Departement reageer ná kinders uit tehuise verwyder word

Die departement sê hoewel die bewerings teenoor personeel by die Môrester-kinderhuis in Ladysmith gemaak is, sal die Newcastle-persele ook ondersoek word. Foto: Newcastle Advertiser

Die departement van maatskaplike ontwikkeling in KwaZulu-Natal het Maandag sy besluit om oor die naweek onverwags sowat 200 kinders uit drie kinderhuise in die provinsie te verwyder, verdedig deur aan te voer sy “eerste prioriteit was die beste belang van die kinders”.

Maroela Media het vroeër berig beamptes van die departement het Vrydag en Saterdag by Môrester Ladysmith, Môrester Newcastle en Huis Meah opgedaag en kinders, van babas tot 18 jaar oud, uit die kinderhuise verwyder.

Ds. Gerhard Botha, uitvoerende hoof van die KwaZulu-Natalse Christelike maatskaplike dienste (CSS), sê die bestuur van die kinderhuise is nooit ingelig dat die kinders verwyder gaan word of enige rede vir dié besluit gegee nie.

Ncumisa Ndelu, woordvoerder van die provinsiale departement van maatskaplike ontwikkeling, het Maandag aan Maroela Media gesê die verwydering van die kinders volg ná bewerings van die oortreding van die Kinderwet by die Môrester-kinderhuis in Ladysmith.

Kinders word uit die kinderhuise verwyder. Foto: Newcastle Advertiser

“Die oortredings sluit in fisieke, verbale en emosionele mishandeling, asook rassisme waaronder die gebruik van die aanstootlike k-woord teenoor swart kinders en personeellede,” sê Ndelu. “’n Voorlopige ondersoek na die bewerings dui daarop dat sommige personeellede hierdie bewerings sal moet verklaar.”

Weziwe Thusi, LUR vir maatskaplike ontwikkeling in KwaZulu-Natal, het intussen beveel dat ʼn intensiewe ondersoek na die bewerings gedoen word. “Hoewel die bewerings teenoor personeel by die kinder-en-jeugsorgsentrum in Ladysmith is, sal die departement die Newcastle-persele ook ondersoek,” sê Ndelu.

Oor die naweek is 146 kinders uit Môrester Ladysmith verwyder, 33 kinders uit Môrester Newcastle en 18 kinders uit Huis Meah in Newcastle. Volgens Ndelu is die kinders by staatskinderhuise en jeugsentrums geplaas, asook by kinderhuise wat deur die staat gefinansier word.

Kinders word uit die kinderhuise verwyder. Foto: Newcastle Advertiser

“Maatskaplike werkers het die afgelope naweek saam met hul eweknieë in die departement van onderwys onverpoos gewerk om te verseker dat die kinders wat verwyder is in die naaste skole geplaas word sodat hul skoolopleiding nie ontwrig word nie,” sê Ndelu.

Op ʼn vraag hoekom die kinderhuise of die ouers en voogde van die betrokke kinders nie vooraf ingelig is oor die departement se besluit nie, sê Ndelu die departement se eerste prioriteit was die kinders se beste belang en om seker te maak die oorplasing van die kinders verloop glad.

“Die families wat geraak word, is intussen in kennis gestel en sal vandag geneem word na die fasiliteite waar die kinders nou gehuisves word. Nokuthula Khanyile, die hoof van die departement, sal ook later vandag die sentrum in kennis stel van die ondersoek,” sê sy.

Van die kinders het papiere op die vensters geplak waarop hulle aandui dat hulle nie uit die kinderhuis verwyder wil word nie. Foto: Newcastle Advertiser

Die LUR het intussen om verskoning gevra aan die kinders se families wat deur die media van die saak te hore gekom het. “Ons voorneme was om die welstand van die kinders te prioritiseer en dan deur ons gewone kanale [met die families] te skakel, maar ons pogings is in die wiele gery deur mense wat dink kinderbeskerming is ʼn manier om politieke punte aan te teken,” sê Thusi.

