Departement van hoër onderwys veroordeel geweld op kampusse

uk-betogings2

Brande is tydens die betogings by die Universiteit Kaapstad gestig (Februarie 2016) Foto: Verskaf

Die onlangse onrus op die kampusse van Ikeys, Kovsies en Tuks is ʼn duidelike bewys dat daar randeiers is wat Suid-Afrika se tersiêre instansies deur middel van geweld en onwettige aktiwiteite wil destabiliseer as deel van ʼn politieke agenda, het die departement van hoër onderwys en onderrig Dinsdag gesê.

Khaye Nkwanyana, woordvoerder van die departement, het in ʼn verklaring bevestig dat die departement kennis geneem het van die gewelddadige betogings by die Universiteit van die Vrystaat (UV), die Universiteit van Pretoria (UP) en die Universiteit Kaapstad (UK). “Die departement bevestig dat alle universiteitspersoneel en studente die reg het om te betoog en hul opinies en klagtes te opper. Dit is egter hul plig om dit op ʼn vreedsame manier te doen en wat die regte en eiendom van ander beskerm,” het Nkwanyana gesê.

“Hierdie randeiers is blykbaar vasbeslote om elke probleem uit te buit as deel van ʼn poging om regmatige studente-ontevredenheid te kaap vir hul eie eng doeleindes.” Die departement se reaksie kom nadat die hutssleutel, #WhereIsBlade, Dinsdag wyd op sosiale media gebruik is in ʼn verwysing na die minister van hoër onderwys, Blade Nzimande, se stilswye oor die landwye kampusbetogings.

Volgens Nkwanyana stem die departement saam dat die rassisme-krisis aandag moet kry, maar hou hy vol dat dit op die regte manier gedoen moet word. “Ons moet die geveg teen rassisme verskerp, maar terselfdertyd steek kortsigtige anti-wit chauvinisme kop uit op sommige kampusse, terwyl ons probeer om getransformeerde en nie-rassisge universiteite en ʼn Suid-Afrikaanse samelewing te bou.”

Die departement het ʼn beroep op die bestuur van die universiteite gedoen om daadwerklik op te tree teen persone wat geweld en vandalisme op die kampusse bevorder.

“Die departement sal binnekort planne aankondig om die progressiewe voornemens van die hoëronderwysberaad te steun en om die broodnodige transformasie in die hoëronderwysstelsel te bespoedig. Die departement kan en sal nie die vernietiging van eiendom en die bedreiging van lewens duld nie en doen ʼn beroep op die Suid-Afrikaanse Polisiediens om studente, personeel, werkers en universiteiteiendom te beskerm,” het Nkwanyana gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Bruno Stef ·

Word blatante swart rassisme nou anti-wit chauvanisme genoem om die haat teenoor blankes n bietjie te kamoefleer dat dit nie so kras klink nie.

anna ·

Stem saam mt jou Bruno!! Hulle probeer dit waarlik kamoefleer. Ek het so geen respek van enige vir hulle nie .

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.