Departement ontken waarskuwing aan pediater

Dr. Tim de Maayer (Foto: Change.org)

Die departement van gesondheid in Gauteng sê hy neem met kommer kennis van ʼn misleidende verklaring deur DA-LP Jack Bloom dat ʼn waarskuwingsbrief aan die pediater dr. Tim de Maayer uitgereik is.

Bloom het in ʼn verklaring gesê De Maayer, die pediater wat in Mei aanvanklik geskors is ná ʼn ope brief oor die toestande by die Rahima Moosa-moeder-en-kind-hospitaal (RMMCH), het ʼn skriftelike waarskuwing ontvang.

Volgens Bloom het Nomantu Nkomo-Ralehoko, waarnemende LUR van gesondheid, in ʼn skriftelike reaksie op sy vrae in die Gautengse wetgewer bevestig dat die waarskuwingsbrief op De Maayer beteken is. Volgens Nkomo-Ralehoko het die hospitaal se uitvoerende hoof, dr. Nozuko Mkabayi, die besluit geneem om De Maayer te skors. Die redes was die “oortreding van ʼn interne kommunikasiebeleid en staatsdiens-gedragskode”.

“Dr. Mkabayi se rol in die skorsing het die weg gebaan vir dissiplinêre stappe. Nkomo-Ralehoko sê ná die skorsing teruggetrek is, het die partye saamgestem dat ʼn skriftelike waarskuwing uitgereik moet word.”

Bloom meen dit is verregaande dat De Maayer gedissiplineer word omdat hy net sy gewete gevolg het en die verskriklike toestande by die hospitaal, wat tot die afsterwe van sy jong pasiënte gelei het, te onthul.

“Intussen is daar geen dissiplinêre stappe teen die hospitaal se uitvoerende hoof vir haar wraaksugtigheid teen De Maayer nie. Nkomo-Ralehoko het gesê ‘die departement het nog nie bepaal dat die uitvoerende hoof enige fout begaan het nie’.”

Die DA meen dissiplinêre stappe teen die uitvoerende hoof is geoorloof en ʼn doeltreffende maatreël om die probleme te takel wat De Maayer onthul het.

Motalatale Modiba, woordvoerder van die Gautengse departement van gesondheid, het Dinsdag gesê die DA se verklaring is “ʼn verdraaiing van feite en bevestig dat só waarskuwingsbrief glad nie uitgereik is nie”.

Modiba doen ʼn beroep op Bloom om die brief te deel.

Volgens Modiba het Nkomo-Ralehoko in ʼn geskrewe reaksie op 2 Augustus 2022 aangedui dat alhoewel die partye nagedink het oor ʼn waarskuwingsbrief teen dr. De Maayer, is dit nooit uitgereik nie en die partye het besluit om die saak te sluit.

“Die Gautengse departement van gesondheid wil benadruk dat daar geen dissiplinêre stappe teen dr. Tim de Maayer van stapel gestuur is nie. Geen waarskuwingsbrief is op hom beteken nie. Die departement beskou die saak nou as afgehandel en sal nie verder kommentaar lewer hieroor nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

domheks ·

As die ‘base’ hulle werk gedoen het – sou die hele onaangenaamheid nie ontstaan het nie! Ek dink hulle moet waarskuwings kry vir GROWWE NALATIGHEID.

Jr ·

Wie glo u
1) Dept van gesondheid LUR
2) JACK BLOOM

ANTWOORD : JACK BLOOM VIR SEKER

Henry ·

Dit is nou tipies . Hulle skep die probleem en dan as iets verkeerd gaan is dit iemand anders se skuld

melaney ·

Hulle ontken die waarheid en wil summier die saak as gedaan beskou. Wat ‘n grap!

Di ·

En intussen sit die ONBEVOEGDES wat verantwoordelik is vir die agteruitgang van hierdie hospitaa, nog steeds in hulle poste. Dis hoekom daar NOOIT ‘n verandering sal plaasvind in dienslewering. Watch the space, een van die dae is die hospitaal WEER in die nuus met DIESELFDE probleme, indien nie erger

blia ·

As die departement nie soveel kritiek van die publiek gekry het nie, sou hul voortgegaan het met dissiplinêre stappe. Dis asof hierdie regering moeite doen om die land ten gronde te bring.

Jack ·

Wat n nes van adders is dit nie. Fluitjieblasers word glo beskerm maar nie as jy wit is en n saak het nie. Kaders is net nie bekwaam nie maak nie saak van die sogenaamde kwalifikasies nie. Ek is ook n dokter maar moet nog eksamens slaag.

Jackie ·

Saak gesluit, maar hospitaal nog steeds in haglike toestand? Kan iemand dalk opvolg wat daar aangaan. Kragopwekker, medisyne, algemene toestand van hospitaal en is die hosp bestuurder nou fisies by die kantoor of nie.

SjN ·

Die waarheid maak seer en hul wil nie verantwoordelikheid vat nie, dit is hoekom dit gaan soos dit gaan.

Catherina ·

When you are pushed into a corner a coward lies. The ANC know well how to threaten but when accosted with truth , they have millions of ridiculous explanations that only they believe. Well done DR

Herman ·

Ek glo AfriForum sal hier ook inklim en geregtigheid laat geskied. Ons kan dit nie sommer so laat verbygaan nie. Hier het die OB ook die publiek gefaal. Dis in elk geval ook niks nuuts nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.