Departement sê oor lugmag se vliegtuig na Zim

Die foto wat The Herald gedeel het van die Zimbabwiese minister van verdediging Oppah Muchinguri-Kashiri en haar Suid-Afrikaanse eweknie, Nosiviwe Mapisa-Nqakula (Foto: Tawanda Mudimu/The Herald)

Die departement van verdediging het Donderdag reageer op berigte dat ʼn ANC-afvaardiging na Zimbabwe gereis het met ʼn vliegtuig van die Suid-Afrikaanse Lugmag.

Die afvaardiging het Dinsdagaand in Harare aangekom en die staatsbeheerde Zimbabwiese koerant The Herald het ʼn foto van die vliegtuig op sy webwerf gedeel. Die afvaardiging is na Zimbabwe vir gesprekke met dié land se regerende Zanu-PF.

Siphiwe Dlamini, woordvoerder van die departement, het gesê die ANC se vergadering het op dieselfde tyd plaasgevind as wat die minister van verdediging na Zimbabwe moes reis om met haar eweknie te vergader ter voorbereiding op ʼn Suid-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG) Troika-vergadering en die Verenigde Nasies se Hersamestelling van die Magsingryping waarby soldate van die SAOG-streek betrek word.

“Die ANC-afvaardiging sou kwessies hanteer wat ʼn direkte impak het op Suid-Afrika. Dit is nie ʼn algemene gebeurtenis nie en dit het nog nooit vantevore gebeur nie,” het Dlamini benadruk.

Maroela Media het vroeër berig die DA, die VF Plus en die burgerregtegroep AfriForum het uitgevaar teen die gebruik van die lugmagstraler.

ANC-sekretaris-generaal Ace Magashule – wat geen amptelike posisie in die Suid-Afrikaanse regering beklee nie – het die afvaardiging na Zimbabwe gelei. “Die DA is gewalg deur die ANC se ooglopende misbruik van staatsmasjinerie, sy doelbewuste vertroebeling tussen staat en party en die feit dat die Suid-Afrikaanse belastingbetaler ʼn vergadering tussen twee politieke partye moes borg,” het Kobus Marais, die DA se woordvoerder oor verdediging, gesê.

Dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus, het die vlug deur die Falcon 900-straler ook as ʼn misbruik van belastinggeld bestempel en eis soos die DA dat die geld daarvoor terugbetaal moet word. Die VF Plus gaan ook ʼn klagte by die Openbare Beskermer (OB) indien om die beweerde misbruik van belastinggeld te ondersoek.

Die burgerregtegroep AfriForum het intussen ook met ʼn ondersoek na die beweerde misbruik van bates begin en sê hy sal regstappe doen indien dit aan die lig kom dat die ANC staatsbates onregmatig gebruik het. Nes die VF Plus het die organisasie ook ʼn klagte by die OB ingedien. Monique Taute, hoof van AfriForum se teenkorrupsie-eenheid, sê die Wet op Verdediging bepaal dat bates wat aan die weermag behoort slegs in uitsonderlike gevalle gebruik mag word vir ander doeleindes as die beskerming van die land. Dié gevalle moet aan sekere voorwaardes voldoen. AfriForum sê hy wil met sy ondersoek vasstel of die regte kanale gevolg is en die gebruik van staatsbates wel gemagtig was.

Die ANC se afvaardiging na Zimbabwe die afgelope week het benewens Magashule en Mapisa-Nqakula, ook Gwede Mantashe, Tony Yengeni, Lindiwe Zulu en Enoch Godongwana ingesluit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Anel ·

Almal hou virtuele vergaderings. Hoekom
nie hulle ook nie? Landsgrense is kwansuis toe. Wat was so dringend dat daar vir die spul ‘n uitsondering gemaak is? En hoekom moes almal saamgaan? En hoekom is hulle nie gekwarantyn toe hulle terug kom nie?

Hercules ·

die cANCerEff afdeling kan nie eers SA regeer nie, maar wil ander help!! ….

dis die grootste sirkus in die wêreld, met die meeste & skelmste narre wat hulsef verreik met die mensdom se belasting geld :-(

marius ·

Julle is die grootste skelms in die geskiedenis van die heelal !

Johann ·

Magsvergrypesonder weerga…en dis maar OK want die ANC sê.dis ok?

Genis ·

Korrupte klomp ANC kaders, daar is reel vir die ANC en dan wette vir die res..

Mariana ·

Lekker man lekker…….dit hou net aan en aan en aan…..

Kokerboom ·

Skaam die ANC dat hul voortgaan met hul bedrog en liegstories asook die kaping van die land se ekonomie!!!!Ons weet dis endemies aan hul karakter maar my magtig het hul geen greintjie van integriteit , skaamte en skuldgevoel?Die rowerbende gaan net ongestoord voort!!!

Kokerboom ·

Die ANC is seker die gevaarlikste mees vernietigende pandemie wat die land in sy ganse bestaan getref het!!!

Scalla ·

Weet hul nie van telecons, zoom ens nie? o ja daar kan dan nie geparty word daarna nie.

christo ·

Die Engelse woord vir die misbruik is die sogenaamde ‘ entitlement ‘. Ek ervaar die houding al hoe meer onder ‘n sekere rassegroep.

christo ·

Eers het die ANC die SAA bankrot gevlieg en al wat oorbly is lugmag vliegtuie. Verskillende reëls vir verskillende partye.

MakersMark ·

Die fly machine is soos ‘n Ses’fikile taxi daar is altyd plek vir nog een.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.