Departement spandeer meer as R200 miljoen op regskoste

Argieffoto (Foto: DarkoStojanovic, Pixabay)

Die Oos-Kaapse departement het van 2014 tot dusver meer as R204 miljoen aan die kantoor van die staatsprokureur oorbetaal nadat slegs vier Medico-regseise gewen is.

Vicky Knoetze, DA-LP, het gesê dié inligting het aan die lig gekom toe sy vrae gevra het in die Oos-Kaapse wetgewer.

Uit 155 Medico-regseiste teen die provinsiale departement van gesondheid die afgelope drie finansiële jare, van 2014 tot 2017, is 151 sake deur die departement geskik, en slegs vier sake is gewen, het dr. Pumza Dyantyi, LUR vir gesondheid, gesê.

Die LUR het bygevoeg indien die staatsprokureur van mening was dat die sake nie verdedig kan word nie, het die departement besluit om eerder buite die hof te skik.

Knoetze het gesê die aanname is dat die rede vir die aantal Medico-eise teen die departement, is weens nalatigheid wat spruit uit ʼn kritieke tekort aan personeel. Knoetze het gesê die geld wat vir Medico-eise betaal is, is ʼn las en het ʼn uiters nadelige invloed op die begroting van die departement.

Die LUR het in haar reaksie gesê die departement gebruik geld uit sy goedere- en dienstebegroting om vir die regseise te betaal, wat tans op R17 miljard staan.

“Die betaling van Medico-regseise het ʼn nadelige invloed op die algehele begroting en diensleweringsplanne van die departement,” het Dyantyi verduidelik. “Die departement het egter vir die 2016/17 finansiële jaar probeer om die werknemersbegroting te beskerm teen die impak van die regseise en het die goedere- en dienstebegroting gebruik om die skikkings te betaal.”

Knoetze het gesê die betalings kom neer op ongeveer R1,3 miljoen per saak. Sy voer aan die staatsprokureur vra buitensporige tariewe.

“Wat loop verkeerd by ons staatshospitale dat die staatsprokureur slegs probeer het om 3.7% van die Medico-eise die laaste drie finansiële jare te verdedig? Is die sake regtig nie verdedigbaar nie, of het die kantoor van die staatsprokureur nie die kapasiteit om hierdie sake te hanteer nie?” wou Knoetze weet.

Sy het ook besware aangeroer dat, indien die R17 miljard in Medico-regseise ook nie verdedig word nie, sal die koste die departement in duie laat stort. “Dit beteken dat die departement óf sy fasiliteite sal moet verminder of moet konsolideer, of sy dienste aan die publiek moet verminder. Uiteindelik is dit die armes, wat van staat- mediese hulp afhanklik is, wat hieronder sal ly.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Stella ·

Met al hierdie miljoene wat hulle aan eise moet betaal, hoe wil hulle nou n National Health op die been bring hier? Met sulke vrot staatshospitale?

Swartkat ·

Dis hoekom hulle van die belastingbetalers wil vat. Nalatigheid en dan is die verskoning ‘ n tekort aan personeel. Stap by enige staatshospitaal in en kyk na die swak diens wat gelewer word dan kan mens die enorme eise verstaan en hoekom die sake nie verdedig word nie

Herman ·

En aan die anderkant moet Solidariteit hul hof toe sleep om afgestudeerde studente geplaas te kry bloot omdat hul wit is. Dit alles op die belasting betaler se koste. Absolute onbevoegdheid. Die mense behoort op geen vlak van die samelewing in beheer te wees nie.

Pieterlewismuts ·

As die.Departement (sic) sy huis in orde kry en voor sy eie deur vee sal minder fondse benodig word om eise te verdedig en te betaal

stofstraat ·

Jy moet eerder self by daardie kantoor van die staatsprokureur instap en vir die hoof daarvan se jy wil kom leers trek om te sien wat aangaan. Ek dink hy sal waarskynlik n bietjie senuweeagtig word.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.