Departement verseker: ‘Geen eksamenvraestelle uitgelek’

(Foto: Maroela Media)

Sosialemediaplasings doen die afgelope tyd die ronde dat verskeie matriekeksamenvraestelle uitgelek is, maar die departement van basiese onderwys sê hy wil vinnig dié gerugte in die kiem smoor.

“Hierdie plasings is vals, misleidend en poog om onnodige verwarring en paniek te saai,” het die departement gesê.

“Die departement wil alle kandidate wat die Nasionale Senior Sertifikaat-eksamen aflê, asook hul ouers en voogde gerusstel dat geen eksamenvraestelle uitgelek is nie.”

Die departement het ook daarop gewys dat min. Angie Motshekga geen aankondiging gemaak het dat vraestelle oorgeskryf gaan word nie.

“Hierdie plasings is ʼn versinsel van die waarheid en deur en deur met kwaadwilligheid gepubliseer.”

Matriekleerders het Vrydag hul derde week van die eksamen voltooi, en volgens die departement was daar tot dusver “geen ernstige onreëlmatighede” nie.

Talle matrieks is egter ontsteld oor die chemievraestel wat hulle vroeër die week geskryf het, wat foute bevat het, en is bekommerd dat hulle hul onderskeidings kwyt sal wees.

Maroela Media het by verskeie geleenthede navrae aan die departement gestuur oor die fout, maar het nog geen terugvoer ontvang nie. TimesLive berig egter die departement het leerders verseker dat niemand deur die fout benadeel sal word nie.

Die departement sê tot dusver is 136 uit die 231 eksamenvraestelle al afgelê.

“Ons doen ʼn beroep op alle leerders om voort te gaan om hierdie belangrike eksamen met ywer af te lê,” het die departement gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.