“Ek wil beklemtoon dat die departement deur die Grondwet en die Kinderwet gelei word en ons neem ons mandaat om kinders te beskerm baie ernstig op. Ons sal bewerings van kindermishandeling sonder enige vrees of vooroordeel ondersoek, selfs by kindersorgsentrums.”

Intussen sê Botha dat die bestuur van die CSS steeds nie ingelig is oor die redes vir die verwydering van die kinders nie. Hy dra ook nie kennis van bewerings van mishandeling of rassisme by enige van die drie kinderhuise nie.

“Dit is wat vir ons so vreemd is. Die departement het inderhaas die kinders hier kom verwyder, maar steeds het hulle ons nog nie ingelig wat die rede daarvoor was nie. Ons kan dus nie op die bewerings of beskuldigings reageer nie, want ons het geen benul wat die bewerings is nie,” sê hy.

Foto: Newcastle Advertiser

Hy sê die CSS is ook tot op hede nie ingelig waar die kinders tans is nadat hulle verwyder is nie. Volgens Botha weet hy wel van een kind wat Saterdag op eie stoom teruggekeer het na die kinderhuis toe.

“Ons wil dit duidelik maak, indien daar enige oortredings by enige kinderhuise is, moet dit ondersoek word en dan sal ons drastiese stappe teen die oortreders doen. Ons is selfs bereid om personeellede wat by die bewerings betrek word te skors hangende ʼn ondersoek na die saak. Maar om kinders só wreed te behandel soos die departement hier gedoen het, is onverskoonbaar.”

Botha sê die CSS sal vandag met hul regspan in Pietermaritzburg vergader om te besluit op die beste pad vorentoe. Hy wil graag hê die kinders moet terugkeer na die kinderhuise waar hulle veilig sal wees.

“Ek het nog nooit in my lewe so negatief en magteloos gevoel soos die afgelope naweek nie. Die personeel het vir my video’s en klanksnitte gestuur van die kinders wat skree en huil, papiere op hul vensters plak wat sê ‘los ons net uit’ en desperaat aan die kinderversorgers vasklou.

“Intussen is daar polisiebeamptes met outomatiese gewere saamgestuur na die kinderhuis in Ladysmith toe. Hoekom stuur jy gewapende polisie na ʼn kinderhuis toe? Ons wil net hê ons kinders moet kan terugkeer na waar hulle veilig voel.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

66 Kommentare

Sharon ·

Dit was laag en gemeen om kinders se Sekuriteit so onder hulle uit te pluk.

ESTIE ·

Dit klink amper na ‘n herhaling van die Esidimedi Tragedie.

Thinus Erasmus ·

‘n “MAGSVERTONING” van ‘n korrupte en onbevoegte regeringsinstansie wat reeds klaaglik gefaal het. Net een woord om hul valslike optrede te beskryf: WALGLIK!

Margaretha ·

As hulle werklik vir die kinders se welsyn omgegee het mos hulle eers hulle ondersoek gedoen het. Maar daar het ons weer die rasisme storie. ‘N soortgelyke geval het jare gelede in Oos-Londen plaasgevind waar hule die Ouers van die tehuis, waarvan van die kinders al 10 jaar by hulle was, verwyder is weens aantygings van die personeel en buitelandse vrywillergers, en toe in die hof onskuldig bevind is na amper 2 jaar.. Daai kinders was so getraumatiseer dat hulle Mamma en Pappa weggeneem is en kon nie verstaan waarheen hulle is nie.

E.K. die eerste ·

Asof kin ders nie alreeds traume beleef het eerstens oor die rede waarom hul uit ouerhuis verwyder is; tweedens om in ‘n kinderhuis te moet wees; derdens watookal MOONTLIK met hul by kinderhuis gebeur het en vierdens om op so manier uit die kinderhuis verwyder te word en nou WEER trauma van nuwe aanpassing te moet ervaar. Hel tog die arme, arme, arme kinders. Sekerlik kon daar op ‘n meer menslike en professionele manier ondersoek gedoen en opgevolg word? Om kinders deur gewapende polisiebeamptes te laat verwyder… Ek het net nie woorde en voel net verskriklik jammer vir hierdie arme kinders. Hoekom sou party kinders dan teruggegaan (weggeloop volgens eerste berig) na waar hul dan sou molesteer word op watter manier ookal? Of plakkate opsit. Hier is duidelik onbedag opgetree en weereens moet die arme kinders ly. My hart is seer…

