Departement verdedig hoë pos vir Zuma se dogter

Pres. Jacob Zuma in die parlement. Foto: GCIS

Pres. Jacob Zuma in die parlement. Foto: GCIS

Die departement telekommunikasie en posdienste het die aanstelling van president Jacob Zuma se 25-jarige dogter, Thuthukile Zuma, as personeelhoof van die departement, verdedig.

“Thuthukile Zuma se aanstelling is in ooreenstemming met die reëls en regulasies wat die aanstelling van mense in regeringsdepartemente reguleer,” het Siya Qoza, woordvoerder van die departement, in ‘n verklaring gesê.

“Die minister het slegs haar kapasiteit om die werk te doen sowel as haar kwalifikasies oorweeg.” Qoza sê Thuthukile se familiebande is nie in ag geneem nie.

Die Mail&Guardian het Vrydag berig dat Thuthukile “moontlik geskiedenis gemaak het as Suid-Afrika se jongste personeelhoof van ‘n minister se kantoor”. Sy verdien glo sowat R1 miljoen per jaar.

Volgens die berig is die pos moontlik ook nie geadverteer nie. Thuthukile het glo voorheen saam met Siyabonga Cwele, minister van telekommunikasie en posdienste, gewerk by die Staatveiligheidsagentskap.

Thuthukile is die jongste van president Zuma se vier dogters saam met sy eksvrou Nkosazana Dlamini-Zuma. Dlamini-Zuma is ‘n voormalige minister en is tans die voorsitter van die Afrika-Unie-kommissie.

Thuthukile het ‘n honneursgraad in Antropologie aan die Universiteit van die Witwatersrand.

Qoza sê die departement se menslike hulpbronbestuur-afdeling het die versekering gegee dat daar geen klagtes oor Thuthukile se aanstelling was nie.

Volgens die 2014 begroting vir nasionale uitgawes, is die personeelhoof van die departement van telekommunikasie en posdienste verantwoordelik vir ‘n begroting van R4,1 miljoen.

Die pos van personeelhoof word as ‘n baie magtige posisie gesien, met die posbekleër wat verantwoordelik is vir die oorhoofse bestuur van personeel sowel as die kantoor se begroting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

se-net ·

…….familiebande is nie in ag geneem nie…..???? Hie-hie! Korupsie sal saam met ons vir nog laaannnk wees!!!!

Hannelie du Plessis ·

Ag nee werklik, Maroela! Julle gebruik nie goeie Afrikaans in julle berigte nie!

“Qoza sê Thuthukile se familiebande is nie in ag geneem nie”. So het ek al vele soortgelyke foute raakgelees.

Ek dink dit is tyd dat julle ‘n bietjie na die bevoegdheid van julle proefleser kyk!

Maggie ·

Hannelie, se liewer dankie vir die gratis nuus ,en hou op negatiewe kommentaar lewer, ek dink maroela is puik, en ons kry die nuus lank voor enige ander kanale.So baie dankie maroela julle is tops, en moenie jul stuur aan sekere mense nie.Dus die sulkes wat veroorsaak het dat ons nie meer Nuus 24 het nie.

Maggie ·

Hannelie, se liewer dankie vir die gratis nuus ,en hou op negatiewe kommentaar lewer, ek dink maroela is puik, en ons kry die nuus lank voor enige ander kanale.So baie dankie maroela julle is tops, en moenie jul stuur aan sekere mense nie.Dus die sulkes wat veroorsaak het dat ons nie meer Nuus 24 het nie.

Jas van As ·

Hannelie, dit moet seker baie sleg wees om 24h per dag in jou eie geselskap te wees. Kan jy nie op ‘n beter manier kommunikeer nie? Weet jy nie die spreekwoord sê: ‘n Sagte woord keer die grimmigheid af nie?

Dereck Le Roux ·

Enige politieke aanstelling sal deur hulle verdedig word, enig kader ontplooing sal deur hulle vededig word, Robert McBride se aanstelling as hoof van Opod is deur hulle verdedig, dis net ‘n manier om vir ons middelvinger te wys en die boodskap vir ons te laat verstaan hulle maak soos hulle wil en niks en niemand sal hulle keer nie.

monika ·

genade daar is so baie kinders van Zuma waar gaan dit end. Korupsie is betrokke ek sal ook haar salaris wil verdien.

Peter Says ·

Geskok…moet nie wees nie, hierdie is net die begin, kinders, nefies, en so kan ons aangaan, nog nie een was suksesvol nie, ek gaan nie verder uitbrei nie…

Jacques ·

“Thuthukile Zuma se aanstelling is in ooreenstemming met die reëls en regulasies wat die aanstelling van mense in regeringsdepartemente reguleer” – is eitlik ñ baie eerlikke stelling, want as mens kyk na die “departemente” moet die “reëls en regulasies” voorskryf dat die kandidate:
Korrup moet wees of familie hê wat korrup is
Incompetent wees,
Geen relevante ondervinding of werklikke kwalifikasies hê nie
Geen skuldgevoelens hê om op 25 jarige ouderdom by ñ pos in te stap en mense te “bestuur” wat eintlik al jou werk doen, dit al vir 25 jaar doen en net ñ kwart van jou salaris daarvoor kry.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.