Departement reageer op klagtes teen weermag

(Argieffoto)

Die departement van verdediging sê hy neem kennis van die beweerde vergrype deur die weermag tydens die tydperk van 21 dae van afsondering.

Video’s het aan die lig gekom van weermaglede wat glo mense dwing om oefeninge soos opstote te doen omdat hulle na bewering nie aan die regulasies gehoor gegee het nie.

Nosiviwe Mapisa-Nqakula, minister van verdediging, sê weermaglede moet streng by die regulasies hou, ongeag of hulle uitgelok word tydens ontplooiing. Sy het intussen ’n beroep op die hoof van die weermag gedoen om toepaslike stappe te volg om hierdie situasie te hanteer. Genl.maj. Mannetjies de Goede, waarnemende hoof van die leër, het bevestig dat ʼn saak teen die weermaglede aanhangig gemaak is.

Mapisa-Nqakula veroordeel hierdie tipe gedrag van wetstoepassers en is van mening dat dit nie in belang is vir die beskerming van landburgers nie.

“Dit sal in die beste belang van die weermag wees om eerder die publiek oor die gevare van Covid-19 in te lig. Ons doen ʼn beroep op die publiek om nie hul huise te verlaat nie ten einde die verspreiding van die virus te bekamp,” het Mapisa-Nqakula gesê.

Mapisa-Nqakula doen ook ʼn ernstige beroep op die publiek om die regulasies rakende die afsondering na te kom en om die wetstoepassers te respekteer en hulle nie uit te lok nie.

Maroela Media het vroeër berig die DA het die militêre ombudsman versoek om ʼn onafhanklike ondersoek te doen nadat die video’s soos ʼn veldbrand op sosiale media versprei het. Die DA het onmiddellik ʼn skrywe aan afgetrede lt.genl. Vusi Masondo, militêre ombudsman, gerig.

Die DA is van mening dat sulke gedrag “walglik” is en dat die weermaglede se optrede ʼn growwe skending van die weermag se mandaat en die Handves van Menseregte is.

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

8 Kommentare

jongste oudste gewildste
twaalfboor

As ek moet kies om push-ups te doen of om geskiet te word…… “no brainer”. Die mense het nie ore nie.

Die Wolf

Ek ondersteun die weermag as hulle die skoene so n bietjie skoonvryf. Die meeste mense het geen idee van selfdissipline nie(of is dit suiwer arrogansie). Vir die wat nou so tekere gaan oor die arme bloedjies se menseregte,wat van die menseregte wat daagliks geskend word? Lee blikke maak die meeste geraas.

Lindi

Die belhamels moet vasgevat word MAAR daar is weermaglede en SAPS wat hulle magte misbruik. Onthou die geval so 3 maande gelede waar ‘n dame deur Metro Polisie hardhandig behandel is en net in ‘n voertuig geboender is? Hoeveel skelms het alreeds uniforms bekom?

Cherokee

Die kruks van die saak is die menseregte wat geskend word, het betrekking op lede van die publiek wat doen wat nodig is om die virus te bekamp, terwyl ander dit ongedaan maak.

Remondo

Wel as jy nie wil hoor nie moet jy voel.. n bietjie dissiplinêre straf het niemand nog doodgemaak nie , ons sit by die huis soos gevra wie gee hom of haar die reg om met ander landsburgers se lewens te speel? Dalk moet die astrante mense n plakkieklapper kry kom by mense