Bekommerde ·

Ek hoop die stap is goed deur gedink – dis altyd beter om vir kinders te vertel as daar verandering is. Grootmense weet hoe erg verandering is.
Baie sterkte aan almal betrokke!
Mens hoop net dat die bewerings eg is – ons vergeet die goeie wat die beskuldiges vir baie jare gedoen het (verstaan my mooi- ek keur nie die negatiewe gedrag goed nie)

Olgadene ·

Deur watter trauma is hierdie kinders nie reeds nie, en om so weg geskeur te word by die plekke waar hulle veilig voel veroorsaak nog meer trauma. Magtig ek hoop van harte dat die kinders berading gaan kry. Hul is klaar deur hel, maak nie saak hoekom hulle reeds in die kinderhuise geplaas is nie.

Johan ·

Die rasse-kaart wat so mildelik volgens politieke mode uitgepluk word om enige ding te regverdig, maak my behoorlik naar.
Ek glo dat iemand finansieel voordeel trek uit die kinders se verwydering. Dit is in alle waarskynlikheid weer ‘n ander vorm van korrupsie.

jennefer ·

Stem saam Johan, kyk na bygaande foto, lyk dit rassisties. Die kind klou aan wat hy ken en lief voor is.

Karlahari ·

Ek stem. Iemand maak geld hieruit.
Ek hoop die uitbuiting en trauma aan die kinders word tot op die been oopgevlek.
Nog niks op SANC hiervan gehoor nie.

Amelita ·

Wat hier gebeur het is glad nie in belang van kinders. Trauma wat so n verskuiwing doen is baie traumaties vir kinders. Hulle hele sekuriteit is onder hulle uitgeruk. Dit is al wat kinders in kinderhuise het. Hulle is soos n familie in kinderhuis nou is hulle weer vir n 2 de keer in hul lewe uitmekaar geskeur. Ek glo nie as daar fout was by tehuis sal kinders so tekere gegaan het om vandaar verwyder te word.

Theresa ·

Dis walglike optrede. Julle besef nie wat julle doen aan daardie arme kinders nie. Maar dit gaan GLAD nie vir julle oor die kinders nie. Almal weet dit tog!!

Onsteld ·

Indien hulle die kinders se veiligheid eerste gestel het, hoekom die kinders verwyder van waar hulle veilig voel? Hoekom verwyder hulle nie die personeel nie? Dit sou nog traumaties gewees het vir die kinders, maar in my opinie minder impales op die kinders gehad het. Nou moet daardie kinders ook in nuwe skole aan pas. Maak nie sin nie. Daardie kinders se hele lewe weereens ontwrig!!

haatlik ·

dis gemeen om kinders wat teen hul sin en onder swaar gewapende polisie net te verwyder sonder grondige rede. wat probeer die dept bereik deur so op te tree as daar net n bewering is. hulle kan mos dink dis belaglik omdat die kinders nie verwyder wil word nie. dis mos n teken dat hulle gelukkig is. nou word net sekere kinders verwyder en dan eers die ondersoek. julle moet jul koppe laat lees daar moet drasties fout wees met jul denke. jammer maar dit wil so voorkom.

JJS ·

Mags vertoon van ‘n kommunistiese regering. Vergeet tog nie dat ons in ‘n kommunistiese land bly nie….

dorpsjapie ·

ek ken n maatskaplike persoonlik wie daar in newcastle môrester werk. dis n liewe mens en ek weet wat sy en ander vir daardie kinders doen. ek glo hierdie aantuigings in geheel nie. dis haatlik om net sekere kinders onder sapd begeleiding te verwyder. noem hulle dit nou tot voordeel van die kinders. gaan speel op n ander plek met jul poppe en karretjies of iets anders as julle nie poppe of karretjies het nie en los die kinders waar hulle gelukkig is

AI AI AI ·

Dorpsjapie – ek stem 100% saam met jou. Ek ken ook die maatskaplike werkers en van die personeel betrokke hier in Newcastle, en al wat hulle doen is om die kinders onvoorwaardelik lief te hê en hul belange op die hart te dra. Ek self is betrokke by fondsinsamelings vir die 2 instansies in NN. Die mense hier het die kinders bitter baie lief!!

