Departement sê oor rooigety aan Weskus

Die kreef wat verlede naweek by Elandsbaai uitgespoel het. Foto: Cederberg-munisipaliteit/Facebook

Sedert verlede naweek het daar nog geen kreef op strande aan die Weskus uitgespoel weens rooigety nie.

“Dit is ondanks navorsingsbevindinge wat daarop dui dat die rooigety langs die noordelike kus van St. Helenabaai, vanaf Dwarskersbos tot noord van Lambertsbaai, gestrek het en suidwaarts beweeg het en nou langs die Bergrivier-monding geleë is,” het die departement van landbou, bosbou en visserye gesê.

Talle seediere, veral kreef, het verlede Vrydag in die omgewing van Elandsbaai op strande uitgespoel. Die vloei van die rooigety na die suidelike streek van St. Helenabaai beteken dat daar waarskynlik nie meer ʼn beduidende aantal kreef sal uitspoel nie weens die kleiner kreefbevolking in daardie streek.

Daar is wel die moontlikheid dat ander seediere steeds kan uitspoel, veral by die Bergrivier-monding. “Die publiek word gewaarsku om geen vis en skulpvis wat uitgespoel het te eet nie as gevolg van die rooigety wat ernstige gesondheidsgevare kan inhou,” het die departement gesê.

Foto: Cederberg-munisipaliteit/Facebook

Die departement het verlede Sondag gesê dat die rooigety daartoe gelei het dat verskeie seediere op die strand uitgespoel het, waaronder kreef, seekat, witmossels en sommige vissoorte.

“Soos dit dikwels in die somer en laat somer die geval is, was daar die afgelope paar weke ’n opbou van groot rooi getye in die groter St. Helenabaai-streek. Hierdie algebloei van fitoplankton strek tans oor ’n gebied van tussen 50 en 60 km in die omgewing van Elandsbaai, Lambertsbaai en Doringbaai,” het die departement toe gesê.

Rooigety ontstaan wanneer alge, wat natuurlik voorkom, buite beheer begin bloei. Dit kan tot ’n suurstoftekort in die water lei of gifstowwe afskei wat dodelik vir seediere is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.