Departement ‘speel regspeletjies’ oor Limpopo-grondeis

boer-boere-trekker-plaas-boerdery-landbou

(Argieffoto: Spencer Pugh/Unsplash.com)

Die DA het aan die minister van landelike ontwikkeling en grondhervorming, Thoko Didiza, geskryf ná bewerings deur haar departement dat hy nié teen ʼn hooggeregshofbevel, wat hom beveel om die plaas Nooitgedacht in Limpopo aan David Rakgase te verkoop, gaan appelleer nie.

Die DA sê hy het inligting dat die departement dit wél gaan doen.

Maroela Media het vroeër berig Reggie Ngcobo, Didiza se woordvoerder, het gesê “die departement gaan nié appelleer teen die hooggeregshof se uitspraak nie en berus hom by die hof se besluit”.

Die omstredenheid hou verband met ʼn plaas van net meer as 3 000 ha, waarop Rakgase (78) al dekades lank boer. Hy huur die grond by die staat en sukkel al jare lank om dit te koop.

Die Pretoriase hooggeregshof het verlede maand ʼn besluit van die adjunk-direkteur-generaal van die departement van landelike ontwikkeling en grondhervorming, om die verkoop van die plaas af te keur, tersyde gestel. Die hof het beveel die regering moet die plaas binne 30 dae aan Rakgase verkoop volgens die bepalings en voorwaardes en die bedrag wat van toepassing sou wees as die plaas in 2003 aan hom verkoop sou wees.

Die spertyd verstryk vandag.

Die departement het in 2003 al Rakgase se aanbod om die plaas te koop aanvaar ná die departement hom die opsie gegee het om die plaas te koop as ʼn begunstigde van die Grond en Herverspreiding vir Landbou-ontwikkelingsprogram (GHLOP) wat intussen opgeskort is. Dié program moes voorheen benadeelde burgers help om grond en landbouwerktuie spesifiek vir landboudoeleindes aan te skaf.

Rakgase het die hof genader nadat dit aan die lig gekom het dat die regering nie die grond sal verkoop nie en eerder vir hom ʼn verdere 30-jaar-huurooreenkoms aangebied het.

Verlede maand het die hooggeregshof in ʼn waterskeidingsaak in sy guns beslis.

“Die DA soek duidelikheid oor die kwessie. As die staat beoog om sy appèl teen die uitspraak te laat vaar, moet hy dit amptelik doen en nie speletjies speel met die emosies van mnr. Rakgase nie. Hy hunker daarna om die grond te besit wat hy al bykans 30 jaar lank suksesvol bewerk en produktief bedryf,” het Annette Steyn, die DA se woordvoerder oor landelike ontwikkeling, Vrydag gesê.

“Die ANC-regering gee voor dat hy omgee oor die bemagtiging van opkomende swart boere, terwyl hulle in der waarheid oneerlike politici is wat die werklike frustrasies van mense uitbuit om stemme te werf en mag en rykdom bymekaar te maak.”

Steyn sê pres. Cyril Ramaphosa het vroeër vanjaar gesê die regering gaan begin met ʼn sogenaamde landbourevolusie wat Suid-Afrikaners gaan bemagtig om te boer. “Tog word baie opkomende boere, soos mnr. Rakgase, met elke beskikbare hulpbron in die ANC-regering se arsenaal beveg om die grond te bewerk wat hulle reeds het.”

Sy sê die ANC se “onsamehangende en teenstrydige standpunt” oor grondhervorming is die rede waarom die grondkwessie steeds nie opgelos is nie. “Daar is duisende swart boere soos mnr. Rakgase, wat al dekades lank die reg geweier word om die staatsgrond te koop waarop hulle werk en woon, en wat deur staatsbeheer as lewenslange huurderboere gehou word.”

Die DA sê as die departement dan nié teen die bevel gaan appelleer nie, moet hy begin met die proses om die grond aan Rakgase te verkoop.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

KP ·

Dit wys jou die ANC stel nie daarin belang om eienaarskap van grond aan anderskleuriges te gee nie, maar eerder om eenvoudig net die wit boere te onteien vir politieke punte.

Mieke ·

Nou wat het geword van grondgryp sonder vergoeding?
Moet hy betaal (waar die boer geen probleem mee het – welgedaan, nie korrup!) omdat dit staatsgrond is, maar as dit ‘n plaas van ‘n ander boer is, kry hy verniet????
Vra maar net……..

Rupert Ashford ·

@Mieke, lees bietjie tussen die lyne. Hierdie saak druk die regering in ‘n hoek en laat nie net hulle rassistiese onderrok uithang nie, maar laat sommer ‘n ander stuk onderklere ook van daai omgewing afval tot om hulle enkels….???? Indien hulle hierdie hofbevel eerbiedig, is hulle verplig om dan later grond wat onteien is ook oor te dra na privaat eienaars, maar dit is duidelik nie die ANC se plan nie. Die beleggingsgemeenskap hou hulle fyn dop en as hulle nou hulle hand wys weet almal die uiteindelike doel is ‘n Afrika Sosialistiese model soos elders in Afrika wat op ‘n ramp afstuur.

Frikkie Geld en huis ·

Dit gaan maar oor die ANC se kommunistiese ingesteldheid.

GL ·

Hy “boer” al 30 jaar op die plaas maar kan steeds nie die grond koop nie, hoe is dit suksesvol en produktief. Die ANC is nou in n hoek gedruk ek wil graag sien hoe gaan hulle die een hanteer.

Carl ·

Ek het 4.5jaar gewag as “Gewillige Verkoper” om my plaas se geld in 2005 uit die “veragbare” Minister te bekom. Dit het geweldige repurkussies vir my en my gesin gehad. Die “Gewillige Verkoper” beleid van destyds het goed gewerk maar burokrate soos sy, het gemaak dat dit nie werk nie. Na ‘n media veldtog en baie druk en siviele hofsake het sy uiteindelik die betaling gemagtig. As ek al onbevoegdheid gesien het, is sy die versinnebeelding daarvan. Hulle maak my naar.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.