Departement verwelkom uitspraak teen Spar-baas

Argieffoto (Foto: SparInt/Twitter)

Die eienaar van agt Spar-takke moet miljoene rand aan werkers oorbetaal vir, onder andere, onwettige aftrekkings, nienakoming van die Nasionale Wet op Minimum Lone en oortyd.

Die departement van arbeid en indiensneming het die uitspraak van die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie verwelkom. Arbitrasie is toegeken ten gunste van die departement teen agt Spar-takke wat mnr. Giannacoupolous besit, het Teboho Thejane, woordvoerder van die departement, in ‘n verklaring gesê.

Giannacoupolous moet ʼn bedrag van R11 935 478 in vergoeding oorbetaal aan die eisers.

“Die respondent moet binne 14 dae ook voldoen aan klousules 3.3 tot 3.16 van die selfde bevel. Versuim om hieraan te voldoen sal beteken dat die respondent opgelope rente moet betaal kragtens artikel 75 van die Wet op Basiese Diensvoorwaardes.”

Dit volg ná inspeksies in Mei 2019 gedoen is toe die departement ʼn reeks klagtes ontvang het van growwe oortredings van arbeidswetgewing wat by Spar-takke landswyd plaasgevind het. “Tydens die ondersoek is daar bepaal dat al die takke deur mnr. Giannacoupolous besit word.”

Tien winkels is hierdeur geraak, waarvan nege in Gauteng en een in Noordwes gebaseer is. Kwessies wat aangeroer is, sluit in versuim deur die werkgewer om indiensnemingskontrakte uit te reik, lang werksure sonder oortydvergoeding, geen verlof op Sondae of openbare vakansiedae nie, indiensneming van uitlanders en onwettige aftrekkings, het Thabane bygevoeg.

Die inspeksies is gedoen by Spar Orchards, Delyweg, Doornpoort Spar, Montana Spar, Wierda Spar, Silverton Spar, Zambezi Super Spar, Rietfontein Spar, Silverplace Spar en Safari Spar in Rustenburg. Dié takke het 565 personeel in diens.

Aggy Moiloa, inspekteur-generaal van die departement, het gesê die departement verwelkom die uitspraak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Magda ·

Is bly dat so iets uiteindelik gebeur – weet van baie ander Kompanies wat ook hulle personeel so sleg behandel, maar ongelukkig werk ek nie daar nie en die Personeel wil nie klagtes indien nie. Glo baie van hulle is seker onwettig hier, maar kan nie dit verseker se nie. Hoop maar net die eienaars van daai plekke lees hier en skrik n bietjie, en begin om hulle werknemers beter te behandel.

Scalla ·

Magda, ek stem saam maar n saak het 2 kante, dit is hoekom daar wetgewing in plek is wat werkgewer en nemer moet nakom, ons land is baie onproduktief en wil al minder werk en meer geld he per maand, onthou die werker kan sy goed vat en loop, dis sy/haar keuse.

Porseleintjie ·

Weet ook van n maatskappy wat mense so gebruik en misbruik. Lae lone, gedwonge oortyd sonder vergoeding, weeklikse betalings wat nie uitbetaal word nie. Mannipulasie aan die orde vd dag.
Niks teen eienaar slaag want geld wat stom is maak reg wat krom is.

Spook ·

Maar aan die anderkant. As jy nie van jou werksomstandighede hou nie, of dit onaangenaam is om vir die werkgewer te werk, bedank. Maklik

Alta B ·

Maklik gesê as jy nie jouself in daai mense se posisie bevind nie. Niemand werk gewillig vir so ‘n baas nie – hulle het die inkomste broodnodig en werk is bitter skaars.

Natasha ·

Nee dis glad nie so maklik nie. Werk is skaars en mense moet hul kinders voed en die dak oor hulle koppe betaal. Die eienaars MAG nie teen die basiese wet optree nie, so hoekom moet dit net daar gelaat word en jy bedank.

Porseleintjie ·

Met die werkloosheidsyfer is dit nie net vir bedank nie.

Koffiepens ·

Daar is dalk ‘n Spar in die Weste van die Moot wat dalk ook ondersoek moet word, dis nou te sê as die personeel die waarheid praat oor die belaglike loon wat hul ontvang het.

Zelda ·

Ek weet van Spar personeel wat jare en jare diens het. Wat bitter swak betaal word. ( hullle kla gedurig by my en vra of ek nie weet van ander werk nie ) Hierdie mense werk lang en harde ure. Om ‘n winkel tot op Kersdag oop te maak – so ‘n eienaar is net ‘n geldwolf. Ek bly 4 huise van ‘n klein Spar af. hulle maak 7h00 oop en 20h15 toe. Hulle werk sondag tot sondag, en alle publieke vakansie dae. Dit klink maklik om te se as dit jou nie pas nie, loop en kry ander werk, Vandag kan jy nie, as jy ‘n werk het moet jy dit hou . As Eienaars van hierdie tipe winkels net wil besef dat sonder hierdie hardwerkende pesoneel is sy / haar winkel NIKS.

123 ·

Die departement moet gerus ‘n draai maak by al die Pakistanse en Sjinese winkels. Ek is oortuig daarvan dat hul nie minumum lone of belasting betaal nie, asook onwettige immigrante in die neem.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.