Departement ‘werk hard’ om pleegsorg-agterstande in te haal

(Argieffoto: Pixabay.com)

Die departement van maatskaplike ontwikkeling het Dinsdag gereageer op “misleidende mediaberigte” dat die agterstand in pleegsorg-plasings daartoe kan lei dat pleegsorg-bevele by die hooggeregshof in Pretoria teen einde November kan verval.

Lumka Oliphant, woordvoerder van die departement, het gesê in die lig van die naderende sperdatum vir die implementering van pleegsorg-bevele werk die nasionale en provinsiale departemente van maatskaplike ontwikkeling so vinnig as moontlik om te verseker geen kind in pleegsorg val deur die krake nie.

The Citizen het vandeesweek berig die departement van maatskaplike ontwikkeling het tydens ʼn voorlegging in die parlement verlede week onthul dat teen November vanjaar meer as 128 000 hofbevele sal verval, wat beteken die betrokke kinders in die pleegsorgstelsel sal sonder toelae gelaat word.

The Citizen se artikel is onakkuraat aangesien geen pleegsorg-bevel tot op hede verval het nie,” het Oliphant gesê. “Die syfers wat aan die parlementêre portefeuljekomitee voorgelê is, is vooruitskattings van pleegsorgsake wat die provinsiale departement hard werk om te verleng voordat die pleegsorg-bevel einde November verval.

“Die artikel is geskryf en gepubliseer met die kwaadwillige bedoeling om die departement se naam swart te smeer en om paniek onder weerlose kinders en pleegsorggesinne te veroorsaak. Die artikel versuim blatant en gerieflik om te noem van die vordering wat die departement gemaak het met die implementering van ʼn langtermyn, omvattende wetlike oplossing in die pleegsorgstelsel soos bevel deur die hooggeregshof.”

Sy het gesê die departement het in sy voorlegging aan die komitee beklemtoon hy het die Kinderwysigingswet van 2019, wat in Maart vanjaar deur die kabinet goedgekeur is om aan die parlement voorgelê te word, ingedien.

Dié wysigingswet bring veranderinge aan aan artikel 159 van die Kinderwet om voorsiening te maak vir diskresie om vervalde pleegsorg-bevele te verleng of interim bevele uit te reik, terwyl klousule 60 voorsiening maak vir kwaliteitsversekering van kinderbeskermingsdienste.

Oliphant sê verder dat daar ook nie in die artikel verwys word na die vordering wat die departement gemaak het om aandag te gee aan die akute tekort van maatskaplike werkers sodat die agterstande in pleegsorg-sake ingehaal en nuwe pleegsorg-sake hanteer kan word nie.

“Tot op hede het die departement 566 maatskaplike werk- gegradueerdes ingeneem wat voordeel getrek het uit die departement se maatskaplike werk- studieprogram. Die departement het ook veteraan-maatskaplike werkers betrek om toesig aan nuwe rekrute te bied, veral oor pleegsorg verwante sake.”

Oliphant sê ander stappe wat gedoen word om aandag te gee aan die agterstand in pleegsorgsake is nouer samewerking met die departement van justisie en grondwetlike ontwikkeling, en die daarstel van toegewysde kinderhowe om die verlenging van pleegsorg-bevele wat binnekort gaan verval, te bespoedig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

John ·

Waar sou al die pleegsorg-nood vandaan kom, Elana? Tekorte aan welsynswerkers, Dom ma’s wat slim ma’s se kinders teen vergoeding … liefde teen betaling… versorg omdat laasgenoemde hulself moet uitleef? ‘n Groot krisis wag… Kinders van ouers wat nasate wil voortbring (want dit is hulle reg) maar waarvoor hul g’n druppel tyd het nie…

Hanna Hoekom ·

Ek is baie skepties oor die pleegsorg “nood” in sekere gemeenskappe in Suid-Afrika. Die maatskaplike werkers in die Waterbergstreek in Limpopo sal jou vinnig vertel dat die oorgrote meerderheid “pleegkinders” na n paar maande nerens te vinde is terwyl die sogenaamde pleegouers maandeliks die toelae eis. Die pleegkinders loop blykbaar weg… Nou ja, en so stoom die soustrein voort! Baie dankie aan elke opregte, eerlike pleegouer daar buite. Julle vul n leemte in hierdie kinders se lewens.

Kwaad ·

Ek kan ‘n boek oor hierdie aangeleentheid skryf. Daar is dalk ‘n handjievol maatskaplike werkers wat oorwerk is en omgee. Ons ondervinding? 17 Maande vandat ons die aansoekproses begin het, is ons kind steeds nie wettiglik in ons sorg nie. Die luiheid en moedswilligheid van die Departement en die se werkers is genoeg om enige mens verby moedeloos te maak. So ek wonder wat “werk hard” beteken? Dalk dat iemand dalk iets doen? Sal ongelukkig hierdie proses nooit nooit weer kan aanpak nie. Dit breek die kind se moed en die pleeg-gesin moet baklei teen ‘n instansie wat veronderstel is om in die beste belang van die kind op te tree. Hulle doen nie.

Gert van Wierdapark ·

Hul leef in n Droomwereld – die Maatskaplike werkers in die veld werk hul alies af, terwyl “hoof kantoor” papiere ronstoot en oneindige red tape toepas. Al wat daar dalk werk, is hul mae!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.