Departemente skuld SOE R389 miljoen

President Jacob Zuma vergader met adv. Andy JL Mothibi (17 Februarie 2017) Foto: Elmond Jiyane. GCIS

President Jacob Zuma vergader met adv. Andy JL Mothibi (17 Februarie 2017) Foto: Elmond Jiyane. GCIS

Staatsinstansies skuld die spesiale ondersoekeenheid (SOE) byna R389 miljoen, het die presidensie Saterdag gesê.

Zuma het regeringsdepartemente en entiteite wat geld skuld aan die SOE, gemaan om hul skuld onmiddellik te delg om die SOE in staat te stel om behoorlik te funksioneer, het die presidensie in ʼn verklaring gesê. Zuma het Vrydag met Andy JL Mothibi, hoof van die SOE, vergader.

Dit is die eerste vergadering sedert Mothibi verlede jaar as die hoof van die eenheid aangestel is.

“Die SOE se mandaat is om finansiële verliese aan die staat, weens korrupsie, bedrog en wanadministrasie, in te win en te verhoed,” lui die verklaring. “Die SOE staan ook departemente by met sistemiese verbeterings wat dienslewering betref.”

Mothibi het Zuma in kennis gestel dat die organisasie R388 966 514 geskuld word. “Dit is onaanvaarbaar dat die instansies dié noodsaaklike finansiering weerhou en dit moet onmiddellik betaal word,” het Zuma gesê.

“Die SOE is besig met talle ondersoeke, gebaseer op die proklamasies wat die president onderteken het. Tussen 2010 en 2016 is 69 SOE-proklamasies onderteken, met 10 proklamasies in die 2016/2017 finansiële jaar, om ʼn aantal bewerings van korrupsie te ondersoek.

“Die waarde van die geld of bates wat vir die staat herwin is, beloop R22,5 miljoen in 2016/17. Sedert 2011/2012 beloop dit R279,5 miljoen,” aldus die verklaring.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Belaglik ·

So dit kos R389m om R279m te herwin?!?
Klink vir my meer soos ‘n rook skerm waar agter die REGTE steelery lusteloos voortgaan.

Sune van Heerden ·

Dagsê Belaglik

Ons vra om verskoning indien die berig verwarrend is. Die waarde van die geld of bates wat vir die staat herwin is sedert 2011/2012 beloop R279,5 miljoen.

Groetnis
Suné
nms Maroela Media

Justice ·

Belaglik is 100% korrek – die SOE se rekening teen R389m is R109.5 m miljoen of te wel 39.177% meer as wat hulle vir die staat gevorder het – `n uiters swak prestasie in ag genome hul hulpbron kostes van R389m – ek sou Andy summier ontslaan het. Dit is geen wonder dat Min. Gordhan met `n begrotings tekort sit en nou dit oorweeg om deur BTW en/of `n petrol prys verhoging ons almal verder te belas. Wie gaan nou die SOE se rekening ondersoek vir moontlike bedrog en korrupsie? Die Publieke Beskermer is geensins in die SOE se liga met hulpbron begrotings nie – miskien besef die SOE dit self.

REAList ·

And which department wants this SEO to function properly.
Lol

Cherokee ·

Ek wou om irritasie te voorkom maar die klompie uit die penarie help maar het my spaarvarkie deurgekyk tot oppie bodem en kon nie genoeg bymekaar skraap. Kontak my weer volgende jaar maar die rente gaan hoër wees.

Justice ·

Maroela ek het weer gedink. Moet die bedrag gevorder nie eerder R279.5 biljoen wees nie? Dan maak die SOE se rekening wel sin. Indien so kan Andy nog sy werk behou en well done aan hom en sy span. Hulle moet beslis na 6 jaar ernstige stappe neem teen die skuldige regerings instansies. Hulle kan begin deur die onderskeie hoofde en ministers strafregtelik in persoon te dagvaar – wat het intussen van die gelde geword wat deur die SOE namens hulle gevorder is?

Sune van Heerden ·

Dagsê Justice

Ons kan bevestig die bedrag wat die presidensie in die verklaring genoem het, is R279,5 miljoen.

Groetnis
Suné
nms Maroela Media

Alida ·

Lekker pronk ons op die foto met 700+ aanklagtes van bedrog teen ons. Gee krag!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.