Departement wil proses vir boedels, trusts vergemaklik

Ronald Lamola (Foto: Kopano Tlape GCIS)

Dit behoort nog iewers tussen drie en ʼn half en vyf jaar te duur voordat die kantoor van die meester van die hooggeregshof na behore funksioneer. So het die minister van justisie, Ronald Lamola, in die parlement gesê in antwoord op ʼn parlementêre vraag van die DA-LP Werner Horn.

Lamola het gesê ten einde dienslewering en werksetiek in die kantoor van die meester te verbeter, word die elektroniese stelsels verbeter.

Eerstens sal registrasie van boedels en trusts voortaan aanlyn gedoen kan word. Die voorgestelde proses is volgens Lamola baie maklik. Dit stel mense wat afgestorwenes se boedels wil rapporteer, in staat om dit van buite die fisieke ligging van die kantoor van die meester te doen. Dit sal waarskynlik ʼn groot afname in die hoeveelheid besoekers aan die kantore beteken, veral danksy die groeiende toegang tot tegnologie vir die bevolking.

Dit behoort volgens die minister ook te beteken dat boedels spoediger afgehandel behoort word, en toegang tot rekords minder tydrowend en ingewikkeld sal wees.

Wat die verbetering van finansiële stelsels in die Voogdyfonds betref is daar ʼn ontwikkelingsplan om oor te skakel na ʼn beter elektroniese stelsel. Tenderaansoeke is reeds ingedien. Die nuwe stelsel behoort volgens die minister mense se lewens aansienlik te vergemaklik en kuberaanvalle teen die Voogdyfonds makliker af te weer.

Voorts word veranderings in wetgewing oor boedels, insolvensies en trusts in die vooruitsig gestel. Die Insolvensiewet, Wet op die Beheer van Trusteiendom en die Wet op Boedeladministrasie is volgens die minister nou al baie oud, en party van die beginsels daarin vervat is taamlik uitgedien, insluitende sekere bepalings oor insolvensie.

Die minister het laastens ook onderneem om wanpraktyke en korrupte aanwending van trusts hok te slaan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Boekwurm ·

Ek wag al ‘n jaar en half vir my Ma se boedel om afgehandel te word , en nou sê my prokereur die meester se kantoor het my Ma se oorspronklike testament versit en kan dit nerens kry nie! Hoe langer moet ek nou nog wag???

Adri ·

Oupa se boedel sloer nou 2 jaar en steeds is daar geen lig in die tonnel nie. Die toestand is betreurenswaardig en ‘n demonstrasie van totale onbevoegdheid en willoosheid.

Stefan ·

Dus nog so tussen 3.5 en 5 jaar.
Nog so paar afrika vertraginkies daar by en ons praat van tussen 15 en 20 jaar, weet eerlik waar nie of ek dit gaan maak nie.

Nie Verbaas ·

“Dit behoort nog iewers tussen drie en ʼn half en vyf jaar te duur voordat die kantoor van die meester van die hooggeregshof na behore funksioneer.” Die genoemde het 100% funksioneer voordat ANC aan bewind gekom het Lamola. Geen elektroniese stelsel kan vir onbevoegdheid kompenseer nie. Enige besigheid groei en gradeer op soos tye dit vereis. Hulle word nie skielik op n dag wakker en vind uit dat alle sisteme nou verouderd is nie.

Jack ·

Alles wat die mense in die staat wil doen word deur my met groot agterdog en skepties bejeen. Daar het min beter dinge gebeur nadat die stelsels wat 50 jaar plus gewerk het afgeskaf is net omdat dit deur n ander beter regering ingestel is

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.