Nicks ·

Aai siestog… die arme kindertjies. Kan vrouens nie “reg” gemaak word sodat hulle nie so kan “broei” nie??? Die kinders het nie gevra om hier te wees nie. Wens ek het baie geld gehad om so paar kindertjies aan te neem en vir hulle ‘n lekker huis te gee… sonder enige bekommernisse!

Nettie ·

@Nicks – kinders word vir verskeie redes in kinderhuise geplaas. Nie alleen net omdat die ouers nie vir die kinders fisies of finansieël kan sorg nie, maar ook soms omdat ouers afsterf, die kinders mishandel word, onversorg gelaat word, daar dwelms/drank betrokke is in die bepaalde huishouding. Eerder as om te oordeel, hoekom raak jy nie ‘n naweek/vakansie-ouer vir een of twee sulke kinders nie? Dit is baie vervullend ….

Saartjie ·

Raai, Nicks, vrouens kan nie op hulle eie ‘broei’ nie. Hoekom stel jy ook nie voor dat mans begin kondome gebruik of vasektomies kry nie … albei metodes is baie goedkoper en vinniger as die ‘regmaakproses’.

Frikkie ·

…gedoen net om vir jou te wys wie in beheer is en hoeveel..

Estelle ·

In die beste belang van die kinders….swak, swak, swak. Die enigste sekuriteit wat hulle het onder hulle voete uitgeruk sonder enige verduideling, nuwe skool, nuwe kinderhuis. Skaam my morsdood vir die leiers van ons land.

MC ·

Ons weet almal wie in beheer is van alle “departemente” so hulle moet maar aangaan met hulle “power trips”, een of ander tyd gaan die mespunt kantel en daarmee saam al die sogenaamde departemente se kaarthuisies. Dis net jammer dat kinders noual die sogenaamde “departemente” se pionne geword het.

LouE ·

Die kinders is na ander skole ook geskuif. Watter absurbde logika het die mense om ‘n probleem op te los?

Patrys ·

Klink soos n tweede Esidimeng geval. Goed word gedoen voordat gedink word aan die kinders.

IK ·

Og, verskriklik die tronkwoord wat telkens ongevraagd opduik!!

Tienie ·

Ek kan nie eers na daardie foto kyk waar die ou seuntjie hand om die lyf met die vrou staan nie. My hart kan eenvoudig nie sulke goed hanteer nie. Ek huil my sommer dood. Kinders is so ontsaglik kosbaar en moet baie mooi behandel word. Want “aan sulkes behoort die Koninkryk van God”…….

Tobie Klarens ·

Die waarheid is dat CMR hulself aan hierdie optrede skuldig maak, en nou kwansuis hulself as “slagoffers” voorhou.

jakes ·

Asseblief, die dept van maatskaplike ontwikkeling was verantwoordelik vir die Esidimeni tragedie waarin meer as n honderd mense gesterf het. Hul modis operandi is baie verdag en nou wil hulle kamtig optree in die beste belang van die kinders. Klink vir my soos n rassekaart wat hullle speel.

Gert ·

In die kinders se belang, Lagwekkend as dit nie ernstig gewees het nie. Wens iemand kon klag van kinder-ontvoering teen die Departement lê. Ek dink daar moet na die Departement se kantore ‘n optog gehou word. Dit sou tog baie minder ontwrigtend gewees het as die personeel vervang is en hou die kinders waar hulle is.

Hantie ·

Nou toe, Tobie, vertel ons ook wat die waarheid is wat jy so pertinent noem?

My mening ·

Die arme kinders. Hulle lewens is juis nie maklik nie en nou word hulle so ontwrig. Hulle word van hul vriende geskei en moet na ander skole gaan. Ek wonder wat die werlike rede vir die skielike verskuiwing is.

