Departement verwerp jeugforum se bewerings oor finansiering

Nathi Mthethwa, minister van kuns en kultuur (Foto: Ian Landsberg/AFRICAN EWS AGENCY/ANA)

Die departement van sport, kuns en kultuur het Saterdag bewerings, dat hy versuim het om die Suid-Afrikaanse Kuns en Kultuur-jeugforum te ondersteun, verwerp. Die departement het gesê hy verwag van die jeugforum om publiek om verskoning te vra vir die bewerings.

Die departement het gesê hy het tot dusver finansiering van R2,95 miljoen aan die jeugforum vrygestel. Dit sluit finansiering van R500 000 in vir die Musina-erfenisfees in Limpopo tydens die 2016/17- finansiële jaar. In 2017/18 het die departement die “Pad a Girl”-veldtog gefinansier ter waarde van R750 000.

Die departement het ook die “Voices of June 16”-projek van die jeugforum gefinansier met ʼn bedrag van R1,7 miljoen. Die departement het ʼn memorandum van verstandhouding onderteken om die projek te ondersteun. Die kontrak het gestrek van 3 September 2018 tot 31 Maart 2019. ʼn Gedeelte van die bedrag (R1,5 miljoen) is in Oktober 2018 oorbetaal en die res van die bedrag sou oorbetaal word sodra ʼn verslag met stawende dokumentasie, insluitend fakture, ingedien is.

“Dit was duidelik dat die verslag aangedui het dat die finansiering nie vir die betrokke doelwitte gebruik is nie, omdat daar nie stawende kwitansies was vir die verslag nie,” het die departement gesê. “Met verdere ondersoek, omdat die departement nie sy verpligtinge in ʼn ligte luim beskou nie en aandring op volledige aanspreeklikheid vir staatsgeld wat na begunstigdes oorbetaal word, het die jeugforum aangevoer dat ʼn inbraak by hul kantore plaasgevind het op 1 Desember 2018 waar die kwitansies gehou word.”

Volgens die departement voer die jeugforum ook aan dat die dokumente uit hul kantoor gesteel is. “Die jeugforum beweer dat een lêer, met fakture en kwitansies vir die betrokke projek, tydens die inbraak gesteel is en daarom kon hulle nie ten volle rekenskap gee vir die finansiering van die projek nie.”

Die departement eis dat die jeugforum hul verskaffers kontak en versoek dat die betrokke kwitansies weer aan hul uitgereik word. “Die jeugforum het op 30 Mei 2019 die finale finansiële verslag oor die projek ingedien. Ons verwerp dus die bewering dat ons versuim het om die organisasie te ondersteun. Die departement is ontsteld oor die misleidende inligting wat op sosialemediaplatforms versprei word en die openbare mening beïnvloed. Ons het alles in ons vermoë gedoen om seker te maak dat die verslag behoorlik gedoen word.”

Die departement het gesê hy verwag van die jeugforum om in die openbaar om verskoning te vra.

“Die departement bly verbind daartoe om verdienstelike projekte onder die Mzansi Golden Economy (MGE)-program te ondersteun. Ons sal ook steeds van begunstigdes verwag om aan hul kontraktuele verpligtinge te voldoen. Ons sal steeds ons finansiële verantwoordelikhede nakom, sonder vrees of voorreg.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Gert van Wierdapark ·

Wat n patetiese verskoning oor die diefstal van die stawende kwitansies!!! Dis absurd en lagwekkend – die geld is dus waarskynlik nie alles aangewend waarvoor dit bewillig is nie! Eish, maar dis moeilik om goeie verskoning uit te dink!

Koos Kotze ·

Ek kry die indruk hierdie departement se enigste doelwit is, om al die plek name in Suid-Afrika te verander.

Lynette ·

Alles goed en wel, maar wat het ‘Pad a Girl’ met kuns en kultuur te doen?

John ·

Nooit. Die kinders doen maar net soos die ouers. En tot nou toe is hoeveel kwotansies van die goeie ministers en hul leier heringedien met bedrae effe hoèr as dis jeug s’n?

Alida X ·

Ek weet nie hoe alles moet werk nie.
Waarom moet kuns en kultuur pa staan vir al die feeste en grille?
Hoeveel pogings het die Jeugforum aangewend om self borge te kry en fondse in te samel.
Dit is weer net ‘n geval van GEE GEE.
Wat word van die winste van so fees?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.