Departement van onderwys hof toe gesleep oor handboeke

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Unsplash / Barry Zhou)

Berig deur: Lucas Nowicki, GroundUP 

Die Oos-Kaapse departement van onderwys word nou deur ouers hof toe gesleep weens sy versuim om handboeke en skryfbehoeftes by meer as 3 000 skole in dié provinsie af te lewer.

Die betrokke ouers word deur aktiviste in hul saak gesteun, wat na verwagting op 15 Maart aangehoor sal word. 

“Sonder skryfbehoeftes kan leerders nie in die skoolomgewing funksioneer nie. Skryfmateriaal soos penne, potlode, notaboeke en papier is nodig om lesse, projekte en huiswerk te kan doen en is ʼn noodsaaklike komponent vir ʼn bevorderlike leeromgewing,” het Petros Majola van die Khula-ontwikkelingsprojek in die hofstukke gesê.

Die Khula-ontwikkelingsprojek is ʼn organisasie wat in Peddie, sowat 55 km suidwes van King Williamstown, geleë is. Dié organisasie, saam met bekommerde ouers en ʼn aantal onderwysers, wil hê die hof moet die departement se gebrek aan optrede onwettig verklaar.

Hulle wil ook hê die hof moet die departement opdrag gee om die leermateriaal teen 31 Maart aan alle skole te lewer. Hulle word deur die Regshulpbronsentrum (LRC) verteenwoordig.

Die respondente in die saak sluit in die hoof van die Oos-Kaapse departement van basiese onderwys, die LUR vir onderwys en die provinsiale regering.

Die departement het skole in Januarie ingelig dat daar vertragings sal wees om skryfbehoeftes en handboeke betyds vir die begin van die skooljaar af te lewer. Hulle het die skuld op “ongekende begrotingstekorte” gepak. Die departement het in ʼn memorandum gesê dat handboeke eers tussen Maart en Mei 2022 afgelewer sal word.

“Skole word dus versoek om skryfbehoeftes wat in 2021 verskaf is, te gebruik totdat hulle hul 2022-besendings ontvang,” lui dié memorandum.

Maroela Media het op 17 Februarie berig dat die skoolbeheerliggaamsforum in Makhanda (Grahamstad) besluit het om openbare skole in dié dorp te sluit nadat die departement versuim het om talle onderwysassistente en algemene skoolassistente te betaal. Die departement het ook versuim om skryfbehoeftes by die skole af te lewer.

Busisiwe Ngqina, ʼn lid van die beheerliggaam en ʼn ouer van drie kinders by die DD Siwisa Primêre Skool in Makhanda, meen dit is “vernietigend” om nie skryfbehoeftes vir leerders te hê nie.

Ngqina sê in ʼn beëdigde verklaring sy is werkloos en kan nie bekostig om skryfbehoeftes vir haar kinders te koop nie. “My kinders moes ou werkboeke van vorige jare vind en ongebruikte bladsye uitskeur net sodat hulle iets kan hê om op te skryf.” Sy sê voorts dat DD Siwisa nie die 100 handboeke ontvang het wat hy bestel het nie, wat beteken dat onderwysers voortdurend fotostate moet maak sodat leerders toegang tot die leermateriaal het.

“Dit is duur en tydrowend.”

Die LRC het ʼn brief aan die provinsiale departement gestuur waarin hulle gevra word om skryfbehoeftes voor einde Februarie aan alle skole te verskaf, en handboeke teen einde Maart. Die prokureurs het ook geëis dat die departement teen 11 Februarie duidelike tydlyne verskaf oor wanneer die items afgelewer sal word.

Toe die departement versuim het om te reageer het die LRC hom tot die hof gewend. Die regsentrum het einde verlede maand ʼn verklaring uitgereik waarin hulle sê dat die versuim om leermateriaal te verskaf ʼn “uiters negatiewe uitwerking op skole het wat nie skoolfonds betaal nie en heeltemal van die staat afhanklik is”.

Die Oos-Kaapse departement van onderwys het ten tyde van publikasie nie op GroundUp se versoeke om kommentaar gereageer nie.

  • Die berig is oorspronklik op GroundUp gepubliseer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Hector ·

En so gaan dit voort, nou al vir byna 30 jaar onder die ANC. Het hierdie tipe situasies werklik ook gedurende die apartheidsjare voorgekom?

Wondermaarnet ·

Ek moes my kinders se skryfbehoeftes self koop en handboeke tot met graad 10. Graad 11 en 12 het hulle eers handboeke verniet gekry. Ek kon nie die departement verantwoordelik hou daarvoor nie. Die ouers wat so kla is meesal dié wat rook en drink daarom is daar nie geld vir boeke nie.

Miskruier ·

Nee, dis ouers wat nie werk het nie en met ” grant” aan die lewe bly.

VaalDonkie ·

Het jy al probeer ‘n huis aan die gang hou op R3500/maand? Onthou ons praat hier van die Ooskaap.

Dirk ·

Ons moes ons kinders se eie skryfbehoeftes en boeke koop.Noe met die kleinkinders wat in n kleuterskool is moet alles nog deur die ouers gekoop word.Dit is darem maar lekker as alles net ingestop word..

Janine ·

Jip! Ons betaal huidiglik R1850 pm aan skoolfonds. Skryfbehoeftes (skrifte, skryfgoed ens) kos jaarliks tussen R2500-R3000! Dan praat ek nie eens van al die ekstras vir klasse nie. Dit sluit ook nie skoolklere in wat nog ‘n paar duisend randjies kos nie. Ons moet maar oë toeknyp en betaal. Ons kinders kry nie als verniet nie.

Toetsie ·

En so bly ons mense maar stil wat jare lank, al ons kinders se eie skryfbehoeftes moet koop… Ja, staatskool! Want ons weet as ons dit nie doen nie, sal ons kinders se leersaamheid ten gronde gaan. Dit is onkostes BUITEN die maandelikse skoolgeld wat duisende rande beloop! Weereens, ja n STAATSKOOL!! Die goewerment is net so sleg soos die ouers wat alles wil verniet HÊ… Mentaliteit van die kaders en die comrades!

Kokerboom ·

Totale onbevoegdheid en slapgattigheid van ANC. In 27 jaar het hul beplan hoe en in 27 jaar het hul land tot gemorsstatus gereduseer

Jakes ·

Dis lagwekkend want wat anders verwag n mens wanneer jou land deur clowns regeee word.

Nie Verbaas ·

En net nog n ANC floater. Die woord “hopeloos” is n volwaardige kompliment vir hulle. Slegter as sleg.

Casper ·

Sedert demokrasie gaan dit so.In al my 12 jaar van skool het ek nie eers ‘n potlood verniet gekry by die skool nie,en as jy met die verkeerde boek by die skool aankom k.k jy.Jou boeke moes net met bruin papier en plastiek oorgetrek word en daar moes met ‘n stelsel opgeskryf word.

Pietertjie ·

En binnekort moet die hof ook iewers heen gesleep word.

Swerwer ·

O maar die ander moet self ten duurste skryfbehoeftes koop en as skoolfonds nie betaal word nie, mag kinders nie skool toe gaan nie. Iewers moet daar nou geregtigheid begin plaas vind.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.