GM ·

Hulle tree ook net ‘in die belang van kinders op’ wanneer dit hul pas. En dié lyk glad nie vir my of dit enigsins in hul belang is nie.
Waar was die departement toe Poppie mishandel is? Die saak is immers ook aangegee gewees. Hoekom moes maatskaplike werkers toe eers ondersoeke doen? En by die kinderhuis tree hul eers op, en DAN ondersoek hul.

Johan ·

Watter ANC lid gaan nou weer Rykiel gemaak word. Al wanneer ‘n kind verwyder word is wanneer sy lewe en gesondheid bedryg word. Nou dat die verskriklike nare betrokke raak is die kinders se welsyn en lewe in gear, net soda t nog’ n ANC lid Rykiel kan word. Die kinders het beskerming van die ANC nodig

Lee ·

Het die lot ooit daaraan gedink om eers ondersoek in te stel en met die kinders self te praat om te hoor of hulle gelukkig is of nie. Indien daar kinders was wat ongelukkig was skuif dan net hulle. Julle weet nie wat julle aan sulke kinders doen nie. Julle vat hulle uit hulle plek van veiligheid uit. Useless van die Departement!!!

JG ·

Hoekom verbaas hierdie dinge my nie ? Ons weet mos die kaders is totaal en al onbevoeg met enigiets wat hulle doen.

PieterJohannes ·

Enige bewerings van watter aard ookal moet eers behoorlik ondersoek word. Jy kan nooit sulke drastiese stappe neem sonder ondersoeke en verhore nie. Die feit dat niemand bewus was van enige voornemens van die Departement nie, bewys dat besluite geneem is op “Hoorsê ” Tipies weereens die optrede van mense wat nie bevoeg is om sulke besluite te neem nie. Wie gaan opstaan namens die slagoffers, die kinders, wat nie vir hulleself kan opstaan nie. Sleep die laaste een hof toe en maak met hulle soos in die geval van die Schweizer Reneke juffrou. Hulle ore moet brand. Hulle wil vinnig, vinnig hulle lang vingers lê op die kinders se toelae.

Gemaskerde Sopbeen ·

As daar “personeellede” was wat problematies was, hoekom verwyder die Departement hulle nie? So die “probleem personeel” word by die tehuise gelos………en die kinders word geskuif? Dit klink nes Afrika………altyd gatkant vorentoe..

Siek ·

JULLE IS SIEKLIK, julle gaan nou weer agter VALS beweringe van die K woord en daarvoor word 200 kinders nou gestraf en nou word ALLE instansies onsdersoek terwyl dit by EEN GEBEUR HET?? JULLE STRAF NOU DIE WIT KINDERS, dit is al .. julle sit hulle nou in SWAKKER STAATSINSTANSIES om vir almal ‘n LES Te leer … HOEKOM het julle nie die beweringe ondersoek TERWYL die kinders daar was nie?? NOU het julle hulle heeltemal ontwortel en gestraf vir iets wat hulle NIE GEDOEN HET NIE??? 200 kinders en ‘n paar bewerings …. ondersoek die staff en kry klaar maar HOEKOM DIE ARME KINDERS???? HOrrible land hierdie … vieslik.

moerasie ·

wat de hel gaan aan met hierdie nuwe regering, baaspelerige , weet altyd beter, BBDM mense, Hoe de hel. Ek is nou so kwaad, ampers soos die Esidimensie storie. Verwyder hulle, en word mishandel, verkrag, vernietig, het daai arme kinder nie alreeds Hel op aarde nie. Sies ek skaam my vir hieridie BBDM en nasie. Maar die Here slaap nie.

Klaar ·

Los die wit kinders uit, julle het niks uit te waai met hulle nie. Wat gaan nou gebeur met daardie kinders in julle sorg? Die staat is onbekwaam en ons moet hulle uit ons gemeenskappe en ons saake uit hou. Dis tyd dat die blankes ook gemeenskap leiers aan stel wat eerder dinge vir ons hanteer as die staat.

Kortgat ·

Dis vir my net bitterlik hartseer hoeveel kinders ouersloos is.

