Departement sleep ‘Doom-profeet’ hof toe

Foto: Facebook

Foto: Facebook

Die departement van gesondheid in Limpopo het Vrydag bevestig dat hy ʼn interdik bekom het om die selferkende profeet (Detective) Lethebo Rabalago te verhoed om Doom-insekweerder op sy gemeentelede te spuit.

“Ons het verlede Vrydag die hof genader om hom te verhoed om sy lidmate met die insekweerder te spuit,” het Derrick Kganyago, woordvoerder van die departement, gesê. “Hy word tyd gegun om na vore te kom voor die hofbevel permanent gemaak word. Intussen mag hy nie sy gemeentelede met insekdoder spuit nie.”

Maroela Media het vroeër berig Rabalago van die Mount Zion General Assembly spuit sy gemeentelede in die gesig en op ander liggaamsdele met Doom om hulle van kanker, MIV/vigs en ander siektes te “genees”.

“Die praktyk is kommerwekkend, want insekdoder is nie vir menslike gebruik nie. Ons maan gemeentelede om ingeligte besluite te maak, want Doom se bestanddele het ten doel om dood te maak. Mense moet ingeligte besluite maak en weet dat hulle skade kan ly deur hul optrede,” het Kganyago bygevoeg. “Die hartseer deel is dat die effek van Doom op jou gesondheid eers later bekend kan word. Jy voel dalk nou goed, maar jy kan later siek word. Ons maan mense om versigtig te wees, want hulle kan dalk in die hospitaal beland.”

Hy het gesê Rabalago moet in Januarie in die hof verskyn om te verduidelik waarom die hofbevel nie permanent gemaak moet word nie.

Tiger Brands, die vervaardiger van Doom, het Rabalago gewaarsku om nie insekdoder op sy volgelinge te spuit nie.

Die Kommissie vir die Bevordering en Beskerming van die Regte van Kulturele, Godsdienstige en Taalgemeenskappe het gesê hy kan nie teen die sogenaamde profeet optree nie, tensy die persone wat met die insekdoder gespuit is, bereid is om ʼn klag aanhangig te maak.

Lees alle vorige berigte oor die “Doom-profeet” op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

Alida ·

En as hulle doodgaan daarvan kla die siek pateet aan vir moord.

charlene ·

Los hulle man. As hulle so dom is om te sulke nonsins te glo is dit seker maar hulle verdiende loon. Jammer maar goeie genade dis net so goed ek drink mier-gif en glo dit gaan my niere gesond maak en weer laat werk. Regtig?!?!?

Liewe heksie ·

Ag nee nou gaan julle ons van al ons grappe beroof nogi gehoor van iemand wat dood is hiervan nie

Buitestander ·

Ja-nee as jy nie van beter weet nie is dit seker aanvaarbaar met latere gevolge vir jou.

Rabes ·

Hoekom waarsku die vervaardiger van doom , Tiger Brands, vir Rabalago om nie die mense te bespuit nie? Is Doom nadelig vir die mens en indien dan moet die verkoop daarvan onmiddelik gestaak word, want die gif kom met ons in kontak wanneer dit gebruik word teen insekte. Dis ‘n soort van catch 22

Oom Kalahari ·

@ Lance, ek is geneig om jou sentimente te deel anders sou die kerk gangers dit mos nie toegelaat het of wou deurgaan. Tiger Brands as vervaardiger moet net ‘n vrywarings skrywe plaas dat sou enige vorme van beserings, permanente skade of selfs sterf gevalle plaasvind deur die optredes tot menslike gebruik, hul dan nie direk veranwoordelik gehou kan of mag word nie en geen eise geakkommodeer sal word deur enige instansie, individue of familie lede.

Jan ·

Belaglik in die ekstreem.
Stem saam met die interdik. Watter redes hierdie karakter kan aanvoer om die bekragtiging van die bevel te vermy weet nugter.

Cathy Kotze ·

Groete Griet! In die meeste lande is hierdie tipe insektegif al vir jare verbode. Tiger Brands moes dit al lankal van die mark afgehaal het.

Hierdie kêrel en die vervaardigers kan blootgestel word aan klas-aksie vervolging wat hulle miljoene rande uit die sak kan jaag.

G ·

Survival of the fittest. As jy so flippen onnosel wil wees om te staan dat iemand jou met doom spuit, is die wêreld beslis ‘n beter plek sonder jou.

Sarel Strydom ·

Eersten glo ek nie Tigerbrands kan veratwoordelik gehou word nie. Alle gevaartekens word duidelik aangetoon. Tweedens glo ek nie dit is die mense s “geloof” nie. Hulle volg die sg. profeet blindelings en met alle ywer. So word mense, wat nie van beter weet nie misbruik. Net soos die een waaroor ‘ n ander berig gaan wat vroulike lidmate laat ontklee en dag Bose Geeste uitdryf deur aan hulle ” boude” te vat of so iets.

Louwrens ·

Hier by ons is drie “profete’ wat mense iets laat drink waarna hulle dan n rot of slang opbring. Dit sou dan konsuis die bosegees wees wat uitgeryf is. Daar is sprake dat tussen R 10 000 en R 15 000 per diens ingesamel word. Ek dink die Doom-profeet is maar nog net nie op hierdie drie se vlak nie.

Alida ·

Die vervaardigers het niks om te verduidelik nie. Die aanwysings op die houer is baie duidelik. LEES dit net as jy kan bygese.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.