Departement toon onbevoegdheid om verpleegsters te plaas

Argieffoto (Foto: StockSnap, Pixabay)

Die vakbond Solidariteit het vandag ʼn skrywe aan die minister van gesondheid, Aaron Motsoaledi, gerig waarin die vakbond die departement maan om te voldoen aan hul statutêre verpligting om verpleegsters vir hul gemeenskapsdiensjaar te plaas. Indien die departement nie aan die verpligting kan of wil voldoen nie, moet hulle die verpleegsters vrystel van die diensjaar.

Dit volg nadat Solidariteit verskeie klagtes ontvang het van voornemende verpleegsters wat nog nie geplaas is nie. Volgens Anton van der Bijl, die hoof van Solidariteit se Sentrum vir Billike Arbeidspraktyke, is die feit dat daar met die plasingsproses gesloer word ʼn bewys van die departement se onbevoegdheid om die verpleegsters te plaas. “Dit is veral ontstellend in die lig daarvan dat dit dieselfde departement is wat reeds by verskeie geleenthede daarna verwys het dat hulle vaardigheidstekorte op die grond ervaar, maar die plasings van gekwalifiseerde verpleegsters is nie hul eerste prioriteit nie.”

Een spesifieke geval is dié van Inidri Swanepoel wat nog steeds nie ʼn finale plasing het nie. Van der Bijl wys daarop dat Swanepoel pas getroud is en sy wil uiteraard nie sonder haar man moet verhuis om elders te werk nie – daarom het sy by drie hospitale in Gauteng aansoek gedoen. Sy is egter in kennis gestel dat sy moontlik in Mahikeng, wat meer as 350 kilometer van haar tuiste is, geplaas is. “Hoe die departement so ʼn moontlike plasing op enige vlak kan regverdig, is skokkend. Dit lyk asof die departement eensydige diskriminerende plasings maak sonder om die persone se redelike omstandighede in ag te neem,” het Van der Bijl gesê.

Die departement is die geleentheid gegun om die plasings so gou as moontlik te maak of om die kandidaatverpleegsters van dié verpligting vry te stel. “Indien die departement nie aan die aanmaning gehoor gee nie, sal Solidariteit nie skroom om hom tot litigasie te wend nie,” waarsku Van der Bijl.

Gesondheidspraktisyns wat probleme met hul gemeenskapsdiensplasing ondervind, kan hul klagte per e-pos by [email protected] aanmeld om ingesluit te word by ʼn kollektiewe proses om die departement te dwing om sy statutêre pligte na te kom.

Om die volledige skrywe wat aan Aaron Motsoaledi gerig is te lees, klik hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Johann ·

Wag vir die Nasionale Gesondheids stelsel… bevoegdheid so eg aan die ANC LEGACY!!!!!!!

Frikkie Geld en huis ·

Solidariteit sal briewe moet skryf aan alle ministers, want daar is nie een bevoegde departement nie.

Eish ·

Wanneer laas het ons met uitbundige lewenslus in die land die lewe omhels?

Hanna ·

Hulle wou my in n TB hospitaal 170km vanwaar ek gewoon het plaas omrede ek “eie vervoer” op my vorm aangedui het. Geen petrol toelae nie. Na n groot baklei is ek darem in n hospitaal nader aan my huis geplaas, want ek was ook getroud en my kinders nog klein. Na daardie jaar het ek besluit om nooit weer in die staat te werk nie! Werk nou in die buiteland.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.