PC ·

Dit is volgens kinderwet totaal en al onwettig. Wonder net of staat geld het om hul finansiële verantwoordelikheid teenoor hierdie jeugsentrums na te kom. Dis die bietjie wat hul wel gee. Onthou ‘n kind word deur ‘n hofbevel in ‘n sentrum geplaas. Totaal en al belaglik.

PJC ·

Ek wonder of daar van hierdie kinders ook gaan verdwyn soos die pasiënte van Life Esidimeni wat nou nog weg is en waarvoor niemand tot op hede nog verantwoordelik gehou word nie.

Marietjie ·

Hoekom so groot skuif maak, en nie Dan eerder Ander mense in dieselfde gebou plaas nie?? Minder trauma wat die kids moet deurgaan.

Schalk ·

Sulke gesiglose.gevoellose.onnosel mense hoort nie naby kinders nie.Die sulkes is erger as pedofiele en hoort in tronk.Kinder mishandelaats.Skade kan nooit reggemaak word deur lee woorde nie.

Natascha ·

Bog man as dit in belang van die kinders was, het jul die kinders se medisyne en persoonlike goedjies ook saamgevat en wat van die arme kinders wat agter in die vangwa moes sit, wat n gedoente, NEE, NEE, NEE.Die babas is sonder hul stoeltjies weg.
Ek raak so briesend as ek net dink aan die arme onskuldige kinders wat so getraumatiseerd was.
Jul het die saak nie reg hanteer van die begin af nie. Nie eens die bestuur van die tehuise het van enige iets geweet. Hoekom dan alles in geheim hou, hoekom mag nie niemand weet waar die kinders is??
Iets is hier nie reg, Ek vertrou die hele storie nie.
Maar nou kan ons net almal saam bid dat die kinders veilig is en dat hul spoedig weer terug sal wees in die huise wat hul ken.
My hart gaan uit na daa kinders.

Schalk ·

SIEK SIEK SIEK SIELKUNDIG SIEK SLEGS SIMPTOOM VAN HUIDIGE SAMELEWING.DIE REG WAT SOMMIGE HULSELF TOE EIEN MAG VADER SE LIG OP DIT SKYN EN MENSLIKE ONNOSELHEID BLOOTLÊ SOOS NOG NOOIT NIE.DIEGENE WAT SULKE BESLUITE NEEM SAL TOT VERANTWOORDING GEROEP WORD.

Gaitsigubib ·

Die regering se gedrag is afstootlik! Eers tree hulle op en nou wil hulle begin om iets te ondersoek, net soos die onderwyseres wat deur die LUR onwettig afgedank is, sonder enige ondersoek. Die hoeksteen is nou gele om stories te fabriseer – alle geloofwaardigheid is in die ANC rioolpyp af! Net soos op plase word die wat weerloos is aangeval.

Schalk ·

Tipies altyd bewerings.Ek beweer dat daardie totale departement korrup is.Dus volgens modus operandi van ANC moet hulle nou almal gefire word of sal dit te veel stemme kos.Dankie Maroela.

AH ·

Hoekom moet daar altyd ‘n magsvertoon teen die mees kwesbares in ons land plaasvind? Dit is skreiend! Daar is verseker nie aan die arme kinders gedink nie! My hart bloei vir hulle. Ek hoop nie dit word nóg ‘n Esidemeni geval nie. Die magsbehepte Staat moet gekeer word!

Linda ·

Hoe seer is my hart nou vir daai kindertjies. En hoe innig, diep dankbaar is ek weer opnuut vir my kinderjare in ‘n liefdevolle huis, nie met baie geld nie, maar met baie liefde, genoeg kos en ‘n goeie opvoeding. Dit maak my geensins beter as enige van hierdie kinders nie. Ek wens ek kon vir hulle elkeen ‘n beter huis verskaf.

Piperno ·

Hoekom verwyder hulle nie die mense wat verkeurd gedoen het nie? hoekom die kinders? ek ryk a rot?!?!?!

A Mac ·

Presies hoe is besluit watter kinders verwyder mos word? Waarheen is hulle geneem? Hoop net nadat alles gedoen is en weer terug na normaal is dat daar van al die kinders rekenskap gegee kan word. Hierdie is ‘n oop agterdeur vir mense handel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.