Departement sê ‘binnekort’ oor skoolvakansie

(Argieffoto: ANA)

Die departement van basiese onderwys (DBO) sê hy sal binnekort aankondig of die Oktober-skoolvakansie wél vanjaar voortgaan.

Terence Kahala, woordvoerder van dié departement, sê daar sal Woensdag nog lang vergaderings met die betrokke onderwysvakbonde en beheerliggaamorganisasies gehou word om die saak te bespreek.

“Ons besef dat die kwessie tans die openbare debat oorheers. Ons wil nie hê mense moet deurmekaar wees nie en sal daarom binnekort ʼn aankondiging maak sodra die besprekings met die betrokke partye afgehandel is.”

Maroela Media het Dinsdag berig die Oktober-skoolvakansie sal dalk afgeskaf word in ʼn poging om die vyf skooldae in te haal wat tydens die vroeër sluiting vir die wintervakansie verlore gegaan het.

Die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU) het in ʼn nuusbrief aangedui dat nie een van die vyf erkende onderwysvakbonde ten gunste van dié besluit is nie en dat daar ook nie vooraf met dié vakbonde oorleg gepleeg is nie.

Nomusa Cembi, woordvoerder van die onderwysvakbond Sadou, het Dinsdag aan Maroela Media gesê daar is nooit in ʼn vergadering met die vakbonde belê om veranderinge te bespreek soos gewoonlik die gebruik is nie.

“Tydens vergaderings met die DBO verlede week het die departement aangevoer dat hulle ʼn brief uitgestuur het waarin insae as deel van beraadslagings versoek is. Die vakbonde het dié stelling weerlê.

“Ons meen dit sal nie reg wees om die Oktober-skoolvakansie te kanselleer sonder om die geestelike welstand van leerders en onderwysers in ag te neem nie. Hulle [leerders en onderwysers] loop die tweede myl saam om die trefslag van Covid-19-ontwrigtings te versag.”

Cembi sê die departement het onderneem om die vakbonde se griewe aan die komitee van onderwysministers (KOM) voor te lê.

Die SAOU het benadruk dat talle opvoeders en leerders geestelik moeg is weens die voortdurende spanning wat deur die pandemie meegebring word, die aanhoudende risiko van infeksie, asook die druk om die kurrikulum te voltooi.

Die vakbond het daarop gewys dat verskeie mense reeds finansiële verpligtinge vir Oktober aangegaan het. Die SAOU het verder gesê die onderwys funksioneer boonop nie in ʼn vakuum nie en het ook ʼn verpligting teenoor die vakansiebedryf, wat weens Covid-19 tans op sy knieë is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Pieter ·

En wat maak jy as jou vakansie klaar geboek en betaal is? Gaan die departement dit vir my terug betaal?

Louis ·

Ons sal self …. besluit vir opvoedkundigverantwoordbare redes, as ons privatiseer manne en vroue van SA

Hoekom ·

Nog ‘n bewys van dat ons regering nie ‘n idee het wat hulle doen nie…

Ursula ·

Departement dink in 5 dae se tyd gaan jy nou werk ingehaal kry, maar einde november moet alle assesserings klaar wees punte in maar skole sluit eers 15 Desember!!!! Wat verwag hulle moet onderwysers daardie laaste 2 weke doen?

Darts girl ·

Hulle se dat hul moontlik die oktober vakansie gaan weg vat as gevolg van die 5 dae wat deel was van die lockdown, dis nie die kinders of die onderwysers se skuld nie. Daar word gedoen volgens die regering en president se besluit nie die skole nie, die onderwysers en kinders word ook moeg hulle moet ook rus al is dit net vir n week

Dirk Mostert ·

“Onderwysers en kinders moet ook rus” Die arme goed. Hulle het sedert ingrendeling al skoolgegaan en skoolgehou dat dit by hulle ore uitkom.

Peach ·

Almal wie nou op die moaning wagon is, was maar alte bly toe die skool vroeër sluit so, you win some and you loose some….. unchartered territory where we must learn and adapt as we go along.

Dirk Mostert ·

Die vakunies wil nie die skoolvakansie afskaf nie. Ek dink vakunie-onderwysers kan op “furlough” gaan, dws halfsalaris as jy nie werk nie, soos die Britse Vloot voorheen. Skole moes nooit gesluit het nie. In die woonbuurte speel die kinders buitendien saam en kan mekaar aansteek.

Moedeloos ·

Ek is baie bly ek het nie meer kinders op skool nie maar ek kan sien watter skade dit aan my kleinkinders doen. Kinders het standvastigheid nodig nie hierdie rond ploetery van die regering nie. Soos iemand gister op die radio sê – die skole sluit eers middel Desember – laat alles normaal aangaan to dan en dat die onderwysers, nadat die skole gesluit het, nog hul ekstra dae werk om al hul verpligte werk te doen en deur te gee. Dit het jare so gewerk, ons het eksamen tot op die laaste dag van Desember skoolkwartaal geskryf, maar toe skielik sit die kinders al van middel/einde November by die huise en die ouers met hul hande in hul hare.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.