Departement waarsku teen likwidasie van SAL

(Foto: Suid-Afrikaanse Lugdiens)

Die departement van openbare ondernemings waarsku personeel, vakbonde en krediteure van die Suid-Afrikaanse Lugdiens teen die likwidering van dié sukkelende lugdiens aangesien dit tot finansiële swaarkry en die onderwaardering van bates sal lei.

Volgens die departement moet diegene wat in ʼn posisie is om ʼn sakereddingsplan te aanvaar of te verwerp besef dat sakeredding ʼn beter uitkoms as likwidering vir belanghebbendes inhou.

Die departement se beroep volg enkele weke voordat op 14 Julie oor die SAL se lot besluit sal word.

Maroela Media het vroeër berig belanghebbendes sal op 14 Julie oor ʼn sakereddingsplan stem. Sou die sakereddingsplan nie teen 15 Julie aanvaar word nie, sal die SAL na alle waarskynlikheid gelikwideer word.

“As aandeelhouer namens die regering is ons van mening dat sakeredding ’n lewensvatbare alternatief vir likwidasie is – een wat werkbewaring sal ondersteun en die vermoë om die lugredery van die afgrond af terug te bring na die posisie waar werknemers, vakbonde en krediteure steeds kan bydra tot die Suid-Afrikaanse ekonomie en die integrasie daarvan in die wêreldekonomie,” het die departement Donderdag in ʼn verklaring gesê.

Volgens die departement sal likwidasie beteken dat werknemers ʼn maksimum van R32 000 per maand ontvang ongeag die aantal jare se diens. Daar is egter ook geen waarborg van uitbetaling nie.

Sou daar wel uitbetaal word, sal werknemers boonop eers die vergoeding ontvang wanneer die finale likwidasie en die verspreidingsbedrag goedgekeur is. Dit kan 24 maande duur, het die departement uitgewys.

In geval van sakeredding gaan 1 000 van die 4 900 werkers poste kry by die nuwe beoogde staatslugdiens, met een week se betaling vir elke jaar gewerk, en ʼn dertiende tjek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

10 Kommentare

jongste oudste gewildste
Kobus

Die regering moet wakker skrik! Ons is baie mense wat nog vas sit in verskeie lande en bitter graag wil huistoe kom! Elke dag moet ek sien hoe mense se vlugte gekanseleer word oor Suid Afrika nie ander lande se vlugte op OR Tambo wil laat land nie. Daar is mense hier in die Asia streek wat geen maar geen geld oor het nie, ons almal is regtig desperaat om by ons families uit te kom. Is daar enige iemand daar buite wat ons mens kan help?

JohanR

Vee die ANC alles deur hulle agterwerelde? Net 26 jaar gevat om een van mees gerespekteer lugdienste in 1994 te bring waar hy nou ‘n wereld grap is. Kyk maar vanaf 1994 wat se stoffasie by SAL aangestel is, en wat in beheer was….ja die 30 percenters!

Mariana

Raak ontslae van die dooie gewig. Hoeveel moet die voos belastingbetalers nog opdok.

Stefan

Luister tog asseblief vir die vabonde, netnou staak hulle weer, sommer vir ‘n lekker verhoging ook terwyl hulle besig is.

Sobymykoolkop

Hulle voel ń veer, baklei vir die gratis vliegkaarjies wat in gedrang kom, net eie belang.