Departement waarsku boere teen misleidende plakkate

Die departement van arbeid het Dinsdag die publiek gewaarsku teen swendelaars wat arbeidsregplakkate in die Vrystaat verkoop.

Volgens die departement word die plakkate aan boere verkoop en boere is in sommige gevalle glo gedreig en geïntimideer om die plakkate aan te skaf. Die verdagtes het hulself glo voorgedoen as arbeidsinspekteurs.

Die verdagtes ry glo in ʼn motor met Gauteng-nommerplate rond en volgens inligting wat ontvang is, was hulle aktief in Philippolis, Edenburg, Jagersfontein, Fauresmith en Luckhoff. Die verdagtes is ook in Vrede, Steynsrus en Odendaalsrus opgemerk.

“Wat sake vererger, is dat die individue hulself as arbeidsinspekteurs voordoen. Ons wil dit onomwonde stel dat die departement onder geen omstandighede plakkate aan werkgewers sal verkoop nie. Om die waarheid te sê, enige werkgewer kan dié inligting gratis van die departement van arbeid se webwerf aflaai,” het Nomfundo Douw-Jack, hoof van die departement van arbeid in die Vrystaat, gesê.

“Ons doen ʼn beroep op enige werkgewer wat met dié individue te doen kry, om hulle dadelik by owerhede aan te meld. Die departement van arbeid en die Suid-Afrikaanse Polisiediens werk onverpoosd om hulle aan te keer,” het sy bygevoeg.

Die departement het gesê Vrystaat Landbou, ʼn boerevereniging, is ook besorg oor die misdryf en het hul ondersteuning aangebied om die oortreders aan te keer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Strategie ·

Die strategie hier is om werkers te probeer opsweep teen boere.

D V ·

Dui alles op ‘n scam – versigtig.
Vra vir leiding en beskerming van God.

1+1 ·

Ek sal graag wil weet watter politieke verbintenis hierdie swendelaars het. Op wie se inisiatief word hierdie veldtog vas stapel gestuur.

Jaco ·

Daar is geld te make wanneer daar protesoptogte is.
Intimideer net genoeg mense en siedaar – die geld stroom in.

Yollie ·

Hul was ook bedrywig hier in Middelburg Mpumalanga. Hul gee voor hul is van Mannekrag en loop rond met identifikasie wat hul onder ‘n mens se neuse rond swaai. Hul was verlede jaar ook hier bedrywig en het mens omtrent op hol gejaag omdat ons werkswinkel nie volgens “wetgewing” aan hul standaard voldoen nie. Aan die begin van die jaar was hul weereens hier bedrywig, maar hul het agressief begin word nadat ek hul gekonfronteer het, aangesien Department of Labour vir my laat weet het dat hul mens vroegtydig in kennis stel indien hul jou werkswinkel wil besoek.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.