Departement teleurgesteld oor handboek-bewerings

Foto: @democraticalliance, Twitter

Foto: @democraticalliance, Twitter

Foto’s van die bokse boeke in die pakhuis volg onderaan die berig. Die departement van onderwys in Limpopo het sy teleurstelling uitgespreek oor “valse bewerings” van handboeke, wat nie afgelewer is nie, en toe in ʼn pakhuis in Fetakgomo opgespoor is.

“Die departement wil die feite regstel,” het Elijah Mhlanga, woordvoerder vir die departement, in ʼn verklaring gesê. “Die inhoud van die bokse is nie handboeke nie. Dit is handleidings en werksboeke wat vroeër deur die provinsie gebruik is. Dit word by die Fetakgomo-onderwysersopleidingskollege gestoor, aangesien dit oortollig was uit vorige besendings.”

Hy sê die departement het geen kontrak met Edu Solutions om handboeke in Limpopo af te lewer nie.

Die Demokratiese Alliansie het Donderdag gesê hy het “duisende” onafgelewerde handboeke tydens ʼn roetine oorsigbesoek aan die opleidingskollege opgespoor.

Desiree van der Walt, woordvoerder vir die DA, het gesê veiligheidswagte het die party se afvaardiging verhoed om sy besoek af te handel, maar foto’s is van die boeke geneem (sien meegaande foto’s by hierdie berig).

“Dit is skokkend, gegewe dat skole die departement van onderwys in Limpopo moes dagvaar om seker te maak dat hul handboeke afgelewer word,” het Van der Walt gesê. “Ons het minstens 47 skole identifiseer wat nog nie al die handboeke het wat hulle benodig nie. Nou ontdek ons ʼn pakhuis wat nog vol onafgelewerde handboeke is.”

Mhlanga sê die saak word ondersoek en hy sal kommentaar lewer sodra die feite beskikbaar is.

Hy het Maandag alle bewerings, dat sommige skole in Limpopo nog nie handboeke ontvang het nie, ontken.

Meer as 6.5 miljoen handboeke is in 2014 afgelewer en sluit ʼn bykomende 406 000 handboeke in wat bestel is om tekortkomings aan te spreek. “Ons erken dat daar skole is wat in Februarie tekorte aangemeld het, en die bestellings is geplaas en afgelewer,” het hy in daardie stadium gesê.

Nog 387 000 handboeke is op 20 Maart bestel ná beweerde tekorte, het hy gesê.

Meeste van die 18 000 boeke wat glo nog by skole gekort het, was handboeke wat die skole veronderstel was om teen die einde van die jaar van leerlinge terug te kry. Hy sê meeste van die betrokke skole het versuim om die aflewerings van die handboeke na te gaan of te verifieer teen die bestellings wat hulle geplaas het. “Hulle het dit eers in 2014 gedoen,” het Mhlanga bygevoeg.

Hy sê die departement het stappe gedoen om seker te maak dat handboeke betyds afgelewer word en dat enige tekortkomings aangespreek word.

Intussen is ʼn aansoek teen die departement in die Pretoriase hooggeregshof van die hofrol geskrap. “Die regter het die partye aangemoedig om buite die hof te skik, aangesien die departement stelsels in plek gestel het om alle kwessies rakende die aflewering van handboeke in Limpopo aan te spreek,” het Mhlanga verduidelik.

Indien ʼn ooreenkoms nie bereik word nie, sal die saak op 22 April weer in die hof voorkom. -SAPA

Foto: @democraticalliance, Twitter

Foto: @democraticalliance, Twitter


Foto: @democraticalliance, Twitter

Foto: @democraticalliance, Twitter

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.