Departement swyg oor Pelgrimsrus-kontrakte

Pelgrimsrus

Pelgrimsrus

Die regering in Mpumalanga wou Woensdag nie bevestig dat tenderprosesse vir huurooreenkomste in die toeristedorp Pelgrimsrus gekanselleer is nie.

“Dit sal nie raadsaam wees om verdere kommentaar te lewer nie, aangesien sommige partye direk of indirek geraak word,” het Dumisani Malamule, woordvoerder van die departement van openbare werke, gesê.

Sy departement het verlede maand gesê hy het aanbevelings deur Thuli Madonsela, die Openbare Beskermer, aanvaar nadat sy ʼn ondersoek geloods het oor beweerde wanadministrasie waar tenders vir winkelhuurooreenkomste toegeken is. Een van die aanbevelings was om die vorige kontrakte te kanselleer en met ʼn nuwe proses te begin.

Malamule het Woensdag gesê die departement het van die planne in werking gestel, maar wou nie sê watter vordering reeds gemaak is nie. Hy sê dit sal onbehoorlik wees indien die betrokke partye deur die media oor die ontwikkelinge ingelig word.

AfriSake, die Afrikaanse sakeregtewaghond, het vroeër die departement geprys dat hy die tenderprosesse gekanselleer het. Die organisasie was van plan om inwoners van Pelgrimsrus in hul regsaksie teen die departement by te staan. “Die regsgeding wat tot dusver aan die gang was sal dus nou gestaak kan word, met die veronderstelling dat ’n nuwe tenderproses ‘n aanvang sal neem,” het Cornelius Jansen van Rensburg, hoof uitvoerende beampte van AfriSake, gesê. -SAPA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.