Departement oor Zuma se nuwe vliegtuig: ‘Ons sal niks onverantwoordelik doen nie’

Pres. Jacob Zuma. Foto: Elmond Jiyane, GCIS

Pres. Jacob Zuma. Foto: Elmond Jiyane, GCIS

ʼn Omsigtige en verantwoordelike proses sal gevolg moet word in die aankoop van die nuwe presidensiële vliegtuig, het die nasionale weermag se verkrygingsagentskap, Armscor, Dinsdag gesê.

Kevin Wakeford, uitvoerende hoof van Armscor, het tydens ʼn nuuskonferensie in Pretoria aan verslaggewers gesê inligting word net sover ingewin oor die moontlike aankoop. “Ek weet nie waar die bedrag van R4 miljard vandaan kom nie, want eerlikwaar, ons kan dit nie bekostig nie. Ons kyk na ʼn wye verskeidenheid opsies,” het Wakeford gesê.

“Ons win tans inligting in sodat ons die koste [van die nuwe vliegtuig] kan bepaal. Totdat ons die koste daarvan vasgestel het, gaan ons niks onverantwoordelik doen nie. Dit kan ek julle verseker.”

Wakeford het gesê Suid-Afrika se rol op die internasionale verhoog het aansienlik gegroei en daarom is ʼn nuwe vliegtuig nodig. Nuusberigte die naweek het beweer die nuwe vliegtuig wat in die staat in gedagte het, sal ongeveer R4 miljard kos.

“Mense sit nie op die vliegtuig en niks doen nie. Hulle werk sodat hulle voorbereid is wanneer hulle [by hul bestemming] aankom,” het Wakeford gesê. “Hulle het satelliet telekonferensies om met leiers van ander lande te praat. [Die vliegtuig] is nie ʼn speelding nie.”

Pres. Jacob Zuma se kantoor het Armscor Maandag versoek om meer inligting te verskaf oor die beweerde planne om ʼn nuwe presidensiële vliegtuig te koop. Na aanleiding daarvan is die media Dinsdag by die Waterkloof Lugmagbasis toegespreek.

Die departement het Armscor beveel om voort te gaan met die aankoop van ʼn BBP-vliegtuig om die huidige een, die Inkwazi, te vervang met een wat dubbel die ruimte het. Die Demokratiese Alliansie (DA) het die aankoop ten sterkste veroordeel en ʼn beroep op Zuma gedoen om die aankoop van die vliegtuig te skrap.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

stoney ·

Het die Amerikaanse pres ‘n privaat straler? Ek weet die vliegtuig bly die eiendom van die SA Lugmag maar dit gaan uitsluitlik deur die prez gebruik word. Die belastingbetaler sal maar weer moet pastaan. Ek wens ons kan hierdie mense leer om prioriteite te bepaal.

Theresa B ·

Julle het nie ‘n idee wat die word “onverantwoordelik” beteken nie. En dit geld nie net vir die mors van geld nie – dit geld vir alles in hierdie land.

Izzy ·

Wat is fout met die bestaande vliegtuig? En die president het ‘n SPLINTER NUWE vliegtuig nodig net om sateliet konferensies te hou???? Ja, dis beslis NIE ‘n SPEELDING nie…. die geld wat daarvoor betaal vat die kos uit 1000de mense se monde, miljoene skoolboeke, hele dorpe se elektrisiteit en water…. Gaan vra vir die gewone mense wat werkloos is, wat hulle dink van die president se nuwe vliegtuig….

CR ·

Daar is nie meer vakmanne om die instandhouding te doen nie – die wat daar is weet nie hoe nie. Tipies – koop hom, ry hom tot hy breek en koop dan ‘n nuwe een – maintenance is mos vir die apies – dis hokeom Eskom ook uitmekaar val, gedink as die een transformer breek koop hulle sommer ‘n nuwe een? Toe nou nie.

Réno ·

“Totdat ons die koste daarvan vasgestel het, gaan ons niks onverantwoordeliks doen nie. Dit kan ek julle verseker”.
Kevin, is ons nou verseker dat julle baie onverantwoordelike goed gaan aanvang nadat julle die prys vasgestel het?

Riaan ·

Verantwoordelik kan ons julle glo.Julle maak sulke oulike grappies

Amanda Le Roux ·

Twak man! Geldmors! Dit kan hulle goed doen! Hoeveel monde kan hulle nie met daai klomp geld voed nie… Hoekom nie RDP huise bou vir die armes nie???? Nee o nee! Die “rykes” moet mos WYS hulle het geld om te mors! Belaglik verby!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.