Departement stem in om landboumeesterplan te hersien

(Argieffoto: Anja van der Merwe)

Die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling het aangedui hy is bereid om die onderhandelinge oor die meesterplan vir landbou en landbouverwerking (AAMP) te heropen om ʼn meer inklusiewe en geloofwaardige dokument te ontwikkel.

In ʼn gesprek tussen die direkteur-generaal, Mooketsa Ramasodi, en sy bestuurspan in die departement, en organisasies en sektore wat by die aanvanklike ontwikkeling van ʼn meesterplan uitgesluit was, is ʼn weg ondersoek om versoening tussen die staat se meesterplan en ʼn alternatiewe meesterplan te bewerkstellig.

Die landboumeesterplan is verlede jaar onderteken en het gemengde gevoelens uit die bedryf ontlok. Dit is spesifiek en gedetailleerd en word uit sommige oorde minstens as ʼn vertrekpunt vir die bedryf bestempel.

Saai, TLU SA, die Wildbedryf Suid-Afrika (WRSA), die werkersorganisasie NEASA, verbruikersverenigings en die Landbouwerkgewersorganisasie (LWO) het in ’n gesamentlike verklaring drie fundamentele foutlyne in die staat se meesterplan uitgelig.

  • Die gebrek aan inklusiwiteit veral omdat soveel landbouorganisasies, waaronder die bogenoemdes, uitgesluit was;
  • Die aandrang van primêre produsente dat die meesterplan vir landbou ʼn boergesentreerde plan moet wees, terwyl die staat se plan meer op landbou-ondernemings gefokus is; en
  • Die misplaaste klem op die transformasie-agenda wat winsgewendheid, volhoubaarheid en doeltreffendheid ondergeskik stel.

“WRSA wat wildboere op meer as 20 miljoen hektaar verteenwoordig, en die mees kompeterende bedryf in Suid-Afrikaanse landbou bestuur, sê hy het op elkeen van die wetenskaplike pilare van die staat se plan uitgewys watter wesenlike bydrae wildboerdery tot die doelwitte van die meesterplan kan lewer as dit meer inklusief is en op ekonomiese fondamente gevestig is,” lui die verklaring.

“NEASA het daarop gewys dat dit entrepreneurs as werkgewers is wat werk skep en dat dit dus geen sin maak om vakbonde by die ontwikkeling van ʼn meesterplan te betrek, maar werkgewers uit te sluit nie.”

Die departement het die versekering gegee dat die bestaande meesterplan nie in beton gegiet is nie en dat daar vir ʼn meer inklusiewe proses vir die beginsels in die alternatiewe meesterplan voorsiening gemaak kan word.

Die groep organisasies het met die departement ooreengekom dat landbou te belangrik is vir Suid-Afrika om met die ekonomiese volhoubaarheid van boerderye te dobbel of verder toe te laat dat nuwe toetreders op hulle plase bly misluk.

“Die groep wil ook hulle dank teenoor direkteur-generaal Ramasodi uitspreek om ʼn meer inklusiewe meesterplan daar te stel.”

Maroela Media het vroeër berig TLU SA het sedert die aanvang van die ontwikkeling van dié plan duidelik standpunt ingeneem teen die transformasie-aspek wat ʼn baie prominente rol in die plan speel. Intussen het Saai en TLU SA ʼn proses aan die gang gesit om ʼn alternatiewe plan op te stel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Harley Davidson ·

Dit is van groot belang dat die weskaap afstig vir voedsel sekerheid.

Gert ·

Al hoe meer mense in SA moet begin met die Orania mentaliteit. Word weerbaar. Doen dinge self in jou woonbuurt en werk saam om so min as moontlik afhanklik te wees van die staat.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.