur nie. Baie gelukkig en tevrede met hulle leerplan.
Model C skole se klasse is reeds so groot verstaan hoekom ondetwysers en leerders mekaar mis verstaan.

Johann ·

Lesufi Lesufi; gly teen n opdraande uit! Net NOG n stelsel en sisteem en departement wat verwoes is deur die ANC se anargie besope onbevoedheid!

Lizelda ·

As die minister reken vd onderwysers Sal herontplooi word na “ander” skole Sal dt interressant wees om te weet hoeveel v ons onderwysers v topskole soos Waterkloof, Menlo, Garsfontein en Affies wat jare lank hard werk aan goeie uitslae en reputasie onder d “herontplooing”

Liegbek ·

Hierdie is ‘n LIEG!! Soos alle politici maar doen. Ons skool het 2 poste verloor, die laerskool naby ons het 5 poste verloor. Wat beteken die personeel moet of gaan of deur die BL betaal word. 7 000 onderwysers moet gaan, maar 4 000 “ambagsmanne” word aangestel om kameras, ens by skole te installeer. Hulle maak van onderwysers en skoolhou ‘n grap. En ogv wat word die poste afgeskaf: getalle van leerders wat toetentaal verkeerd is. Hulle maak my siek!!!!!

Alida ·

Lesufi maak seker seker dat dit afrikaanse blankes is wat moet gaan. Hy lieg so hy glo homself.

Henkie ·

TV. Ja nee stemme uitslag aan Dr .Treurnicht.
Wat sê u nou Dr.
Wel die mense het ja gestem. Nou gaan hulle
daarmee moet saam leef.

Lanne ·

Is dit nie maar ‘n trant dat die “dienaars” van die staat of te wel die ANC altyd eers alles ontken nie…. en dan later word die teendeel bewys….. soos die Engelse storietjie “Denial is not a river in Egypt.

Rita ·

Die postevoorsiening is eers in Des bekend gemaak. Dalk verloor die skool nog meer onderwysers.
Alle ouers word uitgenooi om begrotingsvergadering by te woon, ouers verkies om nie te gaan nie. Tog jammer, want begrotingsvergadering is so belangrik en ouers is gou om te kla.

Rita ·

Die postevoorsiening is eers in Des bekend gemaak. Dalk verloor die skool nog meer onderwysers.
Alle ouers word uitgenooi om begrotingsvergadering by te woon, ouers verkies om nie te gaan nie. Tog jammer, want begrotingsvergadering is so belangrik en ouers is gou om te kla.

andrea van vuren ·

Eienaardig dat alle lewensbelangrike besluite in hierdie siek land altyd in Desember geneem word.

Van ·

Ouers van Wilgers vergelyk julle skoolfonds met skole in die omgewing asook privaatskole. Kla ons nie dalk te maklik nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.