Departement ‘tevrede’ met aanlyn aansoeke

Argieffoto

Die Gautengse onderwysdepartement sê hy is tevrede met die verloop van die eerste dag van aanlyn aansoeke vir gr. 1- en gr. 8-leerders.

“Die departement het tot dusver 289 370 aansoeke ontvang. Hiervan was 136 854 aansoeke vir graad 1- en 152 516 aansoeke vir graad 8-leerders,” het die departement in ʼn verklaring gesê.

Volgens die verklaring was daar haakplekke met die stelsel, wat aandag kry. Sommige gebruikers het onder meer gekla dat hulle sogenaamde WA4-verwysingsnommers pleks van WA1-nommers gekry het. Die WA1-nommer beteken die leerder word geplaas by die skool naaste aan die ouers se huisadres, binne die voedingsgebied.

“Dit het gebeur omdat die kaarte vir voedingsgebiede weens die netwerkverbinding stadig gelaai het en ouers toe [ʼn skool] binne die 30 km-radium moes kies. Die kwessie geniet aandag. Ouers moenie paniekerig raak nie, ons werk aan die probleem. Niemand gaan benadeel word nie, veral nie diegene wat nader aan die skole woon nie,” het die departement gesê.

Die stelsel het sekere gebruikers ook na ʼn ruk weens onaktiwiteit uitgeskop en na ʼn ander stelsel herlei. Dié probleem is intussen opgelos.

In sommige gevalle kon ouers nie vir twee- of drielinge aansoek doen nie, maar dié probleem is ook uitgestryk.

Die departement het ʼn beroep op ouers gedoen om eerder Google Chrome te gebruik omdat dit makliker saam met die aanlyn aansoekstelsel werk.

Verskeie skole het reeds meer aansoeke ontvang as waarvoor hulle plek het.

Dié skole is Alberton High School, Northcliff High School, Boksburg High School, Hoërskool Akasia, Sir John Adamson High School, Rand Park High School, Hoërskool President, Mondeor High School, Hoërskool Gerrit Maritz en die Pretoria High School for Girls.

“Die aanlyn aansoekstelsel is die toekoms. Dit gee ʼn regverdige en gelyke kans vir ouers om by staatskole aansoek te doen [vir plek vir hulle kinders]. Ons is dankbaar vir ouers se oorweldigende steun en reaksie.

“Ons vra weer eens onvoorwaardelik om verskoning aan ouers wat in die eerste paar minute nadat die stelsel aangeskakel is, deur die stadige proses gefrustreer is,” het Panyaza Lesufi, LUR vir onderwys in Gauteng, gesê.

Die sperdatum vir aanlyn aansoeke vir graad 1- en graad 8-leerders is om middernag op 22 Julie.

Plasings in skole begin op 30 Augustus en duur tot 30 September.

Die departement het gesê ouers wat nie toegang tot die internet het nie of persoonlike hulp benodig, kan die departement se instapsentrums, staatskole en sekere biblioteke besoek.

Die departement het ouers ook weer gevra om aanlyn en betyds aansoek te doen.

  • Ouers wat navrae het of probleme ondervind, kan die departement se inbelsentrum by 011 355 0000 of 0800 000 789 (tolvry) kontak, of kan ʼn e-pos stuur na [email protected].

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Jakkals-prys-sy-eie-stert ·

As jy tevrede was, is jou standaarde te laag…

Louis leeu ·

Natuurlik sal hy tevrede wees,hy is nie beter gewoond,dit is hoekom sy departement n gemors is

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.