Departement sê oor voorval by St. Albans

Argieffoto

Die departement van korrektiewe dienste het Maandag gesê hy het met spyt kennis geneem van bewerings dat personeeltekorte die onderliggende oorsaak is van ʼn dodelike aanval oor die naweek by die St. Albans-gevangenis in Port Elizabeth in die Oos-Kaap.

ʼn Gevangene is Sondag in dié voorval met korrektiewe beamptes dood en ʼn tronkbewaarder met ʼn steekwond aan sy nek na ʼn hospitaal gehaas.

Volgens Singabakho Nxumalo, woordvoerder van die departement, is die beampte tans in ʼn bestendige toestand in ʼn hospitaal en bedrywighede by die gevangenis is weer bestendig.

“ʼn Gevangene het die beampte gisteroggend tydens ontbyt gesteek. Etes word een-een in selle verskaf en daarom is dit onwaar dat nege beamptes na 403 gevangenes moes kyk,” sê die departement nou.

Dit volg nadat die polisievakbond Popcru vroeër die departement oor oorbevolking in tronke geroskam het, asook beweer het dat nege beamptes ʼn groep van 403 gevangenes getel het om die nodige voorbereidings vir kosbediening te doen toe die voorval plaasgevind het.

“Ons moet dit duidelik maak dat die aanval in die medium B-afdeling van die tronk plaasgevind het en nie by die maksimumfasiliteit nie wat reeds maande lank stabiel is ná die ontplooiing van ʼn nasionale taakspan,” het Nxumalo verduidelik.

Die departement verseker almal dat hy ten volle verbind is tot die menslike behandeling van elke gevangene in ooreenstemming met die Nelson Mandela-reëls soos deur die Verenigde Nasies uiteengesit.

“Ons wil ons dank en waardering uitspreek aan ons korrektiewe beamptes wat elke dag hul lewe in gevaar stel, asook die polisie en alle ander nooddienste vir hul vinnige reaksie op gister se voorval,” het Nxumalo gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Gert ·

DKD Bestuur weet nie wat aangaan nie want nie een van hulle het al in n gevagenis gewerk nie!!!!
Oor n naweek word daar net met die helfte van die toegekende personeel by elke gevangenis gewerk, dit is waarom hierdie goed gebeur.
Lede wat in gevangenisse werk, werk onder baie moeilike en gevaarlike omstandighede en dit is waarom hierdie goed gebeur.
My simpatie aan elke lid wat moontlik betrokke is.

Hartseer ·

‘n Gevangene wat ‘n bewaarder aanval moet baie swaar gestraf word. Iets soos 25 jaar gevangenistraf moet by hul vonnis gevoeg word. Ander oortreders moet afgeskrik word wat soortgelyke dade beplan. Ek kry korrektiewe beamptes jammer. Die gevangenes het meer regte as die bewaarders!

Gert ·

DKD Bestuur weet nie wat aangaan nie want nie een van hulle het al in n gevagenis gewerk nie!!!!
Oor n naweek word daar net met die helfte van die toegekende personeel by elke gevangenis gewerk, dit is waarom hierdie goed gebeur.
Lede wat in gevangenisse werk, werk onder baie moeilike en gevaarlike omstandighede en dit is waarom hierdie goed gebeur..
My simpatie aan elke lid wat moontlik betrokke is.

Jannie van Niekerk ·

Waarom moet gevangenis “menslik” behandel word? Het hulle hul slagoffers “menslik” behandel? Die goed se straf is te lig. Hulle is nie geregtig daarop om op “menslike behandeling” aanspraak te maak nie. Mensregte aktiviste wat daarop aandring dat gevangenis “menslik” behandel word, moet verplig word om die misdadiger wat hulle “menslik” wil behandel, in hulle huise in te neem en saam met hulle kosbare familie te laat leef. Ek is seker nie een enkele menseregte aktivis sal bereid wees om dit te doen nie.

GM ·

Ek stem saam met jou, Jannie. Dis belaglik dat hulle soveel regte het, terwyl die wetsgehoorsame burgers geen regte het nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.